Tangaroa | ||
Soort god | Polinesies | |
God van | die see | |
Ouers | Rangi en Papa | |
Sibbes | Rongo Tu Tane Tawhirimatea | |
Kinders | Punga |
Tangaroa (of Takaroa) is in die Maori-mitologie een van die belangrike gode, die god van die see. Hy is die seun van Ranginui en Papatuanuku (die Lug en Aarde).
Nadat hy en sy broers Rongo, Tu, Haumia en Tane hul ouers geskei het, word hy deur sy broer Tawhirimatea, die god van storms en winde, aangeval en hy moet in die see gaan skuil. Tangaroa is die vader van baie seewesens. Sy seun, Punga, het twee kinders, Ikatere, die voorvader van die visse, en Tu-te-wehiwehi, die voorvader van die reptiele. Uit vrees vir Tawhirimatea se aanval gaan skuil die visse in die see en die reptiele in die woude. Sedertdien het Tangaroa ’n wrok teenoor Tane, die god van die woude, omdat hy skuiling aan sy kinders gebied het (Grey 1971:1–5).
Die stryd tussen Tangaroa en Tane, die voorvader van voëls, bome en die mens, is ’n aanduiding dat die Maori die oseaan en land as teenoorgestelde ryke beskou het. Wanneer die mens op die see gaan om te hengel of reis, is hulle eintlik verteenwoordigers van Tane wat die ryk van sy vyand betree. Daarom is dit belangrik om voor so ’n ekspedisie offerandes aan Tangaroa te bring (Orbell 1998:146-147).
Volgens ’n ander weergawe van die mite is Tangaroa die seun van Temoretu, en Papa is sy vrou. Papa pleeg owerspel met Rangi terwyl Tangaroa weg is en in die daaropvolgende geveg dring Tangaroa se spies deur Rangi se bobene. Daarna trou Papa met Rangi (White 1887–1891, I:22-23).
Op Suideiland is sy naam soms Takaroa.
Tagaloa is in die tradisies van Wes-Polinesië (soos Samoa en Tonga) die opper-skeppergod. In Oos-Polinesiese kulture word hy gewoonlik beskou as op dieselfde vlak as Tane.