Vrywaring: Die mediese inligting verskaf op Wikipedia dien slegs as 'n riglyn en dra geen waarborg van feitelike korrektheid nie. Enige vrae of klagtes oor u persoonlike gesondheid behoort na 'n dokter verwys te word. |
Sponsagtige beesenkefalopatie (BSE), algemeen bekend as malbeessiekte, is 'n neurodegeneratiewe siekte by beeste.[1] Simptome sluit in abnormale gedrag, probleme met loop en massaverlies.[2] Later in die ontwikkeling van die siekte in 'n bees kan die dier nie beweeg nie.[2] Die tyd tussen infeksie en die begin van simptome is oor die algemeen vier tot vyf jaar.[1] Die tyd vanaf die begin van die simptome tot die dood is oor die algemeen weke tot maande.[1] Verspreiding na mense lei waarskynlik tot 'n variant van die Creutzfeldt-Jakob-siekte (vCJD).[3] Vanaf 2018 is altesaam 231 gevalle van vCJD wêreldwyd aangemeld.[4]
Daar word vermoed dat BSE te wyte is aan 'n infeksie deur 'n verkeerdgevoude proteïen, bekend as 'n prion.[3][5] Daar word geglo dat beeste besmet is deur vleis-en-beenmeel gevoer te word wat die oorblyfsels bevat van beeste wat spontaan die siekte ontwikkel het, of met skrapiebesmette skaapprodukte.[3][6] Die uitbraak het dwarsdeur die Verenigde Koninkryk toegeneem as gevolg van die gebruik van vleis-en-beenmeel as kosaanvulling vir jong kalwers van melkkoeie.[3][7] Gevalle word vermoed op grond van simptome en word bevestig deur die ondersoek van die brein.[2] Gevalle word as klassiek of atipies geklassifiseer, en laasgenoemde is opgedeel in H- en L-soorte.[2]
Pogings om die siekte in die Verenigde Koninkryk te voorkom, sluit in dat geen dier ouer as 30 maande as deel van menslike voeding of veevoer toegelaat word nie.[8] In Europa moet alle beeste ouer as 30 maande getoets word as hulle menslike voedsel sou word.[8] In Noord-Amerika mag weefsel wat kommer wek, naamlik die brein, rugmurg, trigeminale ganglia, ingewande, oë en mangels (ook bekend as gespesifiseerde risikomateriaal), nie by dierevoer of troeteldierkos gevoeg word nie.[9] Ongeveer 4,4 miljoen beeste is tydens die uitroeiingsprogram vanaf 1986 in die Verenigde Koninkryk van kant gemaak.[10]
In 2017 is net vier gevalle wêreldwyd aangemeld, en die toestand is byna uitgewis.[2] In die Verenigde Koninkryk, van 1986 tot 2015, is meer as 184 000 beeste gediagnoseer met die hoogtepunt van nuwe gevalle wat in 1993 voorgekom het.[3] 'n Paar duisend addisionele gevalle is in ander wêreldstreke aangemeld.[2] Daar word geglo dat 'n paar miljoen beeste met die toestand waarskynlik gedurende die uitbreek die voedselvoorraad binnegekom het.[2]
Die wetenskaplike konsensus is dat aansteeklike BSE-prionmateriaal nie deur kookprosedures vernietig word nie, wat beteken dat selfs besmette beesvoedsel wat "goed gekook is", aansteeklik kan bly. In werklikheid bly die aansteeklike middel lewensvatbaar teen 600 °C.[11][12]
In 2000 is 'n vrou van Rustenburg, Ronel Eckard, oorlede weens variante-Creutzfeldt-Jakob-siekte. Die media het gesê dit is "moontlik Suid-Afrika se eerste geval van 'n dood as gevolg van malbeessiekte."[13][14]
Die Departement van landbou, bosbou en visserye (DLBV) het in 2003 verklaar dat:[15]
Nietemin, word 'n program vir invoerbeheermaatreëls en deurlopende toesig oor siektes deur die DLBV onderhou.[15]
{{cite book}}
: |journal=
ignored (hulp)