Die term storm verwys na 'n weerverskynsel in die atmosfeer van 'n planeet, wat swaar weer met sterk winde behels. Storms op die aarde word onder meer gekenmerk deur stormwind, donder en bliksems (in die geval van 'n donderbui), swaar reën (soms ook ysreën) of stormsterkte-wind wat materie beweeg, soos byvoorbeeld 'n sneeustorm, haelstorm, sandstorm, werwelwind of tornado, waarvan die drie laasgenoemdes groot hoeveelhede sand of stof opskop en soms oor groter afstande beweeg.
Werwelwinde en tornado's is selfs in staat om swaar voorwerpe op te tel en berokken groot skade in die gebiede wat deur hulle getref word.
Gewoonlik word winde met 'n snelheid van tenminste 20,8 meter per sekonde (74,9 kilometer per uur) of 12 Beaufort in die weerkunde storms genoem. Storms met windsnelhede van tenminste 32,7 meter per sekonde (117,7 kilometer per uur) of 12 Beaufort word orkane genoem.
Storms ontstaan as gevolg van groot drukverskille in die atmosfeer, wat oor 'n relatief klein afstand optree. Hierdie verskynsel is kenmerkend vir magtige laagdrukgebiede. Stormwinde tree daarnaas ook as gevolg van die topografie van 'n bepaalde gebied op, byvoorbeeld wanneer wind in 'n nou vallei gekanaliseer word soos in die geval van die Franse Mistralwind.
Daar bestaan 'n groot aantal benamings vir die verskillende tipes van storms.
Storms kom ook op ander planete voor wat oor 'n geskikte atmosfeer beskik, soos byvoorbeeld gasreuse. Die bekendste voorbeeld is Jupiter se Groot Rooi Vlek, 'n soort tropiese sikloon wat reeds tenminste 340 jaar lank waai en groter is as ons aarde. Die storm is deur die Italiaanse sterrekundige Galileo Galilei ontdek. 'n Soortgelyke, maar minder bekende storm, die sogenaamde Groot Donker Vlek, woed op die planeet Neptunus.
Die Hubble-ruimteteleskoop het in September 1994 ook foto's van die storms op die planeet Saturnus geneem, wat ontstaan sodra warm lug opstyg - net soos in die geval van 'n aardse donderbui. Die storm, wat die naam Draakstorm gekry het, het oor meer as 7 900 myl in oos-westelike rigting gestrek en was dus net so groot soos die middellyn van die aarde.