Titanic | |
---|---|
Regisseur | James Cameron |
Produksieleier | Jon Landau James Cameron |
Draaiboek | James Cameron |
Met | Leonardo DiCaprio Kate Winslet Billy Zane Frances Fisher Kathy Bates Victor Garber Gloria Stuart Bernard Hill Bill Paxton |
Musiek deur | James Horner |
Kinematografie | Russell Carpenter |
Redigeerder | Conrad Buff James Cameron Richard A. Harris |
Verspreider | Internasionaal 20th Century Fox VSA/Kanada Paramount Pictures |
Uitgereik | 19 Desember 1997 |
Speeltyd | 195 min |
Land | Verenigde State van Amerika |
Taal | Engels |
Begroting | VS$ 200 miljoen[1] |
Bruto wins | VS$ 1 848 813 795[2] |
Amptelike webtuiste | |
IMDb-profiel |
Titanic is 'n Amerikaanse romantiese rolprent van 1997 wat oor die sinking van die RMS Titanic handel en deur James Cameron geregisseer, geskryf, medevervaardig en medegeredigeer is. Kate Winslet vertolk die rol van Rose DeWitt Bukater en Leonardo DiCaprio die rol van Jack Dawson — twee lede van verskillende sosiale klasse wat op mekaar verlief raak aan boord van die skip se noodlottige nooiensvaart. Die hoofkarakters en die sentrale liefdesverhaal is fiktief, maar sommige karakters (soos lede van die bemanning) is op werklike mense gegrond. Gloria Stuart speel die ouer Rose, wat die verhaal vertel.
Die vervaardiging van die rolprent het in 1995 begin toe Cameron beeldmateriaal van die werklike wrak van die RMS Titanic ondersee verfilm het. Hy het die liefdesverhaal gesien as 'n manier om die gehoor by die ware tragedie van die skip te betrek. Die moderne tonele is by die Akademik Mstislav Keldysh verfilm en die res van die tonele op 'n herskepping van die skip wat by Playas de Rosarito, Baya California, gebou is. Cameron het ook van skaalmodelle en rekenaargeskepte beelde gebruik gemaak om die sinkingstoneel te herskep. Titanic was indertyd die duurste rolprent en het ongeveer VS$ 200 miljoen gekos, met befondsing van Paramount Pictures en 20th Century Fox.
Die rolprent sou aanvanklik op 2 Julie 1997 uitgereik word, maar naproduksie-vertragings het die rolprent se uitreiking tot 19 Desember 1997 vertraag. Nadat die nuusmedia hiervan te hore gekom het, het hulle geglo dat Titanic 'n mislukking sou wees en dat die rolprent Fox en Paramount daarmee saam sou kelder. Met sy uitreiking was die rolprent egter 'n enorme kritiese en finansiële sukses. Dit is vir veertien Academy-toekennings benoem en het elf, onder meer beste rolprent, gewen.[3] Dit het die rolprent met die hoogste bruto inkomste tot op daardie stadium geword, met 'n wêreldwye totaal van VS$1,8 miljard, steeds die sesde grootste bruto inkomste tot dusver in Noord-Amerika, met inflasie ingereken.
Pretbederwerswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.
In 1996 verken skattejagter Brock Lovett (Bill Paxton) en sy span die wrak van die RMS Titanic, op soek na 'n halssnoer met 'n waardevolle blou diamant, genaamd die Heart of the Ocean (Afrikaans: Hart van die Oseaan). Onsuksesvol in hul soektog na skatte, ontdek hulle egter 'n skets van 'n jong dame wat naak op 'n sofa terugleun en die Heart of the Ocean dra. Die datum op die skets is die datum waarop die Titanic gesink het. Die eenhonderd en een jaar oue Rose Dawson Calvert (Gloria Stuart) kom van die ontdekking van die skets te hore en nader gevolglik vir Lovett om hom in kennis te stel dat sy die dame in die skets is. Sy en haar kleindogter Elizabeth "Lizzy" Calvert (Suzy Amis) besoek Lovett en sy skeptiese span op sy reddingskip. Gevra of sy weet waar die halssnoer is, roep sy ou herinneringe aan boord die Titanic op en onthul sy die eerste keer dat sy Rose DeWitt Bukater is, 'n passasier van wie daar tot in daardie stadium aanvaar is dat sy in die tragedie omgekom het.
In 1912 gaan die gegoede 17-jarige Rose (Kate Winslet) aan boord van die skip in Southampton, Engeland met haar verloofde Caledon "Cal" Hockley (Billy Zane), die seun van 'n Pittsburghse staalmagnaat, en haar moeder, Ruth DeWitt Bukater (Frances Fisher). Beide Cal en Ruth beklemtoon die belangrikheid van Rose se verlowing met Cal, aangesien die huwelik die uitwissing van die Dewitt-Bukater-skuld te weeg sou bring; alhoewel Rose en haar moeder uiterlik as gegoed voorkom, is hulle in werklikheid bankrot. Rose word radeloos en gefrustreer deur haar verlowing met die beheersugtige Cal en die druk wat haar moeder op haar skouers plaas om met die huwelik voort te gaan en poog sy gevolglik selfmoord deur van die agterskip af te spring. Voordat sy die sprong kan onderneem, benader swerwer en kunstenaar Jack Dawson (Leonardo DiCaprio) haar, en oorreed haar om nie te spring nie. Aanvanklik glo Cal, sy vriende en die skeepsbemanning dat Jack Rose wou verkrag nadat hulle haar skreeue gehoor het. Sy verduidelik dat Jack haar lewe gered het en kamoefleer haar selfmoordpoging deur aan te voer dat sy gegly het toe sy oor die reëling geleun het om die skroewe (propellers) te besigtig. Jack ondersteun die bewering, alhoewel Hockley se kneg en voorheen Pinkerton-agent, Spicer Lovejoy (David Warner), nie oortuig is nie. Jack en Rose stel 'n voorlopige vriendskap op met haar danke aan hom vir sy bevestiging, en hy deel verhale van sy avonture met sy reise en sketse, met haar. Hul vriendskaplike band verdiep nadat hulle 'n stywe en formele eersteklasdinee verlaat en by 'n veel lewendiger party met Ierse dans, musiek en aal in die derdeklas aansluit.
Cal word van Rose se manewales in die tussendek ingelig en gooi 'n ontbyttafel omver in 'n vlaag van woede toe hy haar die volgende oggend verbied om weer met Jack te ontmoet. Rose besluit egter om hom en haar ma te trotseer nadat sy aanskou hoe 'n vrou haar sewejarige dogtertjie aanmoedig om haar soos 'n betaamlike dame aan tee te gedra, en vra vir Jack om haar naak te skets terwyl sy slegs die Heart of the Ocean, haar verlowingsgeskenk van Cal, dra. Daarna hardloop hulle speels vir Lovejoy weg en gaan hulle benededeks na die skip se vragruim. Hulle klim in William Carter se Renault en gaan voort met seksuele omgang, voordat hulle na die skip se voordek gaan. Rose besluit om met hul aankoms in New York Stad die skip met Jack te verlaat. Hulle aanskou dan die skip se noodlottige botsing met 'n ysberg. Nadat hulle die toevallige gesprek van die uitkyke aanhoor oor hoe ernstig die botsing is, sê Rose vir Jack dat hulle haar moeder en Cal moet gaan waarsku. Intussen ontdek Cal Rose se naakskets en uittartende boodskap in sy kluis en stel hy Jack vir die diefstal van die Heart of the Ocean op deurdat Lovejoy die juweel in Jack se sak plaas. Nadat sy agterkom dat Cal beplan om Jack vir die dood benededeks agter te laat, hardloop Rose weg van Cal en haar moeder om Jack van gevangenskap uit die kaptein se kantoor te red.
Jack en Rose keer na die boonste dek terug. Cal en Jack wil beide Rose se veiligheid verseker en, alhoewel hulle vyande is, oorreed hulle haar om in 'n reddingsboot te klim. Maar nadat sy besef dat sy haar liefde nie kan verlaat nie, spring Rose terug op die skip en verenig sy haar met hom op die skip se eersteklas trappehuis. Cal word met woede gevul — hy neem Lovejoy se pistool en jaag Jack en Rose afwaarts met die dekke en in die oorstroomde eerstesklas dineesalon in. Wanneer Cal se ammunisie opraak, besef hy dat hy die Heart of the Ocean in sy mantel wat hy oor Rose geplaas het, vergeet het. Cal verlaat Lovejoy en keer na die sloepedek terug, waar hy in Collapsible A inklim terwyl hy voorgee dat hy na 'n verlate kind omsien, en nadat die beampte wat hy vroeër omgekoop het om hom 'n plek in 'n reddingsboot te verseker, die geld in sy gesig teruggegooi het. Nadat Jack en Rose na die boonste dek terugkeer, is al die reddingsbote reeds weg en hulle beland in die yskoue Atlantiese Oseaan se waters wanneer die skip tuimel en sink. Jack en Rose is in staat om aan 'n gekerfe eikepaneel te klou, maar dit kan net een persoon ondersteun. Jack sterf 'n kouedood, maar Rose word, met vyf ander oorlewendes, gered wanneer Vyfde Offisier Harold Lowe met Reddingsboot 14 terugkeer.
Rose word deur die RMS Carpathia na New York geneem, waar sy haar naam as Rose Dawson opgee. Met haar aanneem van Jack se van, lei sy almal om die bos om te glo dat Rose DeWitt Bukater tydens die tragedie gesterf het. Sy sien Cal ook vir die laaste keer op Carpathia se dek terwyl hy na haar soek (sy verduidelik hy sou homself later doodskiet ná die Wall Street-ineenstorting van 1929 waartydens hy alles verloor het). Nadat sy haar verhaal klaar vertel het, gaan die ouer Rose na die agterstewe van Lovett se skip. Nadat sy op die reëling klim, word dit duidelik dat sy steeds die Heart of the Ocean in haar besit het. Sy laat die diamant in die see val en stuur dit om by die oorblyfsels van die belangrikste gebeurtenis in haar lewe aan te sluit. Die rolprent eindig met 'n skoot van Rose in haar warm bed, nes Jack aan haar gesê het sy uiteindelik sou sterf. Rondom haar is foto's van haar terwyl sy al die dinge doen wat sy gesê het sy in haar lewe nog met Jack sou gaan doen het.[4] Die finale skoot van die rolprent is 'n visioen van die jong Rose wat met Jack aan die Grand Staircase verenig word en deur die slagoffers van die Titanic toegejuig word wanneer hy haar soen.
Pretbederwerswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.
Pretbederwerswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.
Verskeie bemanningslede van die Akademik Mstislav Keldysh verskyn in die rolprent, insluitende Anatoly Sagalevich, die skepper en loods van die Mir-duikbote.[11] Anders Falk, wat 'n dokumentêr oor die rolprent se stelle vir die Titanic Historical Society verfilm het, het in die rolprent as 'n Sweedse immigrant gekamee wat Jack Dawson ontmoet wanneer hy sy kajuit betree. Ed en Karen Kamuda, toe onderskeidelik President en Visepresident van die Society, was ook ekstras in die rolprent.[12]
"Die verhaal kon nie beter geskryf gewees het nie... Die teenoormekaarstelling van ryk en arm, die geslagsrolle wat tot die dood toe uitspeel (vrouens eerste), die stoïcisme en edelheid van 'n vervloë era, die heerlikheid van 'n geweldige skip, wat op skaal slegs deur die dwaasheid van die manne wat haar vasbeslote deur die donker nag gestuur het, geëwenaar word. En bo alles die les: dat die lewe onseker is, die toekoms ongekend... die ondenkbare moontlik." |
— James Cameron[13] |
James Cameron was deur skeepswrakke, insluitende die RMS Titanic, gefassineer en daarom het hy 'n verkorte draaiboek vir 'n rolprent geskryf.[14] Hy het die sinking van die Titanic as "soos 'n groot roman wat werklik gebeur het" beskryf. Hy het egter gevoel dat die gebeurtenis met die verloop van tyd in 'n blote morele verhaal verander het, en het die maak van die rolprent beskryf as om die gehoor in 'n ervaring van lewendige geskiedenis te plaas. Cameron het 'n liefdesverhaal as die boeiendste deel van 'n storie beskryf. Aangesien die aangename Jack en Rose hul liefde laat bloei het en dit uiteindelik vernietig is, sou die gehoor die verlies betreur. Laastens het Cameron 'n moderne raming van 'n romanse met 'n bejaarde Rose geskep wat die geskiedenis tasbaar en pynlik maak.[13] Die karakter van die skattejagter Brock Lovett verteenwoordig die mense wat nooit met die menslike element van die tragedie verbind het nie.[11] Cameron wou die mense wat in die tragedie omgekom het, eer, en hy het ses maande aan navorsing bestee om tot 'n volle begrip te kom van wat gebeur het. Hy het ook 'n tydlyn van al die Titanic se bemanning en passasiers geskep.[13]
Hy het met 20th Century Fox vergader en hulle oorreed om 'n rolprent te maak gebaseer op die publisiteit wat verdien sou word deur die wrakstuk self te verfilm,[14] waarna hy 'n duikekspedisie na die wrak van die Titanic gereël het wat oor twee jare sou plaasvind.[13] Die manskap het in 1995 twaalf keer in die Atlantiese Oseaan na die wrak geduik, en in elf uit hierdie twaalf geleenthede verfilm. Daarna het Cameron met die skryf van die draaiboek begin.[14] Harland and Wolff die RMS Titanic se bouers, het hul privaatargiewe aan die manskap oopgestel en daardeur bloudrukke wat eens verlore gedink is, met hulle gedeel. Produksieontwerper Peter Lamont se span het vir artefakte uit die era gesoek om die skip se interieur te modelleer, maar as gevolg van die nuutheid ten tyde van die skip se ondergang moes elke rekwisiet opnuut vervaardig word.[15] Fox het 40 ha waterfront suid van Playas de Rosarito in Meksiko verkry, waar hulle op 31 Mei 1996 'n nuwe ateljee begin bou het. 'n 64 megaliter tenk is vir die eksterieur van die wederopgeboude skip gebou, wat 270 grade oseaanuitsig verskaf het. Die skip is tot volle skaal gebou, maar Lamont het sommige oorbodige dele van die superstruktuur en die voordek verwyder sodat die skip in die tenk kon pas, met die oorblywende dele wat met digitale modelle gevul is. Die reddingsbote en stoomtorings is met tien persent verklein. Die bootdek en A-dek was werkende stelle, maar die res van die skip was net staalplate. Aan die binnekant was 'n 15,24 m hysplatform wat gebruik is om die skip te laat kantel in die sinkingtonele. Oorhoofs was 'n 49 m hoë toringkraan op 180 m van spoorweg, wat as 'n gekombineerde konstruksie-, beligtings- en kameraplatform gedien het.[11] Nadat die sinkingtonele geskiet is, is die skip uitmekaar gehaal en vir skrootmetaal verkoop om begrotingskostes te help dek.[16]
Die hedendaagse tonele is op die Akademik Mstislav Keldysh in Julie 1996 geskiet.[11] Dit was tydens een van hierdie skote wat iemand fensiklidine (fenielsikloheksielpiperidine, PCP) oor die rolprentmanskap se aandete gestrooi het, wat uitwerkings op verskeie persone insluitende Cameron gehad het, en 'n aantal dosyn hospitaal toe gestuur het. Die persoon wat die poets gebak het, is nooit gevang nie.[17][18] Prinsiepfotografie vir Titanic het in September 1996 by die nuutgeboude Fox Baja Studios begin.[11] Die boonste agterdek is op 'n skarnier gebou wat binne 'n paar sekondes van nul tot negentig grade kon styg vir die tonele waar die agterskip tydens die sinking styg.[19] Ten bate van die veiligheid van die waagkunstenaars is baie van die rekwisiete van skuim of rubber vervaardig.[20] Teen 15 November het hulle die tonele geskiet waar die passasiers die skip betree.[19] Cameron het besluit om die stuurboord te bou omdat 'n studie van weerdata getoon het dat die toringrook deur 'n oorheersend noord-na-suid-wind geblaas sou word. Probleme sou egter ontstaan by die verfilming van die skip se vertrek uit Southampton, aangesien dit geskiedkundig aan die bakboord gedok is. Cameron het hierdie probleem opgelos deur die skrif op rekwisiete en kostuums te laat omkeer, en wanneer iemand in die draaiboek na regs geloop het, moes hulle tydens verfilming na links loop — in die postproduksie is die rolprentbeeld omgekeer sodat die skrif en rigtings korrek vertoon het.[21]
Die verfilming van Titanic was vir alle betrokkenes 'n moeisame ervaring. Die verfilmingprogram sou aanvanklik 138 dae duur, maar dit het tot 160 dae vermeerder. Baie rolspelendes, insluitende Kate Winslet, het verkoue, griep of nierinfeksies opgedoen omdat hulle ure in koue water bestee het. Sommige het bedank en drie waagkunstenaars het hul bene gebreek, maar na 'n ondersoek deur die Screen Actors Guild ('n vakbond vir rolprentakteurs in die Verenigde State) is besluit dat die stel nie inherent onveilig was nie. Cameron het nooit erken dat hy sy stelle soos 'n militêre veldtog bestuur het nie, maar hy het tog gebieg:
"Ek is veeleisend, en ek eis veel van my manskap. In terme daarvan om ietwat militaristies te wees, dink ek daar is 'n element daarvan wanneer duisende ekstras en groot logistieke hanteer word en mense veilig gehou moet word. Ek dink 'n mens moet 'n taamlik streng metodiek hê wanneer 'n groot aantal mense bestuur word."[17]
Nadat sy amper verdrink het, 'n elmboogbeen versplinter het en griep gekry het, het Winslet besluit dat sy nie weer met Cameron gaan werk nie tensy sy "'n klomp geld" gaan verdien nie.[17]
'n 19 megaliter tenk is gebruik om die interieur in die water te dompel. Om die Grand Staircase te dompel, is 340 kl water op die stel gestort. Die trappestel is onverwags deur die krag van die vallende water uit sy staalversterkte fondasies geruk, maar gelukkig is niemand in die voorval beseer nie. Die 227 m lange eksterieur van die RMS Titanic is halfpad in die water laat sak, maar aangesien dit die swaarste gedeelte van die skip was, het dit as 'n skokabsorbeerder teen die water gewerk. Om die stel in die water te kry, het Cameron die grootste gedeelte van die stel leeggemaak en sommer self van die wandeldekvensters stukkend geslaan. Nadat die eetsaal in die water gesink is, is drie dae bestee om Lovett se afstandbeheerde voertuig te verfilm soos wat dit die wrak in die hede ondersoek.[11] Die postsinking-tonele in die ysige Atlanties is in 'n 1,3 megaliter tenk geskiet[22] waar die effek van gevriesde lyke geskep is deur 'n poeier op akteurs te plaas wat kristaliseer wanneer dit aan water blootgestel word, en daarby is waks op hare en klere gesmeer.[15]
Cameron wou die grense van spesiale effekte met hierdie rolprent verskuif, en het Digital Domain aangestel om die deurbrake in digitale tegnologie, wat die regisseur in The Abyss en Terminator 2: Judgment Day aangepak het, verder te vorder. Vorige rolprente oor die RMS Titanic het water in slowmotion geskiet, wat nie ten volle realisties gelyk het nie.[23] Hy het hulle aangemoedig om hul 14 m lange skaalmodel van die skip te skiet asof "ons 'n advertenise vir die White Star Line maak".[24] Ná die tyd is digitale water en rook bygevoeg, asook ekstras wat op 'n bewegingsvasleggingsverhoog vasgelê is. Visueleëffekte-oorsiener Rob Legato het die gesigte van verskeie akteurs, insluitende homself en sy kinders, vir die digitale ekstras en waagkunstenaars geskandeer. Daar was ook 'n 20 m lange model van die agterskip wat herhaaldelik in twee gebreek kon word, en dit was ook die enigste miniatuurmodel wat in water gebruik is.[23] Vir tonele wat in die skip se enjinkamers afgespeel het, is beeldmateriaal van die SS Jeremiah O'Brien se enjins met miniatuur ondersteuningsrame en akteurs wat teen 'n groenskerm verfilm is, saamgestel.[25] Om geld te spaar, was die Eersteklas Sitkamer 'n miniatuurstel wat in 'n groenskerm-agtergrond ingekorporeer is.[26]
Gedurende die eerste toneelsamestelling het Cameron die beplande einde verander, wat resolusie aan Brock Lovett se storie sou gee. In die oorspronklike weergawe van die einde sien Brock en Lizzy Ou Rose by die reëling op die agterskip staan. Hulle vrees dat sy oor gaan spring, maar dan onthul sy dat sy die Heart of the Ocean al die tyd by haar gehad het, maar dit nooit verkoop het nie omdat dit haar te veel aan Cal herinner. Sy vertel Brock dat daar nie 'n prys op die lewe geplaas kan word nie en gooi die diamant in die oseaan, nadat sy hom toelaat om dit aan te raak. Brock aanvaar dat skatte waardeloos is en lag oor sy eie onnoselheid. Rose gaan daarna slaap, waarna die rolprent op dieselfde manier eindig as in die finale weergawe. In die redigeerkamer het Cameron besluit dat die gehoor op hierdie punt nie meer in Brock Lovett geïnteresseerd sou wees nie en het sy resolusie uitgesny, sodat Rose alleen is wanneer sy die diamant in die water laat val. Hy wou ook nie die gehoor se melankolie ná die Titanic se sinking onderbreek nie.[27]
Die weergawe wat in die eerste toetsvertoning gebruik is, het 'n rusie tussen Jack en Lovejou ingesluit wat plaasvind nadat Jack en Rose na die oorvloede eetsaal vlug, maar die toetsgehore het nie van hierdie deel gehou nie. Die toneel is geskryf om meer spanning aan die rolprent te verskaf, en sou Cal wys waar hy aan Lovejoy 'n valse aanbod maak dat hy die Heart of the Ocean kan kry indien hy dit by Jack en Rose kan afneem. Lovejou sit die paartjie vervolgens in die Eersteklas eetsaal agterna. Net toe hulle wil ontsnap, merk Lovejoy op hoe Rose se hand teen die water klap wanneer dit van die tafel afgly waaragter sy wegkruip. Uit wraak daarvoor dat hy hom vir die diefstal van die halsnoer geraam het, val Jack Lovejoy aan en slaan sy kop teen 'n glasvenster. Dit verklaar dan ook die wond op Lovejoy se kop wat gesien kan word wanneer hy in die voltooide weergawe van die rolprent sterf. Die toetsgehore het nie van hierdie toneel gehou nie, aangesien dit volgens hulle onrealisties sou wees vir 'n mens om sy lewe te waag vir rykdom, en om hierdie rede asook as gevolg van tydsbeperkings en deur inagneming van die rolprent se natuurlike tempo, het Cameron hierdie toneel uitgesny. Verskeie ander tonele is om eenderse redes gesny.[28]
Paramount Pictures en 20th Century Fox het die rolprent gefinansier en het van James Cameron verwag om die film vir vrystelling op 2 Julie 1997 gereed te hê. As gevolg van produksievertragings het Paramount die vrystellingsdatum na 19 Desember 1997 uitgestel.[29] Die rolprent het op 1 November 1997 by die Tokio Internasionale Rolprentfees gepremière[30] waar reaksie deur die New York Times as "flou" beskryf is.[31]
Die bywoning in Noord-Amerika was goed vandat dit op 19 Desember 1997 daar begin draai het. Teen die einde van die eerste naweek het bioskoopkaartjies begin uitverkoop. Die rolprent het met 'n brutoïnkomste van VS$8 658 814 op die eerste dag gepremière en met VS$28 638 131 oor die eerste naweek uit 2 674 bioskope, wat 'n gemiddeld van omtrent VS$10 710 per bioskoop verteenwoordig. Teen Nuwejaarsdag het Titanic meer as VS$120 miljoen verdien en in gewildheid toegeneem met bioskope wat steeds uitverkoop het. Die film se grootste enkele verdienste in een dag het op Saterdag 14 Februarie (Valentynsdag) 1998 gebeur toe dit meer as ses weke ná die debuut in Noord-Amerika VS$13 048 711 verdien het. Nadat dit vrygestel is het dit vir vyftien aaneenlopende weke op die nommereen-posisie op die loketranglyste van die VSA en Kanada gebly, wat vandag nog 'n rekord vir enige rolprent is.[32] Teen Maart 1998 was dit die eerste rolprent wat wêreldwyd meer as $1 miljard verdien het.[33] Die rolprent het vir byna tien maande in Noord-Amerikaanse teaters gedraai voordat dit uiteindelik op Donderdag 1 Oktober 1998 met 'n totale plaaslike bruto van VS$600 788 188 en 'n oorsese bruto van VS$1 248 025 607 gesluit het. Die rolprent het 'n totaal van VS$1 848 813 795 verdien en hou dit vandag nog die rekord vir die rolprent met die hoogste brutoïnkomste in die aangetekende geskiedenis.
That was one of the first questions pitched to 89-year-old actress Gloria Stuart at a book signing Wednesday night at Joseph-Beth Booksellers […] 'Yes, Old Rose died'
Wikimedia Commons bevat media in verband met Titanic (1997 film). |