Tell Brak (Nagar, Nawar) | ||
Tell Brak van ver af gesien, met verskeie uitgrawingsterreine sigbaar. | ||
Land | Sirië | |
Soort | Nedersetting | |
Streek | Mesopotamië | |
Geskiedenis | ||
Gestig | 7de millennium v.C. | |
Tydperk | Neolitikum, Bronstydperk | |
Kulture | Halaf, Obeid, Uruk, Kisj, Horiete | |
Uitgrawings | 1937-1938, 1976-2011 |
Tell Brak was ’n antieke stad in Sirië waarvan die ruïnes ’n tell bevat. Dit was geleë naby die moderne dorp Tell Brak, 50 kilometer noordoos van die stad Al-Hasaka. Die stad se oorspronklike naam is onbekend.[1] Tydens die tweede helfte van die 3de millennium v.C. was dit as Nagar[2] bekend en later as Nawar.[3]
Tell Brak het in die 7de millennium v.C.[4] as ’n dorpie ontstaan en in die 4de millennium v.C. in een van die grootste stede in Bo-Mesopotamië ontwikkel.[5] Dit het interaksies met die kulture van Suid-Mesopotamië gehad.[6] Aan die begin van die 3de millennium v.C., aan die einde van die Uruk-tydperk, het die stad kleiner geword, maar weer omstreeks 2600 v.C. begin uitbrei. Dit het toe bekend geword as Nagar en was die hoofstad van ’n streekskoninkryk wat die Khaburriviervallei beheer het.
Nagar is omstreeks 2300 v.C. vernietig en het onder die bewind van die Akkadiese Ryk beland. Daarna het dit ’n tyd van onafhanklikheid beleef as ’n Horitiese stadstaat,[7] voordat dit weer aan die begin van die 2de millennium v.C. kleiner geword het. Teen die 19de eeu v.C. het dit weer vooruitgegaan en onder die bewind van verskillende streeksmagte beland. Omstreeks 1500 v.C. was Tell Brak as Nawar ’n sentrum in Mitanni voordat dit omstreeks 1300 v.C. deur Assirië verwoes is. Die stad het nooit weer sy voormalige belangrikheid herwin nie en ’n klein nedersetting gebly. Dit is die een of ander tyd verlate gelos en het tydens die vroeë Abbasidiese tydperk uit die rekords verdwyn.
Verskillende volke het die stad bewoon, onder andere Semiete en Horiete. Tell Brak was van sy vroegste tydperke af ’n godsdienssentrum; sy broemde Oogtempel[8] was uniek in die Vrugbare Halfmaan en sy hoofgod, Belet-Nagar, is in die hele Khaburstreek aanbid. Die stad was dus ’n belangrike terrein vir pelgrimstogte. Sy kultuur is bepaal deur die verskillende beskawings wat dit bewoon het, maar dit was bekend vir sy steengravering,[9] perdagtiges en glas.[10]
Toe die stad onafhanklik was, is dit deur ’n plaaslike vergadering of ’n koning regeer. Dit was ’n handelsentrum danksy sy ligging tussen Anatolië, die Levant en Suid-Mesopotamië. Uitgrawings is in 1937 en 1938 gedoen deur sir Max Mallowan, die man van Agatha Christie,[11] en tussen 1979 en 2011 gereeld deur verskillende spanne, totdat werk stopgesit is weens die Siriese Burgeroorlog.[12]