’n Stoepa is ’n Boeddhistiese bouwerk wat die relieke van ’n heilige bevat. Dit is ’n groot, ronde struktuur wat op ’n vierkantige voetstuk gebou is. Stoepas word in groot dele van Suid- en Oos-Asië aangetref.
Stoepas was oorspronklik hope stene en grond waarin relieke van Boeddha begrawe is. Dit kan byvoorbeeld ’n haar of sleutelbeen wees, en daar word geglo dit het wonderbaarlike kragte.
Later het die bousels ontwikkel in groot, halfronde strukture met onder meer die torana (poort), die vedica, die harmika (’n vierkantige, omheinde platform bo-op), die chattrayashti en ’n stoep rondom die stoepa. Die relieke is steeds in dié geboue bewaar.
Later het die pagoda uit die stoepa ontwikkel toe die Boeddhisme in Asië versprei het. In die Weste word nouliks tussen die twee onderskei, hoewel pagodas eerder na die geboue in Oos-Asië verwys.
Die oudste bestaande stoepa is waarskynlik in Mankiala, Pakistan; dit is in die 2de eeu gebou. Die Dhamek-stoepa in Indië is omstreeks 500 gebou, maar staan op die terrein van ’n stoepa uit die 2de eeu v.C. Die hoogste stoepa is die Phra Pathom Chedi in Thailand, wat 127 meter hoog is.[1] Ook in die Katmandoe-vallei in Nepal is twee groot stoepas.
Die indrukwekkendste stoepa is die 8ste-eeuse Borobudur-monument in Java, Indonesië. Die boonste terras met rye klokvormige stoepas het Boeddha-beelde bevat wat Arūpajhāna, die sfeer van vormloosheid, uitbeeld. Die hoofstoepa is leeg en simboliseer die algehele volmaaktheid van verligting. Unesco erken dit as die grootste Boeddhistemonument in die wêreld.[2] Dit is ook die grootste Boeddhistetempel ter wêreld.[3][4]
Die ronde vorm van die stoepa is simbolies van Boeddha, wat in ’n mediterende posisie op ’n vierkantige terras sit wat ’n troon voorstel. Die vierkantige harmika is die hoof van die Boeddha. Hierop word die kroon aangetref.
In Tibet is dit gebruiklik vir gelowiges om sewe keer om die stoepa te loop terwyl hulle ’n gebedsmeul in die rondte draai. In Suidoos-Asië loop gelowiges drie maal kloksgewys om die stoepa as ’n vorm van aanbidding.
Daar is in Tibettaanse Boeddhisme agt soorte stoepas, wat elk verwys na ’n ander tyd in Boeddha se lewe.[5]