| |||||
Nasionale leuse: Uhuru na Umoja (Swahili) Freedom and Unity (Engels) (Afrikaans: "Vryheid en Eenheid") | |||||
Volkslied: Mungu ibariki Afrika (Swahili) God Bless Africa (Engels) (Afrikaans: "God seën Afrika") | |||||
Hoofstad | Dodoma | ||||
Grootste stad | Dar-es-Salaam | ||||
Amptelike tale | Engels en Swahili | ||||
Regering | Unitêre dominante party presidensiële grondwetlike republiek[1][2] Samia Suluhu Philip Mpango Kassim Majaliwa | ||||
Onafhanklikheid | van die Verenigde Koninkryk 9 Desember 1961 10 Desember 1963 26 April 1964 25 April 1977 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
947 303 km2 (31ste) 365 756[3] myl2 6,4[3] | ||||
Bevolking - 2019-skatting - 2012-sensus - Digtheid |
56 313 438[4][5] (25ste) 44 928 923[6] 47,5 / km2 123,0 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2021-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2021-skatting | ||||
MOI (2019) | 0,529[8] (163ste) – laag | ||||
Gini (2017) | 40,5[9] – hoog | ||||
Geldeenheid | Sjieling (TZS )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
OAT (UTC+3) nie toegepas nie (UTC+3) | ||||
Internet-TLD | .tz | ||||
Skakelkode | +255a | ||||
a. +007 vanaf Kenia en Uganda. |
Tanzanië (Engels: Tanzania; [ˌtænzəˈniːə]; Swahili: Tanzania, [tanzaˈni.a]), amptelik die Verenigde Republiek Tanzanië (Engels: United Republic of Tanzania; Swahili: Jamhuri ya Muungano wa Tanzania), is 'n groot land in Oos-Afrika, geleë binne die Groot Mere van Afrika-streek. Dele van die land is in Suider-Afrika. Dit word begrens deur Kenia en Uganda in die noorde; Rwanda, Burundi, en die Demokratiese Republiek van die Kongo in die weste; Zambië, Malawi, Mosambiek in die suide; en deur die Indiese Oseaan aan die ooste. Kilimandjaro, Afrika se hoogste berg, is in die noordooste van Tanzanië.
Tanzanië het 'n diverse bevolking van 51,82 miljoen mense (2014-sensus)[10] wat bestaan uit verskeie etniese, taal- en godsdiensgroepe. Die land is 'n presidensiële grondwetlike republiek, en sedert 1996 is die amptelike hoofstad Dodoma, waar die president se kantoor, die nasionale vergadering en die ministeries gesetel is.[11] Dar-es-Salaam, die voormalige hoofstad, huisves steeds meeste van die regeringskantore, en is die land se grootste stad, hoofhawe, en leidende handelsentrum.[12][13][14]
Europese kolonialisme het in die laat 19de eeu begin toe die Duitse Keiserryk Duits-Oos-Afrika gestig het, wat na die Eerste Wêreldoorlog onder Britse beheer geval het. Die vasteland is in die naam van Tanganjika bestuur, terwyl Zanzibar 'n afsonderlike koloniale jurisdiksie gehad het. Nadat die twee gebiede respektiewelik in 1961 en 1963 onafhanklik geword het, is dit in April 1964 saamgesmelt as die Verenigde Republiek Tanzanië.[12]
Die naam Tanzanië is 'n saamgestelde naam uit die twee lande wat verenig is: Tanganjika en Zanzibar.[15]
Die naam Tanganjika is afgelei van die Swahili-woorde tanga ("seil") en nyika ("onbewoonde vlakte", "wildernis") wat die frase van "seil in die wildernis" skep.[16] Dit word soms as 'n verwysing na die Tanganjikameer beskou.[17]
Die naam Zanzibar is afgelei van "zengi", die naam vir die plaaslike mense (wat "swart" beteken), en die Arabiese woord "barr", wat kus of strand beteken.[18]
Met 'n oppervlakte van 947 303 vierkante kilometer,[3] is Tanzanië die 13de grootste land in Afrika, en die 31ste grootste land in die wêreld, en word gereken op die vlak van die veel groter Egipte en kleiner Nigerië.[19] Dié land grens aan Kenia en Uganda in die noorde, Rwanda, Burundi en die Demokratiese Republiek van die Kongo in die weste; en Zambië, Malawi en Mosambiek in die suide. Tanzanië lê aan die ooskus van Afrika en het 'n kuslyn aan die Indiese Oseaan van sowat 800 km lank.[20] Dit sluit verskeie eilande in; Oengoeja, Pemba en Mafia.[20] Die land spog ook met die hoogste en laagste punte in Afrika: Kilimandjaro, op 'n hoogte van 5 895 meter bokant seespieël, en die bodem van die Tanganjikameer 352 meter onder seespieël.[20]
Sowat 38% van die land is opsy gesit as beskermde gebiede vir natuurbewaring.[21] Tanzanië het 16 nasionale parke,[22] asook 'n verskeidenheid van wild- en woudreservate, insluitende die Ngorongoro Bewaringsgebied.[23][24]
Tanzanië se ligging binne die keerkringe, die hoogteverskille en die uitgestrekte watervlakke van die mere het tot gevolg dat die klimaat wissel van tropiese reënstreke tot halfwoestyn, steppe- en savanneklimaat, en Alpiene klimaatstreke met 'n ewigdurende sneeukleed (byvoorbeeld op Kilimandjaro). Die groot klimaatsverskille gee aanleiding tot 'n groot verskeidenheid plantegroeistreke – van tropiese woude tot halfwoestyn en heidegebiede.
Meer as 75% van die land het ’n gemiddelde jaartemperatuur van meer as 20 °C, maar in die bergagtige gebiede kom nagryp gereeld voor. Die jaarlikse reënval oor Sentraal-Tanzanië, die suidelike hooglande en in die gebied van die oostelike skeurvallei is benede die minimumneerslag van 750 mm wat nodig is vir die verbouing van gewasse by die onderskeie temperature.
Die onreëlmatige verspreiding van die reënval in juis hierdie gebiede het tot gevolg dat slegs (half-) nomadiese veeteelt moontlik is. Tussen Mei/Junie en November/Desember is dit oral in die land droog. Slegs in die noorde en in die kusgebied by Dar-es-Salaam is daar twee reënseisoene: die eerste is in November/Desember en die tweede is in April/Mei.
In die gebiede, wat maar 10% van die landoppervlakte beslaan, is twee oeste soms jaarliks moontlik; in die oorblywende landbougebiede is selfs net een oes per jaar rede tot blydskap.
Tekens van 'n primitiewe aapmensbeskawing sowat drie miljoen jaar gelede is al voor die Eerste Wêreldoorlog in die Olduwaikloof in Tanzanië gevind. Die oudste volke in Tanzanië is vermoedelik afstammelinge van jagters uit die Laat-Steentydperk (10 000 jaar gelede).
Ongeveer 3000 tot 2000 v.C. het die eerste Swart landbouers hulle uit die noorde in die gebied gevestig. Van ongeveer 1000 v.C. af het groepe uit Suidoos-Asië die kusgebiede begin aandoen en nuwe gewasse, soos piesangs, rys en suikerriet, bekend gestel.
Teen die begin van die Christelike jaartelling was ’n lewendige handel met die Arabiese Skiereiland aan die gang, en teen die 10de eeu was heelwat Arabiese nedersettings langs die kus gevestig. Teen die 17de eeu het die Arabiere 'n slawehandel met die binnelandse Swart volke opgebou en groot dele van die binneland is vanweë die uitvoer van tienduisende slawe ontvolk.
Na 'n Europese stryd om besit van die land het Tanzanië (toe bekend as Tanganjika) in 1891 'n Duitse kolonie geword, terwyl die eiland Zanzibar 'n Britse protektoraat geword het. Vroeg in die 20ste eeu het bloedige opstande teen die Duitse heersers in Suidwes-Tanzanië voorgekom en na die Eerste Wêreldoorlog is die land aan die Verenigde Koninkryk afgestaan. Na die Tweede Wêreldoorlog het Tanganjika 'n trustgebied van die Verenigde Nasies geword en in 1961 het die land sy onafhanklikheid gekry.
Die inheemse bevolking van Oos-Afrika stam skynbaar van die Khoisan-sprekende Hadza en Sandawe jagter-versamelaars van Tanzanië af.[25]
Die eerste golf van migrasie was die suidelike Koesjitiese-sprekendes, voorsate van die Iraqw, Gorowa en Burunge wat suidwaarts uit Ethiopië na Tanzanië gekom het.[25] Gegrond op taalkundige bewyse was daar ook omstreeks 4 000 en 2 000 jaar gelede twee migrasies van Oos-Koesjitiese-mense na Tanzanië, wat van noord van die Turkanameer af gekom het.[25]
Argeologiese bewyse steun die slotsom dat Suid-Nilote, insluitende die Datoog, tussen 2 000 en 2 400 jaar gelede, suid vanuit die hedendaagse Suid-Soedan/Ethiopiese grensgebied gekom het.[25]
Hierdie verskuiwings het omstreeks dieselfde tyd gebeur met die vestiging van die Masjariki Bantoe uit Wes-Afrika in die gebiede van Victoriameer en Tanganjikameer. Dit was gedurende die Ystertydperk. Hulle het met hulle Wes-Afrika se landboukundigheid en die primêre stapelvoedsel, patats, saamgebring. Hierna het hulle, tussen 1 700 en 2 300 jaar gelede, uit hierdie gebiede na die res van Tanzanië migreer.[25][26]
Oos-Nilote, insluitende die Masai, verteenwoordig 'n meer onlangse migrasie (500 tot 1 500 jaar gelede) vanaf die hedendaagse Suid-Soedan.[25][27]
Die mense van Tanzanië word met die vervaardiging van yster en staal vereenselwig. Die Pare-mense was die vernaamste vervaardigers van yster wat in groot aanvraag was by die volke wat in die berggebiede van noordoos-Tanzanië gebly het.[28] Die Haya-mense, aan die oewers van die Victoriameer, het 'n soort van hoogoond ontwerp wat hulle in staat gestel het om meer as 1 500 jaar gelede koolstofstaal teen temperature van hoër as 3 310 ºF yster te smee.[29]
Reisigers en handelaars uit die Persiese Golf en Indië het Oos-Afrika se kusgebied in die eerste millennium n.C. besoek.[30] Sommige bewoners langs die Swahili-kus het al die Islamgeloof reeds in die agtste- of negende eeu n.C. beoefen.[31]
Die Portugese seevaarder Vasco da Gama het in 1498 die Tanzaniese kus besoek. Later, in 1506 het die Portugese daarin geslaag om die grootste dele van die suidoos-Afrikakus te beheer. Die Portugese is in 1699 deur die Omani Arabiere uit Zanzibar verdryf.
Die Sultan van Oman Seyyid Said het die kusstrook oorgeneem en sy hoofstad in 1840 na Zanzibarstad verskuif. Zanzibar het in hierdie tydvak die sentrum vir die Arabiese slawehandel geword.[32] Tussen 65–90% van die bevolking van die Arabies-Swahili Zanzibar is as slawe verkoop.[33] Een van die mees berugte slawehandelaars aan die Oos-Afrikakus was Tippu Tip, wat self die kleinseun van 'n Afrika-slaaf was. Die Nyamwezi-slawehandelaars het onder die leierskap van Msiri en Mirambo gewerk.[34] Volgens Timothy Insoll is daar in die 19de eeu 718 000 van die Swahili-kus af as slawe uitgevoer en 'n verdere 769 000 is as slawe aan die kus aangehou.[35]
Laat in die 19de eeu verower die Duitse Keiserryk die gebiede wat vandag bekend staan as Tanzanië (sonder Zanzibar) en inkorporeer dit by Duits-Oos-Afrika. Na die Eerste Wêreldoorlog bepaal ooreenkomste en die Volkebond dat die gebied 'n Britse mandaatgebied word, behalwe die Kionga-driehoek, 'n klein gebied in die suidooste wat by Portugees-Oos-Afrika (later Mosambiek) ingesluit is.
Sowat 100 000 mense van Tanganjika sluit gedurende Tweede Wêreldoorlog by die Geallieerdes aan[36] en was deel van die 375 000 Afrikatroepe wat daar geveg het.[37] Tanganjika was gedurende die oorlog 'n waardevolle bron van voedsel en sy inkomste met uitvoere het aansienlik gestyg in vergelyking met die vooroorlogse jare van die Groot Depressie. Die oorlogstydse aanvraag na produkte het die pryse opgejaag en reuse inflasie in die kolonie veroorsaak.[36][38]
Julius Nyerere transformeer in 1954 sy organisasie na die polities- georiënteerde Tanganyika African National Union (TANU) met die doel om nasionale soewereiniteit vir Tanganjika te kry. 'n Veldtog om nuwe lede te registreer word geloods en binne 'n jaar word TANU die leidende politieke organisasie in die land. Nyerere word in 1960 aangestel as die minister van die Brits-geadministreerde Tanganjika en word die eerste minister toe die land in 1961 onafhanklikheid verkry.
Die Britse bewind kom op 9 Desember 1961 tot 'n einde, maar vir die eerste jaar van onafhanklikheid, het Tanganjika 'n Britse goewerneur gehad wat die Britse monarg moes verteenwoordig.[39] Op 9 Desember 1962 word Tanganjika 'n demokratiese republiek onder 'n uitvoerende president.[39]
Die Arabiese dinastie word met die Zanzibar-rewolusie in die aangrensende Zanzibar omver gewerp,[40] die land word in 1963 onafhanklik en op 26 April 1964 word dit by die vasteland van Tanganjika ingelyf.[41] Op 29 Oktober van dieselfde jaar word die land se naam na die Verenigde Republiek Tanzanië verander ("Tan" is afgelei van Tanzanië en "Zan" van Zanzibar).[12]
Nyerere se presidentskap slaan in 1967, na sy Arusha Deklarasie, 'n linksgesinde rigting in, en hy verbind die land tot sosialisme en Pan-Afrikanisme. Banke en baie van die groot nywerhede is hierna genasionaliseer.
In 1992 word die land se grondwet aangepas om veelparty-politiek toe te laat.[42] In die eerste veelparty-verkiesings van 1995 wen die regerende party, Chama Cha Mapinduzi, 186 van die 232 setels in die nasionale vergadering en Benjamin Mkapa word president.[43]
Tanzanië is 'n eenparty dominante-staat met die Chama Cha Mapinduzi-party aan bewind.
Sedert 31 Oktober 2014 voorsien Tanzanië 2 253 soldate en ander personeel vir verskeie van die Verenigde Nasies se vredesoperasies.[44] Die Tanzaniese weermag neem saam met die Suid-Afrikaanse en Malawiese magte deel aan die Verenigde Nasies se intervensiebrigade in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK). Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het hierdie spesiale eenheid op 28 Maart 2013 gemagtig om geteikende operasies uit te voer teen groepe wat die vrede in die DRK bedreig.[45][46]
Daar is groot armoede in Tanzanië. Die land het min vooruitgang gemaak met die bekamping van ernstige ondervoeding en hongersnood in die land.[47][48]
Daar word meer as 100 verskillende tale in Tanzanië gepraat, wat die land die mees diverse taalkundige land in Oos-Afrika maak.[49] Onder die tale wat daar gebesig word is al vier van Afrika se taalfamilie: Bantoe, Koesjities, Nilo-Saharies en Khoisan.[49] Swahili en Engels is Tanzanië se twee ampstale.[49]
Sokker is die gewildste sportsoort in Tanzanië, maar basketbal, netbal, boks, vlugbal, atletiek, rugby en krieket is ook gewild. Tanzaniese spelers het voorheen saam met spelers uit Kenia, Uganda en Zambië verskyn vir die Oos-Afrikaanse krieketspan wat aan die eerste Krieketwêreldbeker 1975 in Engeland deelgeneem het. Daarna het Tanzanië saam met Malawi, Uganda en Zambië spelers vir die Oos- en Sentraal-Afrikaanse krieketspan beskikbaar gestel. Sedert 2001 word die land deur sy eie nasionale span verteenwoordig, maar kon nog nie vir 'n internasionale kriekettoernooi kwalifiseer nie. Soos in krieket het in rugby van 1950 tot 1982 met die Oos-Afrikaanse rugbyspan 'n multinasionale span bestaan, wat spelers uit Kenia, Tanzanië en Uganda betrek het.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Tanzania. |
Sien Tanzanië in Wiktionary, die vrye woordeboek. |