Slag van Mutina

Borsbeeld van Marcus Antonius
Borsbeeld van Octavianus

Die Slag van Mutina (nie te verwar met die veldslag wat tydens die Derde Slaweoorlog plaasgevind het nie) het op 21 April 43 v.C. plaasgevind tussen die magte van Marcus Antonius en dié van Octavianus, Aulus Hirtius en Gaius Vibius Pansa Caetronianus, wat namens die Romeinse Republiek geveg het.

Aanloop

[wysig | wysig bron]

'n Jaar na die dood van Julius Caesar het onderhandelinge tussen Marcus Antonius en die Romeinse Senaat 'n doodloopstraat bereik. Antonius was nie gelukkig dat hy sy rol as prokonsul moes vervul in die Romeinse provinsie van Macedonië nie. Hy het uiteindelik besluit om vyf jaar as prokonsul in Gallia Cisalpina te dien. Daar was egter reeds 'n goewerneur in Gallia Cisalpina genaamd Decimus Iunius Brutus Albinus, en Antonius wou gebruik maak van sy Masedoniese legioene om Brutus Albinus te verdryf.

Antonius het die stad Mutina begin beleër in die hoop om Brutus Albinus te verslaan. Die leër van Octavianus is danksy die voorspraak van Marcus Tullius Cicero vanuit die Romeinse senaat na Mutina gestuur om Brutus Albinus te hulp te snel. Die konsuls Aulus Hirtius en Gaius Vibius Pansa Caetronianus is egter aan die hoof van hierdie leër geplaas omdat Octavianius nog nie 'n imperium[1] vanaf die senaat ontvang het nie. Daar was reeds 'n botsing tussen die twee partye tydens die Slag van Forum Gallorum, waartydens Pansa dodelik gewond is, maar met die hulp van Hirtius daarin kon slaag om te ontsnap.

Die twee leërs het ses dae na die slag van Forum Gallorum weer ontmoet, hierdie keer by Mutina. [2] Tydens 'n aanval op Antonius se kamp het Aulus Hirtius gesneuwel, terwyl Pansa steeds gewond was vanweë die vroeëre geveg. [3] Antonius se leër is verslaan en Octavianus is deur die senaat beveel om die legioene onder sy bevel aan Brutus Albinus oor te gee, maar hy het geweier. Octavianus het geweier om met enige van sy vader se moordenaars saam te werk. Die senaat het Decimus Brutus aangestel om Antonius te vervolg, tot groot ontevredenheid van Octavianus.

Nasleep

[wysig | wysig bron]

Antonius het met die oorblyfsels van sy leër na Gallia Transalpina gevlug waar Marcus Aemilius Lepidus besig was om rekrute te verwerf. Die twee het daar by mekaar aangesluit. Toe Octavianus hierdie nuus gehoor het, het hy besluit om met hulle kontak te maak. Hulle het mekaar in Bononia ontmoet en daar die Tweede Triumviraat gestig. [4] Die driemanskap sou nie lank duur nie, en spoedig sou daar 'n oorlog tussen Octavianus en Marcus Antonius uitbreek waarin Octavianus uiteindelik die oorwinning behaal het.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Die imperium was in antieke Rome 'n term wat gebruik is om 'n formeel toegekende militêre (en politieke) strydmag te beskryf. Die betekenis van die term het mettertyd ontwikkel. In 'n breë sin beteken dit enige militêre opperbevel wat aan 'n (ook nie-Romeinse) bevelvoerder gegee is. In 'n eng sin verwys dit na die militêre opperbevel wat toegeken is aan die hoogste republikeinse amptenare (konsul, praetor, diktator, magister equitum).
  2. Appianus, Bellum Civile III 70.
  3. Appianus, Bellum Civile III 71-72, Cassius Dio, XLVI 38.3–39.1, Suetonius , Divus Augustus 11.
  4. Appianus, Bellum Civile IV 7, Cassius Dio, XLVI 55.1-2.

Antieke bronne

[wysig | wysig bron]
  • Appianus, Bellum Civile III 71.
  • Cassius Dio, XLVI 38.3–39.1.
  • Suetonius, Divus Augustus 10.3–11.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • J. Bleicken, Augustus, Berlyn, 1998, p.114.
  • T. Holland, Rubicon, Het einde van de Romeinse Republiek, Amsterdam, 2010, pp.360–362.
  • R. Syme, The Roman Revolution, Oxford, 1939, p.174.


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.