Die skroef van Archimedes, ook bekend as die "waterskroef", "skroefpomp" of "Egiptiese skroef",[1] was ’n masjien wat gebruik is om water van ’n laer vlak na besproeiingslote te vervoer. Water is gepomp deur ’n skroefmeganisme binne-in ’n pyp te draai. Dit is ook vir stof soos poeier en graankorrels gebruik.
Daarbenewens kon dit krag opwek as dit deur water aangedryf is in plaas van om water op te lig.[2] Hoewel Archimedes gewoonlik die eer vir die uitvinding daarvan kry, is daar bewyse dat dit lank voor sy tyd reeds in antieke Egipte gebruik is.[3]
Die skroefpomp is die oudste bekende vervoerpomp.[1] Die eerste rekords daaroor dateer van voor die 3de eeu v.C. uit Hellenistiese Egipte.[1][4] Die Egiptiese skroef, wat gebruik is om water uit die Nylrivier te lig, het bestaan uit buise wat om ’n silinder gedraai was. ’n Latere ontwerp in Egipte het ’n skroefvormige groef gehad wat om die buitekant van ’n soliede stuk hout geloop het en die silinder is dan met stukke bord of velle metaal bedek om die oppervlakke tussen die groewe te bedek.[1]
Sommige navorsers stel voor dit is die meganisme waarmee die Hangende Tuin van Babilon, een van die sewe wonders van die antieke wêreld, natgelei is. ’n Inskripsie in wigskrif van koning Sanherib van Assirië (704-681 v.C.) word deur Stephanie Dalley[5] vertolk as ’n beskrywing van die giet van waterskroewe van brons sowat 350 jaar tevore. Dit stem ooreen met die beskrywing van die klassieke skrywer Strabo dat die Hangende Tuin met skroewe besproei is.[6]
Die skroefpomp is later van Egipte na Griekeland gebring.[1] Dit is deur Archimedes beskryf[7] tydens ’n besoek aan Egipte omstreeks 234 n.C.,[8] maar dit beteken net die Grieke het nie die apparaat voor die Hellenistiese tydperk geken nie.[7] Archimedes het nooit beweer hy het dit uitgevind nie, maar Diodorus het hom 200 jaar later die eer daarvoor gegee omdat hy geglo het Archimedes het die skroefpomp in Egipte ontwerp.[1]