Smørrebrød (oorspronklik smør og brød; Deens vir botter en brood) is gewoonlik 'n sny gebotterde rogbrood (rugbrød), wat 'n dik, donkerbruin brood is. Pålæg (letterlik opleg), die vulsel, kan uit winkel- of tuisgemaakte opgekerfde kouevleis of vis, kase of smere bestaan. Hierdie daaglikse handeling vorm die grondslag waarop die Dene hul oop toebroodjie, smørrebrød, vervolmaak het: 'n snytjie of twee pålæg word op die gebotterde broodjie geplaas, en dan pyntet (versier) met die regte bykosse om 'n smaaklike en aantreklike voedsel te bedien.
Die brood vorm 'n baie belangrike deel van die Skandinawiese kookkuns, veral rugbrød wat uit suurdeeg bestaan. Dit is 'n donker, swaar brood wat dikwels vooraf gesny is, in kleurverskeidenheid wissel van lig- en donkerkleurig, en tot volgraanbrood verfyn is. Dit vorm die basis van smørrebrød, wat nouverwant is aan die Sweedse smörgås.
Tradisioneel bestaan die vulsel uit marinerede sild, oftewel gesoute haring (gewoon, kryddet – gekrui, of karry – gekerrie), wat effens soeter as die Nederlandse of Duitse harings is; dungesnyde kaas van alle soorte; gesnyde komkommer, tamatie en gekookte eiers; leverpostej, oftewel varklewerpatee; dosyne soorte gesoute of verwerkte dun snye vleis, of gerookte vis soos salm; makriel in tamatiesous; gepekelde komkommer en rooi uieringe. Ertjies met mayonnaise gemeng, gesnyde gekookte aspersies en wortelblokkies, bekend as italiensk salat (letterlik Italiaanse slaai), remoulade of ander dik souse word heel bo op die oop toebroodjie geplaas. Dit word dikwels met eetgerei geniet. Dit is algemene gebruik om die skottel gesnyde brode en die vulsels daarna om die tafel te stuur sodat elkeen homself kan help.
Daar is honderde kombinasies en 'n verskeidenheid smørrebrød waarmee geëksperimenteer kan word. Hier volg 'n paar tradisionele voorbeelde: