Toepolef Tu-22 | |
---|---|
Tipe | Bomwerper |
Vervaardiger | Toepolef |
Nooiensvlug | 7 September 1959 |
Bekendstelling | 1962 |
Onttrek | Vroeg 2000 (Libië) |
Hoofgebruikers | Sowjetlugmag, lugmagte van Oekraïne, Libië en Irak |
Vervaardig | 1960–1969 |
Aantal gebou | 311 |
Weergawes | Toepolef Tu-22M |
Die Toepolef Tu-22 was die eerste supersoniese bomwerper van die Sowjetunie. Die vliegtuig se ontstaan kan nagespoor word na 'n 1955-studie om 'n supersoniese bomwerper te produseer wat verdedigingslinies teen hoë hoogtes en met hoë spoed kan deurdring om kernwapens af te vuur. Die prototipe het sy nooiensvlug op 7 September 1959 voltooi. Dit het die Sowjetlugmag se eerste suksesvolle supersoniese bomwerper geword. Die Weste het eers in 1961 bewus geword van die Tu-22 toe tien vliegtuie 'n publieke verbyvlug voltooi het. Die Weste het die vliegtuig die Blinder genoem.
Die Tu-22 dra 'n bemanning van drie: vlieënier, navigator en radio-operateur/skutter. Die ontwerp was uniek in die sin dat die twee enjins by die basis van die stertvin geïnstalleer was. Daar is ook 'n 23 mm kanon in die stert geïnstalleer vir verdediging, dit was deur radar beheer. Daar is ongeveer 300 Tu-22's vanaf 1960 tot 1969 gebou. Die eerste model was die Tu-22A wat vryvallende kernbomme kon dra. Die Tu-22B kon AS-4 begeleide missiele dra en daar was 'n radargidsstelsel onder die neus geïnstalleer om dit te kon bewerkstellig. Die Tu-22R was 'n verkenningsvliegtuig met ses vensters in die bomrak waar drie pare langstrekkameras geïnstalleer is. Die Tu-22P was 'n opleidingsvliegtuig met die instrukteur in 'n aparte verhoogde kajuit. Die Tu-22P was toegerus met 'n elektroniese teenmaatreëlstelsel. Toe die Tu-22 verouderd begin raak het, is elektroniese speurtoerusting in hulle geïnstalleer.
Die vliegtuig was ook gebruik deur die lugmagte van Oekraïne, Libië en Irak. Dit was gebruik in die inval van Afghanistan asook die Irak-Iranoorlog. Irak het die vliegtuie teen die Koerdiese rebelle gebruik in die 1980's terwyl Libië syne teen Tsjad en Soedan gebruik het.
Die Tu-22 het die Tu-16 vervang maar was nie 'n wesenlike verbetering nie. Daar is ook nie 'n groot aantal van die Tu-22 gebou nie weens betroubaarheidsprobleme. Toepolef wou die vliegtuig se ontwerp verbeter om beter werkverrigting te verseker en nadat 'n studie gedoen is, is die Toepolef Tu-22M ontwerp.