’n Sporofiet is die stadium in die generasiewisseling-lewensiklus van plante en alge wat deur meiose die spore vorm. Dit het twee stelle chromosome (2n) en is dus diploïed. Dit ontwikkel deur mitose uit sigote, wat ná bevrugting gevorm word uit twee gamete, wat weer vervaardig word deur gametofiete (met een stel chromosome, dus n of haploïed).
Die generasiewisseling sorg dus vir ’n kringloop waar sporofiete en gametofiete om die beurt bestaan.
Die diploïede sporofiet (2n) vervaardig haploïede spore (n) deur meiose. Dié spore ontwikkel in ’n gametofiet. Die gametofiet vervaardig manlike of vroulike gamete (of albei) deur mitose. Die samesmelting van ’n manlike en vroulike gameet vorm ’n sigoot (2n), wat weer in ’n sporofiet ontwikkel.
By saadplante (bedeksadiges en naaksadiges) is die vroulike gametofiet die embriosak in die saadknop. Die manlike gametofiet is die stuifmeelkorrel aan die helmknop van die meeldraad. Wanneer die stuifmeelkorrel deur bestuiwing op die stempel van ’n blom se stamper beland, ontkiem dit en ’n generatiewe sel en vegetatiewe kern word gevorm. Die vegetatiewe kern vorm die stuifmeelbuis wat na die blom se eiersel groei. By bevrugting versmelt die eier- en generatiewe sel en vorm hulle ’n nuwe sporofiet in die vorm van ’n saad.
By spoorvormende plante soos varings is die varing self die sporofiet en die ontkiemde spore vervaardig die gametofiet. By mosse is die groen plantjie ’n onafhanklike gametofiet, terwyl die sporofiete gewoonlik aan die gametofiete geheg en van hulle afhanklik is.[1] Mos-gametofiete ontstaan uit die ontkieming van die spore.