Sudbury-bekken | ||
'n Satellietfoto van die Sudbury-slagstruktuur. | ||
Slagstruktuur | ||
Ander naam | Sudbury-struktuur | |
Sekerheid | Bevestig | |
Deursnee | 130 km | |
Ouderdom | 1 849 miljoen jaar Paleoproterosoïkum | |
Boliedtipe | Chondriet | |
Ontbloot | Ja | |
Gebied | ||
Land | Kanada | |
Provinsie | Ontario | |
Ligging | ||
Die Sudbury-bekken, ook bekend as die Sudbury-struktuur, is 'n groot geologiese struktuur in Ontario, Kanada. Dit is sover bekend die derde grootste slagkrater op Aarde, asook een van die oudstes.[1] Die krater het 1,849 miljard jaar gelede, in die Paleoproterosoïese Era, gevorm.[2]
Die bekken is geleë op die Kanadese Skild in die stad Groter Sudbury, Ontario. Die voormalige munisipaliteite Rayside-Balfour, Valley East en Capreol lê in die Sudbury-bekken, wat plaaslik as "The Valley" bekend staan. Die stadskern van die voormalige stad Sudbury lê aan die suidelike buitewyke van die bekken.
'n Gedenkplaat is deur die provinsie opgerig om die ontdekking van die Sudbury-bekken te gedenk.[3]
Die Sudbury-bekken het gevorm toe 'n bolied met 'n deursnee van 10-15 km die superkontinent Nuna 1,849 miljard jaar gelede, in die Paleoproterosoïkum, tref.[2]
Puin van die slag is oor 'n gebied van 1,6 miljoen km2 verstrooi; rotsfragmente is tot so ver as Minnesota ontdek.[4][5] Volgens modelle is puin van so 'n groot slag waarskynlik wêreldwyd verstrooi,[6] maar dit het sedertdien geërodeer. Sy huidige grootte is vermoedelik 'n veel kleiner deel van die oorspronklike 130 km breë, ronde krater wat gevorm het. Daaropvolgende geologiese prosesse het die krater misvorm tot sy huidige ovaal vorm. Sudbury-bekken is die grootste slagkrater in die wêreld naas die Vredefortkoepel van 300 km in Suid-Afrika en die Chicxulub-krater van 150 km onder Yucatán, Mexiko.
Daar is geochemiese bewyse dat die bolied waarskynlik 'n chondrietasteroïde of 'n komeet met 'n chondrietsamestelling was.[7]