Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Tweed is 'n growwe tekstielstof van wol. Tweed het 'n sagte, oop, soepel tekstuur, wat aan Cheviot of tuisweefstof herinner, maar wat digter geweef is. Dit word gewoonlik volgens 'n effe-, keper- of visgraatbinding geweef. Kleureffekte in die drade kan verkry word deur gekleurde wol te meng voordat dit gespin word. [1]
Tweed is ikonies van tradisionele Skotse en Ierse klere; dit is geskik vir informele klere wat buitenshuis gedra word, [2] omdat die materiaal vogbestand en duursaam is. Tweed kan fel klimaatstoestande weerstaan [3] en word algemeen vir buitemuurse aktiwiteite soos skiet en jag, in sowel Ierland as Skotland, gedra. In Ierland word die vervaardiging van tweed nou meestal met die Donegal-distrik geassosieer, maar dit is oorspronklik oral in die land gemaak. In Skotland word die vervaardiging van tweed hoofsaaklik met Harriseiland in die Hebrides, geassosieer.
Die oorspronklike naam van die materiaal was tweel, Skots vir twill, met die tekstielstof wat volgens 'n keperbinding, eerder as effebinding, geweef is. Volgens oorlewing het die naam byna toevallig ontstaan. Omstreeks 1831 het 'n Londense handelaar 'n brief van 'n firma Hawick, Wm. Watson & Sons, Dangerfield Mills oor 'n aantal "tweels", ontvang. Die handelaar het die handskrif verkeerd geïnterpreteer en verstaan dat dit 'n handelsnaam is van die Tweedrivier, wat deur die Skotse grensgebied se tekstielarea loop. Die tekstielstof is daarna as tweed geadverteer en dit het sedertdien die naam gebly.
Tweed is tradisioneel vir die plattelandse jagbaadjies van die hoër klasse gebruik. Mettertyd het tweedkledingstukke ook onder die Edwardiaanse middelklasse, wat dit met die ontspanningsaktiwiteite van die elite vereenselwig het, gewild geword. Vanweë die duursaamheid daarvan was tweed as tekstielstof vir Norfolk-baadjies en pofbroeke gewilde keuses [4] vir jagters, fietsryers, gholfspelers en vroeë motoriste, vandaar Kenneth Grahame se uitbeelding van mnr. Padda in 'n pak klere van Harris-tweed. [5] Gewilde tweedpatrone sluit in tandruitstof, [6] wat met die 1960 modes geassosieer is, vensterglas, jagopsigtertweed, wat deur adademici gedra is, die Prins van Wallis-ruitstof, wat oorspronklik na aanleiding van 'n versoek van Edward VII geweef is, en visgraatweefpatrone. [7]
Gedurende die 2000's en 2010's het familielede van gevestigde Britse en Amerikaanse grondeienaars dikwels tweed kledingstukke van 'n hoë gehalte by hulle grootouers geërf; sommige van die kledingstukke het van voor die Tweede Wêreldoorlog dateer. [8] [9]
In die moderne tyd kan fietsryers tweed dra as hulle op antieke fietse aan 'n tweedfietswedren deelneem. Hierdie praktyk het ontstaan by jong Britse subkultuurgroepe van die laat 2000's en vroeë 2010's wat styl, egtheid en uniekheid nagestreef het. Die aanhangers het 'n waardering getoon vir antieke tweed sowel as antieke fietse. [10]
Sommige antieke Danemann-regop klaviere het 'n tweed ruglap om die interne meganisme te beskerm. Skotse doedelsakke word soms met tweed, as 'n alternatief vir tartanwol, bedek. [11]
Die term "tweed" word gebruik om bedekkings op instrumentekabels en antieke- of retro-kitaarversterkers te beskryf, soos die Fender-tweed en Fender tweed deluxe. Ondanks die algemene terminologie, is hierdie bedekkings nie in werklikheid tweed nie, maar wel katoenkeperstof.