Die Tangata manu ("voëlman", van tangata "persoon, mens" + manu "voël") was die wenner van ’n tradisionele kompetisie op Paaseiland (ook bekend as Rapa Nui). Dit was ’n jaarlikse wedstryd om die eerste eier van die seisoen van ’n roetsterretjie (manu tara) op die eiland Motu Nui te gaan haal, daarmee terug te swem na Rapa Nui en die krans van Rano Kau na die hooggeleë dorpie Orongo uit te klim.
In die Rapa Nui-mitologie was die godheid Makemake die hoofgod van die voëlmankultus. Die drie ander gode was Hawa-tuu-take-take (die hoof van die eiers, ’n manlike god); sy vrou, Vie Hoa; en nog ’n vroulike god met die naam Vie Kanatea. Elk van dié vier het ook ’n dienskneg-god gehad wat met hom/haar verbind is. Die naam van al agt gode sou deur deelnemers gedreunsing word tydens die voorbereidingsrituele vir die eierwedstryd.
Die deelnemers, almal mans van aansien, is onthul in drome van ivi-attuas, of profete (mans of vroue). Elke deelnemer sou dan een of soms twee hopu (ander volwasse mans van ’n laer stand) aanstel wat fisiek na Motu Nui sou swem. Daar sou hulle wag op die koms van die roetsterretjies in die hoop dat hulle sal kan terugkeer met die eerste eier terwyl hul "klant", wat die eintlike deelnemer was, by die klipdorp Orongo sou wag. Die wedloop was baie gevaarlik en baie hopu is deur haaie gevang of het verdrink of van kranse afgeval. Dit lyk egter of hulle redelik maklik vervang is.[1]:262
Sodra iemand die eerste eier gekry het, sou hy na die hoogste punt op Motu Nui klim en die naam van sy klant uitroep na die hoofeiland. Hy sou roep: "Gaan skeer u hare, u het die eier!" Die naam van dié klant sou deur mense van die kuslyn af verder versprei word tot met die krans op, na waar die deelnemers sit en wag het. Die onsuksesvolle hopu sou dan saam terugswem na die hoofeiland terwyl die een wat die eerste eier gevind het, op Motu Nui sou agterbly. Hier sou hy alleen vas en dan terugswem met die eier in ’n rietmandjie wat aan sy kop vasgemaak is.
Wanneer hy die land bereik het, sou hy die steil rotskrans uitklim en, as hy nie geval het nie, die eier aan sy klant oorhandig. Dié sou reeds sy hare afgeskeer en sy kop óf wit óf rooi geverf het. Die wennerdeelnemer (nie die hopu nie) sou dan verklaar word tot die tangata-manu, hy sou die eier neem en ’n optog lei met die krans van Rano Kau af na Anakena as hy uit die westelike clans gekom het of na Rano Raraku as hy uit die oostelike clans was.
Die nuwe tangata-manu was geregtig op kos- en ander geskenke, en sy clan het die alleenreg gehad op die versameling van voëleiers en kuikens op Motu Nui. Hy sou ’n jaar lank in afsondering in ’n spesiale seremoniële huis bly. Daar sou hy vyf maande lank as tapu (heilig) beskou word; hy sou sy naels laat groei en ’n kopstuk van menslike hare dra. Hy sou in dié tyd net eet en slaap, en daar is niks meer van hom verwag nie.[1]:263
Die voëlmankultus is in die 1860's deur Christelike sendelinge onderdruk. Die oorsprong en presiese tyd daarvan is onseker, want dit is onbekend of dit die voorafgaande Moai-gebaseerde godsdiens vervang of saam daarmee bestaan het. Die Engelse argeoloog en antropoloog Katherine Routledge kon egter die name van 86 tangata-manu uitvind.[1]