Uitstel (van die Latynse "procrastinare", saamgestel uit die voorvoegsel pro-, "vorentoe", en agtervoegsel -crastinus, "tot die volgende dag") is die vermyding van 'n taak wat afgehandel moet word.[1]
Gregory Schraw, Theresa Wadkins en Lori Olafson het in 2007 drie kriteria geïdentifiseer waarvolgens 'n gedrag as uitstel geklassifiseer kan word: Dit moet teenproduktief, onnodig en vertragend wees.[2] Volgens 'n 2007-studie deur Steel is uitstel die "doelbewuste vertraging van 'n voorgenome aksie ondanks die verwagting om as gevolg daarvan slegter daaraan toe te wees."[3] Sabini & Silver redeneer dat vertraging en irrasionaliteit twee hoofkenmerke van uitstel is. Om 'n taak te laat oorstaan, redeneer hulle, is nie uitstel indien daar 'n rasionele rede daarvoor is nie.
Die genotbeginsel kan ook vir uitstel verantwoordelik wees; soms verkies 'n persoon om negatiewe emosies te vermy en om spanningsvolle take uit te stel. Die oortuiging dat 'n mens beter onder druk werk, is 'n bykomende aansporing vir die uitstel van take.[4] Sommige sielkundiges verklaar hierdie gedrag as 'n hanteringsmeganisme vir die angs wat met die aanpak of voltooiing van enige taak of besluit geassosieer word.[5] In 2010 het Piers Steel egter daarop gewys dat angs die teenoorgestelde uitwerking kan hê; dit kan mense juis motiveer om vroeg te begin werk. Volgens hom behoort die fokus van studies oor uitstel eerder impulsiwiteit te wees. Angstigheid sal dus slegs tot uitstel lei indien die persoon impulsief is.[6]
Uitstel word tradisioneel met perfeksionisme geassosieer: 'n geneigdheid om uitkomste en 'n persoon se eie prestasie negatief te evalueer, intense vrees, vermyding van ander se evaluering van 'n persoon se vermoëns, verhoogde sosiale selfbewustheid en angs, terugkerende neerslagtigheid en werkverslawing." Aanpasbare perfeksioniste— egosintonies perfeksionisme—was minder geneig om uit te stel as nieperfeksioniste, terwyl wanaanpasbare perfeksioniste wat hulle perfeksionisme as 'n probleem beskou— egodistoniese perfeksionisme—hoë vlakke van uitstel en angstigheid getoon het.[7]
Negatiewe hanteringsresponse vir individue wat uitstel, is geneig om eerder ontwykend en emosioneel as taakgerig of op probleemoplossing gefokus te wees. Emosionele en ontwykende hantering word gebruik om die stres te verminder wat met die uitstel van voorgenome en belangrike doelwitte geassosieer word.
Hanteringsresponse sluit die volgende in:
Uitstellers beskou taak- of probleemoplossende stappe as uitputtend. As hierdie stappe geneem word, sal uitstellers heel waarskynlik nie uitstellers bly nie. Hierdie stappe vereis egter dat 'n persoon sy gedrag of situasie aktief moet verander om die terugkeer van uitstelgedrag te voorkom.
In 2006 is daar voorgehou dat daar geen direkte verband tussen uitstel en neurotisme is nie, en in 1982 is daar aan die hand gedoen dat irrasionaliteit 'n inherente kenmerk van uitstel is. "Om dinge, selfs tot op die nippertjie, te laat staan is nie uitstel as daar 'n rede is om te glo dat dit binne daardie laaste nippertjie gedoen kan word nie".[8] Steel et al. het in 2001 verduidelik dat "aktiwiteite uitgestel moet word, en dat hierdie uitstel van swak, onvoldoende of gebrekkige beplanning moet getuig".[9]
In 'n sekere mate is dit normaal om uit te stel en kan dit as 'n manier beskou word om te identifiseer wat belangrik is aangesien (die meeste) mense minder geneig is om iets uit te stel waaraan hulle waarde heg.[10] Aan die ander kant kan oormatige uitstel 'n probleem raak en normale funksionering belemmer. Wanneer dit gebeur, kan uitstel tot gesondheidsprobleme, stres,[11] angstigheid en skuldgevoelens lei. Verder is daar 'n gebrek aan persoonlike produktiwiteit en sosiale afkeuring aangesien verantwoordelikhede en ondernemings nie nagekom word nie. Saam kan hierdie gevoelens tot verdere uitstel lei en vir sommige individue raak uitstel amper chronies. Hierdie uitstellers kan dit moeilik vind om ondersteuning te soek, juis as gevolg van die uitstel self, maar ook weens sosiale stigma en die idee dat taakvermyding deur luiheid, 'n gebrek aan wilskrag of lae ambisie veroorsaak word. In sommige gevalle kan problematiese uitstel 'n teken van 'n onderliggende geestesteuring wees, maar nie noodwendig nie.
Navorsing oor die fisiologiese oorsake van uitstel fokus op die rol van die prefrontale korteks,[12] die area van die brein wat vir uitvoerende breinfunksies soos impulsbeheer, aandag en beplanning verantwoordelik is. Die prefrontale korteks dien ook as 'n filter wat stimuli van ander breinareas verminder. Skade of 'n lae aktivering in hierdie area van die brein kan 'n individu se vermoë om afleidings te filtreer, verswak, en tot swakker organisasie, aandagafleibaarheid en verhoogde uitstel lei.
In 'n 2014-studie waar uitstel en impulsiwiteit by gewone en identiese tweelinge ondersoek is, is daar bevind dat albei eienskappe "matig oorerflik" is.[13]
Die sielkundige William J. Knaus het beraam dat 90% van studente uitstel.[14] 25% van hierdie studente is chroniese uitstellers en dit is gewoonlik hulle wat uiteindelik hulle studies laat vaar.
Perfeksionisme is 'n hoofoorsaak van uitstel,[15] want 'n strewe na perfeksie lei gewoonlik tot mislukking. Ten einde uitstel onder beheer kry, is dit noodsaaklik om die realiteit van mislukking te erken en te aanvaar sonder om te veroordeel,[16] en om op te hou om op foute en swakhede te fokus en om doelwitte te stel wat makliker bereikbaar is.
Hanteer uitstel só:
Piers Steel beweer[17] dat beter tydbestuur 'n sleutel tot die oorkoming van uitstel is. Dit sluit in dat 'n persoon bewus is of hy/sy 'n oggendmens of nagwolf is, en daardie tyd sinvol dan gebruik. Steel sê dit is noodsaaklik om realistiese doelwitte te hê, om probleme een vir een aan te pak en om die klein suksesse te koester.
Vir sommige mense kan uitstel konstant wees en ongelooflik ontwrigtend op hulle daaglikse lewe inwerk. Vir hierdie individue kan dit simptomaties van 'n geestesversteuring wees. Uitstel is al aan verskeie negatiewe assosiasies gekoppel, soos depressie, irrasionele gedrag, lae selfbeeld, angs en neurologiese versteurings soos AGHS (ADHD). Ander toon 'n verband met skuldgevoelens en stres. Dit is dus belangrik dat persone wie se uitstellery chronies is en as verlammend beskou word, 'n opgeleide terapeut of psigiater gaan sien om vas te stel of daar 'n onderliggende gesondheidskwessie teenwoordig is.[18][verwysing benodig][19]
By sperdatums wat ver in die toekoms is, rapporteer uitstellers beduidend minder stres en fisieke ongesteldhede as nie-uitstellers. Namate die sperdatum nader kom, word hierdie verhouding egter omgekeer. Uitstellers rapporteer meer stres, meer siektesimptome en meer mediese besoeke, in so 'n mate dat uitstellers in totaal aan meer stres en gesondheidsprobleme ly.
Alhoewel die redes daarvoor onbekend is, bestaan daar 'n verband tussen uitstel en aandheid ("eveningness"); dit wil sê, persone wat uitstel, is meer geneig om later te gaan slaap en later op te staan. Dit is bekend dat nougesetheid sowel as oggendheid ("morningness") met die jare toeneem terwyl[20] uitstel afneem.[21]
Ten einde die hipotese te toets dat uitstellers minder op die toekoms fokus weens 'n groter fokus op onmiddellike belange, het voorgraadse studente verskeie vraelyste voltooi, en is daar inderdaad bevind dat uitstellers minder op die toekoms fokus. Navorsers het ook verwag dat uitstel met 'n hedonistiese perspektief op die hede geassosieer sou word, maar het bevind dat uitstel eerder deur 'n fatalistiese en wanhopige ingesteldheid teenoor die lewe voorspel word.[22] Hierdie bevinding het vorige navorsing bevestig wat 'n verband tussen uitstel en depressie geïdentifiseer het.
Volgens 'n Opvoedkundige Wetenskap-professor, Hatice Odaci, is uitstel 'n groot probleem gedurende universiteitsjare, deels aangesien baie studente nie oor die tydsbestuursvaardighede beskik wanneer hulle die Internet gebruik nie. Odaci merk ook op dat die meeste kolleges 'n gratis en vinnige vier-en-twintig-uur Internetdiens bied waaraan sommige studente nie gewoond is nie. As gevolg van onverantwoordelike gebruik of gebrek aan brandmure verval hierdie studente in 'n patroon van uitstel.[23]
"Studentsindroom" verwys na die verskynsel waar 'n student hom of haar eers onmiddellik voor 'n sperdatum op 'n taak toespits. Dit negeer die sin van enige buffers wat by tydberamings vir individuele take ingebou is.
Ander redes vir uitstel onder studente behels vrees vir mislukking en sukses, perfeksionistiese verwagtings, sowel as geldige aktiwiteite wat voorkeur bo akademiese take geniet, soos 'n werk.[24]
Uitstellers verdien ook swakker punte as nie-uitstellers. Die negatiewe assosiasie tussen uitstel en akademiese prestasie is herhalend en konstant.
Uitstel is baie meer algemeen onder studente as onder die algemene bevolking; meer as 70 persent raporteer dat hulle op een of ander tydstip uitstel.[25] In 'n paneelstudie wat in 2014 in Duitsland onder 'n paar duisend studente gedoen is, is daar bevind dat toenemende akademiese uitstel die veelvuldigheid van sewe verskillende vorms van akademiese wangedrag laat toeneem; studente versin verskonings, pleeg plagiaat, skryf af in eksamens, gebruik verbode hulpmiddels in eksamens, bring verbode hulpmiddels na die eksamenlokaal, skryf gedeeltes van ander se huiswerk af, en fabriseer en vervals data.[26] Volgens die studie word akademiese wangedrag as 'n manier beskou om die negatiewe gevolge van akademiese uitstel soos swakker prestasie te hanteer.
{{cite journal}}
: Cite journal requires |journal=
(hulp)
{{cite journal}}
: Cite journal requires |journal=
(hulp)