Taiga

Die taiga-streke.
Siberiese taiga noord van die stad Chabarofsk.

’n Taiga is ’n streek wat gekenmerk word deur koue en vogtige naaldwoude. Dit is een van die 14 WWF-biome. Die Russiese woord тайга, wat naaldwoud beteken, kom uit Mongools[1] en Turkse[2] tale.

Die taiga-gebiede vorm saam die grootste bosgebied op aarde: dit sluit in groot dele van Skandinawië, Kanada en Rusland. Dit is die noordelikste gebied waar bome voorkom. Sowat 80 persent van bome in die vogtige bosgebiede van die taiga bestaan uit naaldbome soos denne-, lorke- en sparbome wat uitstekend teen die koue winters bestand is. Daar kom egter ook berke-, populier- en wilgerbome voor.

Veen en daarmee saamgaande plante kom ook hier voor en bedek die grootste deel van die binneland van Kanada en Noord-Rusland. In die grond is baie koolstof in die vorm van plantreste. Daar word gevrees dat wanneer die gebiede warmer word, metaan vrygestel sal word wat die kweekhuiseffek sal verhoog. [1].

Die bodem van die taiga is vanweë die plantegroei baie suur: wanneer die naalde wat van die bome val kompos word, skei dit ’n suur af wat ander soorte bome verhinder om te groei.

Onder die begrip taiga verstaan die meeste plantkundiges die noordelikste van die 3 woudgordels wat die Noordelike Halfrond omspan. Hierdie noordegordel bestaan hoofsaaklik uit dennewoude, wat ook boreale naaldbos genoem word, in teenstelling met die Alpiene naaldbos wat bo 'n bepaalde hoogte bo seespieël op die laer breedtegrade voorkom (boreaal is afgelei van Boreas, die naam van die Griekse god van die noordewind.)

Die taiga word deur die boomgrens van die toendra, wat noord daarvan geleë is, geskei en toon ten opsigte van plantegroei 'n sekere kontinuïteit oor Noord-Amerika en Noord-Eurasië. Die geslote bosse gaan na die noorde geleidelik oor in 'n oop plantegroei met verspreide bome, totdat ook dit uiteindelik plek maak vir 'n begroeiing van lae heideagtige en kruidagtige plante en struike, wat met die aangrensende toendra-plantegroei ooreenstem.

Ook die windkant van die kruine van die heuwels of hellings is meestal boomloos. Die suidelike grens van die taiga is nie so skerp nie. In Europa maak die boreale naaldbos suidwaarts stadig plek vir gemengde woude, waarin geleidelik steeds meer loofbome voorkom, en in die suidooste vir bossteppe en steppe. In die VSA is groot dele van die naaldwoude in die noorde na die koms van die Blankes vernietig, en die eens uitgestrekte woude van Noord-Kanada het ook byna heeltemal verdwyn.

Hoewel die jaarlikse neerslag in die boreale woude nie meer as 350 tot 500 mm is nie, kan die klimaat vanweë die geringe verdamping en die groot hoeveelhede smeltwater tog as vogtig beskou word. Die grond droog ook selde uit. Die aktiewe laag van die grond is gedurende die winter gewoonlik permanent tot op 'n diepte van 2 m bevrore (permafrostgrond), maar danksy die dik laag sneeu bly die grondtemperatuur ongeveer op -7˚C. Weens die koue en die gepaardgaande relatief klein aantal grondorganismes verrot die afgevalle naalde baie stadig.

Hulle vorm 'n dik tapyt op die bosgrond en wanneer dit uiteindelik verrot het, vorm dit 'n ruwe humus. Vanweë die groot hoeveelhede smeltwater is die boonste laag van die grond heeltemal uitgeloog en het dit gevolglik 'n asgrys kleur (podsolgrond).

Flora en Fauna

[wysig | wysig bron]

Die taigalandskap word deur 'n reëlmatige afwisseling van naaldwoude en moerasbosse bepaal. Op plekke waar die water stagneer vanweë 'n ondeurlatende ondergrond (permafrost) en/of 'n gebrek aan voldoende reliëf, kom onder meer wilge (Salix), populiere (Populus) en berke (Betula) voor. Verder is groot dele deur hoog – of laagveen, waarin verskeie spesies segge (Carex), wolgras (Eriophorum) en veenmosse (Sphagnum) oorheers, of deur natuurlike weiding en oop water bedek.

Die hoë waterstand in die lente, wat die deurlugtiging van die grond belemmer, en die sneeubedekking wat eers laat in die seisoen smelt, is van die faktore wat hierdie boomlose gras en kruidagtige plantegroei veroorsaak. Die relatief kort groeityd vir plante en die lae wintertemperature verskaf aan die naaldbome 'n gunstige mededingingsposisie ten opsigte van die loofhoutspesies, wat meer warmte en 'n langer groeityd nodig het.

Die soortesamestelling is in die naaldwoud van die Europese gebied armer as in die Asiatiese en Amerikaanse deel. Dit is die gevolg van die groter vermindering gedurende die ystyd van die oorspronklike Tersiêre flora in die westelike dele van Eurasië as in Oos-Asië en Amerika. Van Noorweë tot aan die Oeral oorheers veral die Skotse den (Pinus sylvestris), fynspar (Picea abies) en Picea excelsa. In die Oos-Siberiese deel word die klimaat van wes na oos al hoe meer kontinentaal en die donker Siberiese bosse bestaan oorwegend uit fynsparre, Picea obovata, Abies sibirica en Pinus cembra.

In die uiterste ooste van die kontinent oorheers bladwisselende larikse, onder meer Larix sibirica en Larix dahurica, wat nog beter teen die koue bestand is. Noord van die boomgrens word dwergden (Pinus pumila), wat naverwant is aan Pinus sibirica maar 'n baie digte groeivorm as aanpassing by die koue het, aangetref. In die gebiede waar die kans op kwaai ryp die grootste is, met ander woorde in valleie en diep komme, kom daar geen naaldbosse voor nie (jong sparre en silwersparre is baie gevoelig vir ryp).

Daar oorheers die kleinblarige loofbome, soos die papierberk (Betula papyrifera) en Populus tremuloides, wat ook langs die riviere en op plekke met 'n swak afwatering die oorheersende plantegroei is. In sulke gevalle kom dit gewoonlik voor saam met die swartspar (Picea mariana), 'n trae groeier wat in honderde jare net 'n paar meter hoog word. Verder oos neem die blomverskeidenheid toe. In Hokkaido (Japan) oorheers silwersparre die plantegroei.

Larikse is ook kenmerkend vir die Asiatiese naaldwoude (byvoorbeeld Larix japonica en Larix dahurica). In die Noord-Amerikaanse bosse kom die dennespesies (Pinus) baie minder voor, en veral silwersparre, fynsparre en, in mindere mate larikse, oorheers. Daar kan ook van wes na oos weer 'n geleidelike verandering in die soortesamestelling gesien word. Die digte begroeiing van die groen naaldbome veroorsaak gedurende die hele jaar 'n diep skadu op die bosgrond.

Die gevolg hiervan is 'n deurgaans yl, soms heeltemal afwesige ondergroei. In die Skandinawiese naaldwoude word, na gelang van die grondsoort, lokale klimaats- en ander faktore, in die ondergroei jakkalsbessies (Vaccinium vitis-idaea), gewone bosbessies (Vaccinium myrtillus) of struikheide (Calluna vulgaris) en korsmosse, of wit klawersuring (Oxalis acetosella) en ander kruide aangetref. Kenmerkend vir die Europese boreale naaldbos is onder meer ook die linnaeusklokkie (Linnaea borealis), die sewester (Trientalis europaea), die orgidee Listera cordata en (in die weste) Cornus suecica.

Die diere in die taiga moet aangepas wees by strawwe, lang winters en tye van voedselskaarste. Baie spesies trek weg, soos die baie watervoëls en ander diere wat net gedurende die somerseisoen die taiga bevolk. Baie van hulle leef uitsluitend van insekte, wat juis in die somer in besonder groot getalle voorkom.

Ander, soos die taiga-papegaai (Perisoneus infaustus), eet enigiets. Die belangrikste planteters is knaagdiere, in die Noord-Amerikaanse woude onder meer die bewer (Castor fiber), en 'n paar hertsoorte. Die knaagdiere vorm die vernaamste prooi vir vleiseters soos wolwe, linkse en marters. Die uitgestrekte bosse herberg ook nog bere en in Siberië ook tiers (Panthera tigris). Net soos in die toendra toon die bevolkingsgetalle van die taigabewonende diersoorte sterk periodieke skommelings.

Galery

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "taiga | Definition of taiga in English by Oxford Dictionaries". Oxford Dictionaries | English. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Julie 2018. Besoek op 17 Julie 2018.
  2. "Definition of taiga | Dictionary.com". www.dictionary.com (in Engels). Besoek op 12 Junie 2019.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.