Die StG 44 (afkorting van Sturmgewehr 44, "aanvalsgeweer 44") is 'n Duitse aanvalsgeweer wat tydens die Tweede Wêreldoorlog deur Hugo Schmeisser ontwikkel is. Dit staan ook bekend onder sy vroeë benamings as die MP 43 en MP 44 (Maschinenpistole 43 en 44). Die StG 44 was 'n verbetering van 'n vroeëre ontwerp, die Maschinenkarabiner 42(H).
Die StG 44 was die eerste suksesvolle aanvalsgeweer, met kenmerke soos ‘n intermediêre patroon, beheerbare outomatiese vuur, 'n meer kompakte ontwerp as 'n gevegsgeweer met 'n hoër vuurtempo, en wat hoofsaaklik ontwerp is om teikens binne 'n paar honderd meter te tref.[1] Ander gewere was destyds ontwerp om teikens van meer as 'n duisend meter te tref, maar daar is gevind dat dit meer as die afstand is waarin die meeste vyandelike aanslae werklik plaasgevind het.
Die StG 44 het sy rol doeltreffend vervul, veral aan die Oosfront, en bied 'n aansienlik groter volume vuur in vergelyking met standaard infanteriegewere. Die StG het grootliks die Sowjet-AK-47 beïnvloed, wat twee jaar na die einde van die oorlog in diens geneem is.[1][2] Die StG se invloed kan steeds gesien word in moderne aanvalsgewere, wat ná die Tweede Wêreldoorlog die globale standaard vir infanteriegewere geword het.[1]