'n Stroom is 'n bewegende watermassa[1] wat deur 'n bedding en oewers begrens word.
Strome is belangrik as kanale in die watersiklus, instrumente in grondwaterhervulling en weë vir vis- en wildmigrasie. Die biologiese habitat in die onmiddellike omgewing van 'n stroom word 'n oewersone genoem. In ag genome die status van die voortgaande Holoseen-uitwissing, speel strome 'n belangrike rol in die koppeling van gefragmenteerde habitte en dus ook in die bewaring van biodiversiteit. Die studie van strome en waterweë oor die algemeen word oppervlakhidrologie genoem en is 'n kernelement van omgewingsgeografie.[2]
Strome verkry die meeste van hulle water gewoonlik van neerslag in die vorm van reën en sneeu. Die meeste van hierdie water word deur verdamping vanuit grond en watermassas, of deur die evapotranspirasie van plante weer in die atmosfeer opgeneem. Sommige water sak deur middel van infiltrasie in die grond weg en word grondwater waarvan baie uiteindelik in strome opgeneem word. 'n Gedeelte van die reën- of sneeuwater is tydelik in sneeuvelde en gletsers opgesluit en word later deur verdamping of smelting vrygestel. Die res van die water vloei as afloop oor die grondoppervlak. Die verhouding hiervan wissel na gelang van baie faktore soos wind, humiditeit, plantegroei, rotssoorte en reliëf. Hierdie afloop begin as 'n dun lagie wat plaatspoeling genoem word, en gekombineer met 'n netwerk van klein stroompies, vorm dit oppervlakafloop; wanneer hierdie water in 'n kanaal gekonsentreer word, ontstaan daar 'n stroom. Sommige spruite vind hulle oorsprong in damme of mere.
Om as 'n stroom gekwalifiseer te word, moet die vloei óf herhalend óf standhoudend wees. By niestandhoudende strome is daar vir minstens 'n gedeelte van die jaar water in die kanaal. 'n Eerste-orde stroom is 'n stroom wat nie deur enige ander periodiese of standhoudende strome gevoed word nie. Wanneer twee eerste-orde strome ineenvloei, vorm hulle 'n tweede-orde stroom. Wanneer twee tweede-orde strome saamvloei, word 'n derde-orde stroom gevorm. Strome van 'n laer orde wat by 'n hoër-orde stroom aansluit, verander nie die orde van die hoër stroom nie. As 'n eerste-orde stroom dus by 'n tweede-orde stroom aansluit, bly dit 'n tweede-orde stroom. Dit is eers wanneer 'n tweede-orde stroom met 'n ander tweede-orde stroom gekombineer word dat daar 'n derde-orde stroom gevorm word.
Die gradiënt van 'n stroom is 'n kritieke faktor in die bepaling van sy karakter en word deur die basisvlak van erosie bepaal. Die basisvlak van erosie is die punt waar die stroom óf in die see, 'n meer of dam uitmond, óf 'n gedeelte bereik waar dit 'n baie laer gradiënt het.
In geologiese terme sal 'n stroom afwaarts deur sy bedding erodeer ten einde die basisvlak van erosie te bereik. As die basisvlak laag is, sal die stroom vinnig deur die onderliggende strata sny en 'n steil gradiënt hê, en as die basisvlak relatief hoog is, sal die stroom 'n vloedvlakte en meander vorm.
Meanders is die herhalende rigtingveranderings van 'n stroom wat deur die erosie en afsetting van oewermateriale veroorsaak word. Meanders volg gewoonlik 'n kronkelpatroon. Mettertyd migreer meanders geleidelik stroom-af
Indien 'n meander se stroom-af beweging deur weerstandige materiaal belemmer word, kan 'n stroom deur die nek tussen twee bene van 'n meander erodeer om tydelik meer reguit te word. Die boogvormige watermassa wat agterbly, word 'n hoefystermeer of bayou genoem. 'n Vloed kan ook veroorsaak dat 'n meander op hierdie manier deurgesny word.
Strome het gewoonlik 'n tipiese profiel, beginnende met styl gradiënte, geen vloedvlakte nie, en min kanaalverskuiwings. Later ontwikkel daar strome met lae gradiënte, breë vloedvlaktes en uitgestrekte meanders. Die aanvanklike stadium staan soms as 'n "jong" of "onvolwasse" stroom bekend, en die latere stadium as 'n "volwasse" of "ou" stroom. 'n Stroom kan egter vir 'n hele ent kronkel voordat 'n "jong" stroomtoestand bereik word.
Strome kan sediment of alluvium dra. Die hoeveelheid vrag wat gedra kan word (kapasiteit) sowel as die grootste voorwerp wat gedra kan word (kompetensie) word albei deur die stroom se snelheid bepaal.
'n Standhoudende stroom is 'n stroom wat die hele jaar vloei.[4]:57 Gedurende jare met 'n normale reënval kan sommige standhoudende strome deurlopende vloei in slegs sekere gedeeltes van hulle stroombedding hê.[5][6]
'n Periodiese of seisoenale stroom het nie 'n konstante vloei nie, maar vloei gewoonlik gedurende die reënseisoen. 'n Voorbeeld van so 'n stroom is die Visrivier in Namibië.
Strome wat slegs gedurende en onmiddellik ná neerslag vloei, word oor die algemeen efemeries genoem. Daar is nie 'n duidelike afbakening tussen oppervlakafloop en 'n kortstondige stroom nie.[4]:58
'n Dreineerbekken is die gebied wat deur ’n rivier en sy sytakke gedreineer word. 'n Opvanggebied is 'n ander naam vir 'n dreineerbekken en verwys na die hele gebied vanaf die bergagtige landskap tot by die see wat ’n rivier en sy sytakke van water voorsien. Een voorbeeld is die Gariep-Oranjerivierdreineerbekken. 'n Dreineerbekken kan ook uit kleiner bekkens bestaan