Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Susan Boyle | |
---|---|
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Susan Margaret Boyle |
Gebore | 1 April 1961 Blackburn, West Lothian (Skotland) |
Instrumente | Stem |
Susan Margaret Boyle (* 1 April 1961)[1] is 'n Skotse[2] sangeres wat in 2009 wêreldwye roem verwerf het met haar verskyning as deelnemer aan Britain's Got Talent.[3] Boyle het groot aandag getrek met haar eerste opvoering in die kompetisie se eerste rondte, toe sy "I Dreamed a Dream" van Les Misérables gesing het,[4] wat vir die eerste keer op 11 April 2009 in die Verenigde Koninkryk uitgesaai is.[5] In die finale rondte van die Britain's Got Talent-televisiereeks het Boyle op tweede plek geëindig, ná die danstroep Diversity.
Met Boyle se eerste verskyning op die verhoog van Britain's Got Talent het die gehoor en die beoordelaars versigtig bevrees en krities jeens haar ongepoleerde voorkoms voorgekom. Toe sy haar lewering voltooi het, is sy egter met 'n staande ovasie deur die regstreekse gehoor geprys, en het die beoordelaars deur die bank positiewe beoordelings gelewer.[6] Boyle is as "die vroumens wat Simon Cowell sy mond laat hou het" gedoop.[1] Luidens berigte is Cowell van plan om 'n platekontrak met Boyle aan te gaan op sy Syco-etiket, 'n subsidiêr van Sony Music.[7]
Die kontras tussen die gehoor se eerste indrukke van haar toe sy op die verhoog verskyn het en die ovasie wat sy daarna ontvang het, het wêreldwye geïnteresseerdheid gelok. Nuusberigte het in koerante wêreldwyd verskyn, terwyl die aantal mense wat die video's van haar oudisie op die internet gekyk het, 'n aanlyn-rekord gestel het.[8] Binne nege dae ná haar geteleviseerde debuut is video's van haar oudisie, daaropvolgende onderhoude met haar en haar 1999-interpretasie van Arthur Hamilton se "Cry Me a River" in totaal meer as 100 miljoen keer op die internet bekyk.[9]
Susan Boyle is op 1 April 1961 in Blackburn, West Lothian (Skotland) gebore[10] tot haar vader Patrick Boyle, 'n mynwerker, Tweede Wêreldoorlog-veteraan en sanger by die Bishop's Blaize, en haar moeder Bridget, 'n stenogafriese tikster.[11] Haar ouers was beide immigrante vanuit County Donegal (Ierland).[12] Sy is die jongste van vier broers en ses[13] susters.[10]
Tydens haar 47-jarige moeder[10][14][15] se moeilike geboorteskenking aan haar is sy kortliks van suurstof beroof; sy is gevolglik met leergestremdhede gediagnoseer.[2] Sy voer aan dat sy as kind afgeknou is[10][16] en by die skool as "Susie Simple" gespot is.[17]
Nadat sy die skool met weinig kwalifikasies verlaat het,[10] is sy slegs een keer in haar lewe in diens geneem toe sy as 'n leerlingkok in die kombuis van die West Lothian-kollege vir ses maande gewerk het[17] en aan regeringsopleidingsprogramme deelgeneem het.[11] Sy het soms die teater besoek om na professionele sangers te luister[11] en het self by 'n aantal plaaslike plekke opgetree.[2]
Boyle het sanglesse van stemafrigter Fred O'Neil ontvang.[10] Sy het die Edinburgse Toneelskool bygewoon en aan die Edinburgh Fringe deelgeneem.[2] Voor haar deelname aan Britain's Got Talent was haar grootste sangondervinding opgedoen deur in die kerk en karaoke in die plaaslike kroeë in haar nedersetting te sing. Sy het ook vele kere aan die televisiereeks My Kind of People deelgeneem, maar met geen sukses.[18] Sy het lank deelgeneem in haar kerk se pelgrimstogte na die Knock Shrine in County Mayo (Ierland), waar sy by die Mariaanse basilika gesing het.[19]
Haar repertoite deur die jare het liedjies soos "The Way We Were" en "I Don't Know How to Love Him" ingesluit. Britse poniekoerante het verklaar dat hulle eksklusiewe videogrepe van sommige van Boyle se vroeëre optredes besit.[20][21] In 1995 is 'n filmgreep van haar oudise vir Michael Barrymore se reeks My Kind of People[2] by die Olympia-inkopiesentrum in Glashow verfilm. Die amateurvideo wys dat Barrymore meer daarin geïnteresseerd was om haar te bespot.[22]
In 1999 het sy haar interpretasie van "Cry Me a River" vir 'n liefdadigheids-CD, wat deur die plaaslike owerheid befonds is en by 'n skool in Whitburn, West Lothian, vervaardig is, laat opneem om die Millennium te herdenk.[10][23] Slegs 1 000 kopieë van hierdie CD, getiteld Music for a Millennium Celebration, Sounds of West Lothian, is gedruk.[24] In die eerste aangetekende resensie van Boyle se sangtalent het 'n resensent vir die West Lothian Herald & Post Boyle se weergawe van "Cry Me a River" as "hartverskeurend" beskryf, en dat dit "op herhaal in my CD-speler was vandat ek die CD gekry het..."[25][26] Hierdie opname is op die internet geplaas ná Boyle se eerste geteleviseerde optrede en is deur die New York Post geprys en sy is deur daardie koerant as "nie 'n een-truuk-ponie nie" beskryf.[27] Hello! het aangevoer dat die opname haar status as 'n sangster gevestig het.[28]
In 1999 het Boyle vir die vervaardiging van 'n professionele demo-band betaal. Sy het kopieë hiervan aan platemaatskappye, radiotalentkompetisies en plaaslike en nasionale televisie gestuur, en het kopieë aan haar nabye vriende gegee. Die demo het bestaan uit weergawes van "Cry Me a River" en "Killing Me Softly with His Song", wat ná haar oudisie op die internet gelaai is.[29]
Boyle het verskeie plaaslike sangkompetisies gewen, en dit was haar moeder wat haar probeer oorreed het om vir Britain's Got Talent in te skryf en die risiko te neem om voor 'n gehoor groter as haar kerk te sing.[4] Boyle se voormalige afrigter, O'Neil, het gesê dat Boyle 'n oudisie vir The X-Factor laat vaar het omdat sy geglo het dat mense op grond van hul voorkoms gekeur is, en dat sy amper ook haar plan om vir Britain's Got Talent in te skryf, laat vaar het. O'Neil kon haar uiteindelik oorreed om die oudisie by te woon, ten spyte daarvan dat sy aan hom gesê het dat "...sy te oud was en dat dit 'n jonger persoon se spel is".[30] Boyle het gesê dat dit haar moeder se afsterwe was wat haar gemotiveer het om aan Britain's Got Talent deel te neem en 'n musikale loopbaan na te streef om hulde aan haar moeder te bring.[10] Haar optrede op die televisiereeks was die eerste keer wat sy in die publiek gesing het sedert haar moeder se sterfte.[31][32]
Haar vader het in die 1990's gesterf en haar broers en susters het die tuiste verlaat. Aangesien Boyle nooit getrou het nie, het sy haar moeder tot haar dood in 2007 op die ouderdom van 91 versorg,[14] wat die meeste van haar tyd in beslag geneem het.[14] 'n Buurman het getuig dat toe Bridget Boyle gesterf het, haar dogter vir drie of vier dae nie uitgekom het nie en ook nie die deur of telefoon beantwoord het nie.[14]
Boyle woon nog in die familiewoning, 'n vier-slaapkamer subsidiehuis, met haar 10-jarige kat, Pebbles.[10] Sy is steeds 'n vrywilliger by Our Lady of Lourdes-kerk in Blackburn (Skotland), en besoek die ou lede van die kerk by hul huise.[16]
In Augustus 2008 het Boyle aansoek gedoen om 'n oudisie in die derde reeks van Britain's Got Talent en is ná 'n voorlopige oudisie in Glasgow (Skotland) aanvaar.. Boyle het "I Dreamed a Dream" van Les Misérables opgevoer tydens die eerste rondte van die derde reeks van Britain's Got Talent, wat op 11 April 2009 uitgesaai is en deur meer as tien miljoen mense gekyk is.[33] Hierdie opvoering het opslae gewek en die video is deur tien miljoene mense op YouTube gekyk.[33] Boyle was "absolutely godsmacked" deur die kragtige reaksie.[34]
“ | Ek weet wat hulle gedink het, maar waarom moet dit saak maak solank as wat ek kan sing? Dis nie 'n skoonheidskompetisie nie. | ” |
— Susan Boyle, The Sunday Times[10] |
Boyle is well aware that the audience on Britain's Got Talent was initially hostile to her because of her appearance, but she has refused to change her image.[10]
Toe Boyle vir die eerste keer op Britain's Got Talent verskyn het, het sy gesê sy streef daarna om 'n musikale teatersangeres te word, "so suksesvol as" Elaine Paige.[35] Sedert Boyle se vertoning het Paige aangedui dat sy 'n duet met Boyle sou wou sing.[35] en het haar 'n "rolmodel vir elkeen wat 'n droom het" genoem.[36] Cameron Mackintosh, die vervaardiger van die Les Misérables-musiekblyspel, het Boyle se vertoning geprys en dit as "hartroerend, aangrypend en opheffend" beskryf.[33]
Boyle was een van die veertig handelinge wat deurgedring het na die semifinale rondte.[37] Sy het laaste op die eerste semifinaal op 24 Mei 2009 opgetree en "Memory" van die musiekblyspel Cats gesing.[38] In die openbare stemming was sy die handeling wat die meeste stemme ontvang het om na die finaal deur te dring, saam met die dansgroep Diversity.[39][40] Sy was duidelik die gunsteling om die finale rondte te wen,[41] maar het in die tweede plek ná Diversity geëindig; die televisiegehoor in die VK was 'n rekordgetal van 17,3 miljoen kykers.[42]
Op die dag ná die finaal is Boyle na die Priory-groep se private psigiatriese kliniek in Londen geneem.[42] TalkbackThames het verduidelik dat "Susan ná Saterdagaand se opvoering moeg en emosioneel uitgeput is". Haar hospitalisering het wyd aandag gelok en die Eersteminister Gordon Brown het haar sterkte met haar gesondheid toegewens.[43] Die Persklagteskommissie (Press Complaints Commission, PCC) het bekommerd geraak oor berigte oor Boyle se verstandelike toestand, en het redakteurs aan klousule 3 (privaatheid) van hul kode van persbedryf herinner.[41] Cowell het aangebied om Boyle se kontraktuele verpligting om aan die BGT-toer deel te neem, opsy te skuif. Haar familie het gesê dat "sy vir die laaste sewe weke sonder ophou kwaai slae ontvang het en dat dit 'n tol begin neem het", maar dat "haar droom nog beslis lewendig" is, aangesien sy na die onafhanklikheidsdagvieringe by die Withuis genooi is.[42]
“ | Die moderne samelewing beoordeel mense te gou op hul voorkoms. […] Daar is nie juis veel wat 'n mens daaraan kan doen nie; dit is die manier waarop hulle dink; dit is hoe hulle is. Maar dalk kan hierdie vir hulle 'n les leer, of 'n voorbeeld stel. | ” |
— Susan Boyle, The Washington Post[4] |
Boyle se skielike roem het kommentaar gelok oor waarom daar so wyd oor hierdie verhaal berig is, en wat dit impliseer. Ander het morele lesse geleer vanuit mense se reaksies op haar opvoering.[44] Collete Douglas-Home het byvoorbeeld in The Herald (Glasgow) Boyle se storie beskryf as 'n moderne gelykenis en 'n teregwysing op mense se geneigdheid om ander op grond van hul voorkoms te oordeel.[45] So-ook het Lisa Schwarzbaum in 'n artikel vir Entertainment Weekly gesê dat Boyle se optrede veral roerend was, aangesien dit 'n oorwinning vir talent en kunstigheid is in 'n samelewing wat behep is met fisiese voorkoms en aanbieding.[46]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Susan Boyle. |