Tigris

Tigrisrivier
Die Tigrisrivier naby Diyarbakır, Turkye.
Die Tigrisrivier naby Diyarbakır, Turkye.
Die Tigrisrivier naby Diyarbakır, Turkye.

Die stroomgebied van die Eufraat en Tigrisrivier.

Oorsprong Taurus-berge (Turkye)
Monding Eufraat, Sjatt al-Arab, Persiese Golf
Stroomgebied Turkye, Sirië, Irak
Lengte 1 850 km (1 150 myl)
Oorspronghoogte 1 150 m (3 773 voet)
Mondinghoogte 4 m (16 voet)
Gemiddelde afloop 1 014 m³/s (35 809 ft³/s)
Stroomgebiedopp. 375 000 km² (144 788 myl²)

Die Tigris (Sumeries: 𒁇𒄘𒃼, Idigna of Idigina; Akkadies: 𒁇𒄘𒃼, Idiqlat; Arabies: دجلة‎, Dijlah, [didʒlah]; Siries: ܕܹܩܠܵܬ‎, Deqlaṯ; Armeens: Տիգրիս, Tigris; Դգլաթ, Dglatʿ; Hebreeus: חידקל, Ḥîddeqel, Bybels: Hiddekel; Turks: Dicle; Koerdies: Dîcle, Dîjla) is die oosterse een van die twee groot riviere wat Mesopotamië begrens. Die ander een is die Eufraat, wat oor die berge van Anatolië deur Irak vloei. (Trouens, die naam "Mesopotamië" is 'n Griekse vertaling uit die Ou-Persies Mîânrûdân, wat "die Land tussen die Riviere" beteken. Die Siriese naam vir die gebied is Beth Nahrain). Die oorspronklike Sumeriese naam was idigna of idigina, wat vertaal kan word as "die vinnig vloeiende rivier, die rivier wat vloei", teenoor sy eweknie, die Eufraat, wat stadiger vloei sodat dit meer slik laat opbou en 'n hoër stroombed het as die Tigris. In Pahlavi beteken tigr "pyl" (in dieselfde taalfamilie as Ou-Persies tigra-, hedendaagse Persies têz, "skerp"). Dit is blykbaar nie die oorspronklike naam van die rivier nie, maar (soos die Semitiese vorme van die naam) 'n nabootsing van die inheemse Sumeriese naam.

Die Tigris buite Diyarbakır in Turkye.
Die Tigrisrivier in Mosoel, Irak.
Die Tigrisrivier in 1860

'n Ander naam vir hierdie rivier sedert die tyd van die Persiese Ryk, is Arvand, wat dieselfde betekenis het. Vandag verwys die naam Arvand na die laer deel van die Tigris (dit wil sê Arvand/Sjatt al-Arab) in Persies.

Die Tigris is ongeveer 1 900 km lank en ontspring in die Taurus-berge van Oos-Turkye en vloei meestal in 'n suidoostelike rigting totdat dit naby Al-Kurna in Suid-Irak by die Eufraat aansluit. Die twee riviere vorm saam die Sjatt al-Arab-waterweg, wat in die Persiese Golf uitmond. Baie sytakke sluit by die rivier aan, onder meer die Dijala en die Bo- sowel as die Onder-Zab-rivier.

Bagdad, die hoofstad van Irak, lê op oewer van die Tigris, terwyl die hawestad Basra aan weerskante van die Sjatt al-Arab lê. In antieke tye het baie van die groot stede van Mesopotamië aan of naby die rivier gelê en het sy water die beskawing van die Sumeriërs gevoed. Beroemde stede wat aan die Tigris geleë was, het Nineve, Ctesiphon en Seleukië ingesluit, terwyl die stad Lagasj water uit die Tigris gebruik het wat daarheen gelei is deur 'n kanaal wat omstreeks 2400 v.C. gegrawe is. Saddam Hoesein se tuisdorp, Tikrit, lê ook aan die rivier en het sy naam daarvan gekry.

Die Tigris is al lank 'n belangrike vervoerroete in 'n land wat hoofsaaklik uit 'n woestyn bestaan. Dit is tot by Bagdad bevaarbaar vir platboomvaartuie, maar vlotte is nodig om goedere verder tot by Mosoel te vervoer. Rivierhandel het in die 20ste eeu afgeneem in belangrikheid toe die Basra-Bagdad-Mosoel-spoorlyn en paaie al hoe meer van die goedereverkeer begin dra het.

Daair is baie damme op die rivier in Irak en Turkye om water te voorsien vir besproeiing van die droë en halfwoestyngebiede wat langs die riviervallei lê. Damme was ook belangrik om oorstromings in Irak af te weer, waartoe die Tigris geneig is nadat die sneeu in April op die Turkse berge gesmelt het. Onlangs was damme in Turkye 'n redelik omstrede onderwerp as gevolg van die uitwerking op die omgewing in die land self sowel as die potensiële verminderde watervloei stroomaf.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • H. F. Russell, Shalmaneser's campaign to Urartu in 856 B.C. and the historical geography of Eastern Anatolia according to the Assyrian sources. Anatolian Studies 34, 1984, S. 171–201.
  • Alessandro Scafi, Mapping Paradise, a history of heaven on earth (London, British Library 2006).
  • Karl Holl (Theologe)|Karl Holl (Hrsg.), Epiphanius von Salamis, Ancoratus und Panárion. Bd 1 u 2 (Leipzig, Hinrichs 1915–1922); Bd. 3, hrsg. v. Hans Lietzmann (Leipzig, Hinrichs 1933).
  • O. Aytuǧ Taşyürek, Some New Assyrian rock-reliefs in Turkey. Anatolian Studies 25, 1975, S. 169–180.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
  • Wikimedia Commons logo Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Tigris.
  • (en) "Tigris River". Encyclopædia Britannica. Besoek op 13 April 2019.