Crew Dragon Demo-2 | |
---|---|
![]() Die Demo-2-kapsule
![]() Die Demo-2-kenteken
| |
Soort sending | Bemande vlug na IRS |
Operateur | Nasa SpaceX |
Duur | 65 dae (63 dae, 8 h 45 min gedok) |
Ruimtetuig | Crew Dragon C206 |
Vervaardiger | SpaceX |
Bemanning | Douglas G. Hurley Robert L. Behnken |
Lanseerdatum | 30 Mei 2020, 19:22:45 UTC |
Landingsdatum | 2 Augustus 2020, 18:48:06 UTC |
Landingsplek | Golf van Meksiko |
SpX-DM2 of SpaceX Demo-2 (kort vir SpaceX Demonstration Mission 2)[1][2] was SpaceX se tweede orbitale toetsvlug en eerste bemande toetsvlug met ’n Crew Dragon-ruimtetuig.[3] Dit sou op 27 Mei 2020 om 22:33:33 na die Internasionale Ruimtestasie gelanseer word, maar die lansering is minder as 17 minute voor die tyd afgelas weens gure weer.[4] Dit is met die tweede probeerslag, op Saterdag 30 Mei om 19:22:45 UTC, gelanseer. Demo-2 was die eerste bemande ruimtevlug wat in Amerika gelanseer is sedert die laaste Pendeltuigsending in 2011, waarvan Douglas G. Hurley die vlieënier was. Hurley was die bevelvoerder van Crew Dragon Demo-2; saam met hom op die vlug was Robert L. Behnken. Crew Dragon Demo-2 was ook die eerste orbitale ruimtetuig met twee persone wat sedert 1982 in Amerika gelanseer is.
Op 3 Augustus 2018 is aangekondig dat Douglas Hurley en Robert Behnken die primêre bemanningslede sal wees.[5] Albei ruimtevaarders is veterane van die Pendeltuig-program en die Demo-2-vlug was albei se derde besoek aan die ruimte.
Hulle was gerugsteun deur Michael S. Hopkins en Victor J. Glover.[6]
Met die Crew Dragon Demo-2-sending is die geskiktheid van SpaceX-hardeware vir bemande ruimtevlugte finaal bevestig,[7] asook van die Crew Dragon-ruimtetuig, die Falcon 9-vuurpyl, die lanseringsblad en SpaceX se vermoëns. Die sending het die toets van Crew Dragon se vermoëns in ’n wentelbaan deur die ruimtevaarders ingesluit.[8]
Die Crew Dragon-kapsule is op 30 Mei 2020 met ’n Falcon 9-vuurpyl van die Kennedy-ruimtesentrum se lanseringskompleks 39A gelanseer en het op 31 Mei om 14:27 UTC aan die IRS gekoppel.[9][10] Hurley en Behnken het 63 dae lank saam met die bemanningslede van Ekspedisie 63 gewerk, voordat hulle weer in die kapsule geklim en Crew Dragon ontkoppel het..[11]
Die koppelings- en ontkoppelingsoperasie is outomaties deur die Crew Dragon-ruimtetuig beheer, maar die bemanningslede het dit gemonitor vir geval dit nodig was om in te gryp.[12] Ná die ontkoppeling was die bemanningslede binne 24 uur terug in die aarde se atmosfeer en die kapsule het om 18:48:06 UTC op 2 Augustus 2020 met valskerms in die Atlantiese Oseaan geland.[13]