’n Submaan is ’n natuurlike satelliet wat om ’n ander natuurlike satelliet wentel, dus die "maan van ’n maan", ook bekend as ’n subsatelliet of maanmaan.[1][2][3][4][5][6]
Uit die bestudering van natuurlike satelliete in die Sonnestelsel is afgelei dat submane wel in planeetstelsels kan voorkom. Die meeste eksoplanete is reuseplanete en sommige, soos Kepler-1625b, het ’n groot eksomaan, Kepler-1625b I.[3][7][8][9][10][11] In die Sonnestelsel het die reuseplanete – Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus – groot versamelings natuurlike satelliete. Daar kan dus redelikerwys aangeneem word submane bestaan in die Sonnestelsel, asook in ander planeetstelsels.
Geen "maanmaan" is egter nog in of buite die Sonnestelsel ontdek nie. In die meeste gevalle sal die gety-invloede van die planeet so ’n stelsel onstabiel maak.
Die moontlike waarneming[12] van ’n ringstelsel om Saturnus se maan Rea het gelei tot berekenings wat aandui ’n natuurlike satelliet wat om Rea wentel, sal ’n stabiele wentelbaan hê. Verder is vermoed die moontlike ringe is smal,[13] ’n verskynsel wat gewoonlik met ’n herdersmaan (’n maan in ’n ring) verbind word. Op beelde deur Cassini kon geen ringe egter om Rea gevind word nie.[14]