Sterkstroom | |
---|---|
Koördinate: 31°34′0″S 26°33′0″O / 31.56667°S 26.55000°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Oos-Kaap |
Distrik | Chris Hani |
Munisipaliteit | Enoch Mgijima |
Stigting | 1875 |
Oppervlak | |
• Totaal | 21,1 km2 (8,1 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 7 165 |
• Digtheid | 340/km2 (900/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 4.2% |
• Indiërs/Asiërs | 0.2% |
• Bruin mense | 2.6% |
• Swart mense | 92.6% |
• Ander | 0.5% |
Taal (2011) | |
• Xhosa | 89.6% |
• Afrikaans | 6.1% |
• Engels | 2.0% |
• Ander | 2.3% |
Poskode (strate) | 5425 |
Poskode (posbusse) | 5425 |
Skakelkode | 045 |
Sterkstroom is 'n Oos-Kaapse dorpie op die Hexrivier aan die suidelike voet van die Stormberg, 272 km noordwes van Oos-Londen, op die R397-pad tussen Molteno en Queenstown.
Dit is in 1875 deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk aangelê en verkry munisipale status in 1898 toe 'n dorpsraad bestaande uit ses lede benoem is en alle regte van die dorp van die NG Kerk vir 'n bedrag van £5 000 gekoop is. Die naam verwys na die rivier.
Sterkstroom se waterskema is omstreeks 1976 voltooi. Die dorp is in 1928 van elektrisiteit voorsien en in 1966 is die elektrisiteitskema geheel en al gemoderniseer teen 'n koste van R280 000. Elektriese krag is destyds in grootmaat van Queenstown aangekoop, terwyl Molteno weer sy krag in grootmaat van Sterkstroom verkry het.
Die destydse steenkoolmyn was gedeeltelik op dorpsgrond geleë en het bygedra tot die dorp se ontwikkeling. Die steenkool was egter van 'n lae gehalte en is, soos byna al die ander steenkoolmyne in die Noordoos-Kaap, met Uniewording gesluit omdat die Kaapkolonie toe steenkool uit die ander provinsies kon kry. Nietemin het Sterkstroom geleidelik gegroei en ontwikkel en veeboerdery, waarvoor die gebied uitstekend geskik is, het steeds uitgebrei.
Teen die middel jare 70 van die 20ste eeu was al die strate in die dorp opgebou en 4,8 km daarvan is van oppervlakdreinering voorsien. Destyds is 'n nuwe nywerheidsgebied met sylyngeriewe ook uitgelê. Die dorp het indertyd beskik oor 'n munisipale biblioteek, 'n munisipale mark waar weeklikse veilings gehou is en 'n kliniek. Die stadsraad het ruim voorsiening gemaak vir ontspanningsgeriewe wat geleenthede vir rugby, krieket, atletiek, tennis, perdesport, gholf, rol- en pluimbal ingesluit het. Daar was ook 'n woonwapark en 'n speelpark vir kinders.
Sterkstroom is een van die min Suid-Afrikaanse dorpe waar die gemeente van die Gereformeerde Kerk voor dié van die NG Kerk gestig is. Sterkstroom se Gereformeerde gemeente het in 1887 tot stand gekom, ruim 27 jaar ná die eerste gemeente in die destydse Kaapkolonie, naamlik Burgersdorp. Ná Burgersdorp het ook nog gekom Middelburg, Kaap (1860), Aliwal-Noord (1864), Dordrecht (1869), Barkly-Oos (1871, twee jaar voor die NG gemeente Barkly-Oos), Steynsburg (1872) en Venterstad (1874). Sterkstroom se Gereformeerde kerk het teen 2002 net 16 belydende lidmate en 3 dooplidmate oorgehad en is dan ook in daardie jaar ontbind.
In 1977 was Sterkstroom se bevolkingsamestelling 700 wit, 200 bruin en 8 000 swart. Indertyd het die NG gemeente 155 doop- en 340 belydende lidmate gehad. Volgens die sensus van 2011 was die wit inwonertal toe 300 en die swart inwonertal 3 444. Die bruin inwoners het 106 getel. Teen 2012 het die NG dooplidmate afgeneem tot 27 en die belydende lidmate tot 135. Indien die verhouding van NG lidmate tot wit inwoners min of meer dieselfde gebly het, beteken dit die wit bevolking van die dorp het in dieselfde tyd afgeneem tot skaars 250. Tot einde 2015 het die NG lidmate nog afgeneem en wel tot 10 doop- en 94 belydende lidmate.
Reeds op 14 Augustus 1874 is die plase Kraaidoorns en Jonaskraal aan die voet van die Stormberge gekoop met die oog op die stigting van 'n gemeente hier. Dit het egter tot 24 Januarie 1891 geduur voordat dié gemeente uit die gemeente Molteno-Sterkstroom gestig kon word. Molteno-Sterkstroom is reeds in 1881 afgestig as NG gemeente Molteno. In die jaar 1891 is ook ses ander gemeentes van die NG Kerk gestig, naamlik Umtata (vandag Mthatha), Rondebosch, Tamboerskloof, Jamestown, Bothaville en Thaba Nchu. Die eerste predikant, prop. Willem Daniel Joubert, is op 24 Januarie 1893 hier georden en het in die gemeente aangebly tot en met sy dood op 15 Julie 1919.
Die hoeksteen van die nuwe kerkgebou, wat die oue wat van voor die gemeentestigting bestaan het, moes vervang, is op 21 Julie 1913 gelê en die gebou op 27 Junie 1914 ingewy.