Teemsrivier | |
---|---|
Die Teems in Londen. | |
Die stroomgebied van die Teems. | |
Oorsprong | 51°41′40″N 02°01′47″W / 51.69444°N 2.02972°W Teemsoorsprong, Gloucestershire (VK) |
Monding | 51°30′00″N 00°36′36″E / 51.50000°N 0.61000°O Teemsmonding, Southend-on-Sea Noordsee |
Stroomgebied | Engeland, Verenigde Koninkryk |
Lengte | 346 km (215 myl) |
Oorspronghoogte | 110 m (361 voet) |
Mondinghoogte | 0 m |
Gemiddelde afloop | 65,8 m³/s (2 324 ft³/s) |
Stroomgebiedopp. | 12 935 km² (4 994 myl²) |
Kaart van die Teemsbekken in Engeland.
|
Die Teems (Engels: River Thames, dikwels net Thames; na dele van die rivierloop word - soos in Oxford - as Isis verwys) is 'n rivier wat deur suidelike Engeland vloei, asook deur Londen, om uiteindelik in die Noordsee uit te mond. Die rivier is een van die hoofwaterweë in Engeland, en mense het hulle reeds omstreeks 3000 v.C. langs sy oewers gevestig.
In die 19de eeu was die Teems een van die vuilste riviere in Europa - die besoedeling van sy water het in die somer van 1858 'n nuwe hoogtepunt bereik met die Great Stink (Groot Stank). Intussen word die Teems as een van die skoonste riviere in Europa beskou wat gereeld deur dolfyne, walvisse en ander seelewende soogdiere besoek word. Nóg 'n belangrike aanwyser vir die Teems se ekostelsel en watergehalte is die feit dat die rivier die habitat van twee spesies seeperdjies geword het.[1][2] Vandag voorsien die Teems in twee derdes van Londen se drinkwaterbehoeftes.
Die Teems vloei oor 'n afstand van 215 myl vanuit sy (omstrede) oorsprong "Thames Head" in landelike Gloucestershire deur nege graafskappe en sestien stedelike nedersettings. Daar is altesaam meer as 190 eilande of eilandjies (in Engels aits genoem) langs sy loop. Op een van hulle, Runnymede of Magna Carta Island naby Windsor-kasteel, is die Magna Carta in 1215 onderteken.
Die Engelse benaming Teems het sy oorsprong in die Latynse Tamesis (selde Tamesas) wat op sy beurt afgelei is van die Proto-Keltiese *tamesās ("rivier, water; breë water; donker water; donkerheid").
Met die hoogtepunt van die laaste ystydperk, sowat 12 000 jaar gelede, is groot hoeveelhede water as gevolg van lae temperature in ysmassas omskep sodat die seevlak wêreldwyd gedaal het. Die suidelike Noordsee is in droë land verander, die sogenaamde Doggersland, en die Britse Eilande het met die huidige Europese vasteland duisende jaar lank 'n samehangende landmassa gevorm. In hierdie tyd was die Teems baie groter as wat hy vandag is en sy bron heelwat verder weswaarts in die omgewing van die huidige Wallis. Die rivier het toe deur Doggersland gevloei, tot dit by die Rynriver aangesluit het. Die twee riviere was dus eens op 'n tyd deel van dieselfde rivierstelsel.
Die oorsprong van die Teemsrivier bly omstrede. Moontlik ontspring die rivier onder 'n groot esboom in 'n veld naby Trewsbury Mead, geleë suid van Cirencester teen die rand van die Cotswold Hills. Sommige deskundiges beweer sy oorsprong is in 'n ander veld sowat elf myl noord van Trewsbury Mead geleë, naby Seven Springs in die parogie Coberley. Die laasgenoemde is egter heel waarskynlik die oorsprong van die Churnrivier wat naby Cricklade in die Teems uitmond.[3]
"Die Sint Laurensrivier is water, die Mississippi is modderige water, maar die Teems is vloeibare geskiedenis."[4] |
John Burns (1858–1943), lid van die Britse Laerhuis, in 1929 nadat 'n Amerikaner 'n neerhalende opmerking oor die Teems gemaak het. Vertaling deur Wikipedia. |