Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Swede |
Landskap | Uppland |
Län | Uppsala |
Koördinate | 59°51′N 17°39′O / 59.850°N 17.650°O |
Stigting (eerste verwysing) | 1070 |
Stadstatus | 1302 |
Oppervlakte: | |
- Totaal (kommun) | 2 234,33 vk km[1] |
Hoogte bo seevlak | 15 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2023) | 245 329[2] |
- Bevolkingsdigtheid (kommun) | 109,8/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 6,5 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | −2,7 / 17,7 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 575,6 mm |
Amptelike webwerf | www.uppsala.se |
Uppsala (Sweeds: [ˈɵpːˌsɑːla], ) is 'n stad in die huidige Sweedse län Uppsala en die historiese provinsie (Sweeds: landskap) Uppland. Uppsala dien as die administratiewe hoofstad van sowel die län asook die gelyknamige munisipaliteit (Sweeds: kommun).
Uppsala is ten opsigte van sy bevolking die vierde grootste stad in die land ná Stockholm, Gotenburg en Malmö met 'n oppervlakte van 2 234,33 vierkante kilometer en 'n bevolking van 245 329 (2023). Dit is in administratiewe opsig in sewe stadsdistrikte verdeel.
Uppsala staan veral bekend vir sy universiteit, die Universiteit van Uppsala wat in 1477 as die twee tersiêre instelling in Skandinawië na die destydse Deense Lund (1425; later Lund Universiteit) gestig is.
Uppsala was sedert die Wiking-tydperk die koninklike hoofstad, 'n belangrike markstad en vergaderplek (as stad waar die ting gehou is) en die geestelike sentrum van Swede. Die heidense tempel van Ou-Uppsala het as die religieuse sentrum van die Sweedse stamme gedien en is in 1070 deur die Duitse geskiedskrywer Adam van Bremen as 'n pragtige gebou beskryf. Die tempel was oor 'n lang tydperk ook die middelpunt van die weerstandsbeweging teen die kerstening van die land.
Teen die einde van die 11de eeu het Ou-Uppsala die setel van 'n biskop geword en in 1164 het die Sweedse aartsbiskop hom ook in Uppsala gevestig. Die aartsbiskop se paleis is in die 13de eeu na Nieu-Uppsala, sowat twee myl van suid van Ou-Uppsala, verskuif. In 1260 is met die oprigting van die katedraal begin.
Gedurende die Middeleeue het Duitse koop- en ambagsmanne hulle in Uppsala begin vestig. In 1302 het die dorp stadstatus ontvang. Die aartsbiskop het oor 'n lang tydperk 'n sentrale politieke figuur in Swede gebly; sy magsbasis was sowel sy geestelike reputasie asook sy groot landerye en gewapende wagte. Uppsala was daarnaas ook steeds Swede se kroningstad en die plek vir belangrike vergaderings van die Sweedse adel (Sweeds: herredagar) en is sodoende as die werklike hoofstad van die land beskou.
Tydens die bevrydingsoorlog onder Gustaaf I Wasa is die biskoplike paleis in 1521 afgebrand, en as gevolg van die Reformasie en sekularisasie van kerklike besittings het Uppsala sy leidende rol langsamerhand verloor, en sy inwonertal het gedaal. Nogtans het die Swede steeds besoeke aan Uppsala afgelê, en in 1547 is met die boubedrywighede vir die koninklike slot begin. Die verwagting dat Uppsala die permanente woonplek van die koning sou kan word het tot 'n ekonomiese herlewing gelei. Die universiteit het danksy 'n aantal skenkings deur koning Gustaaf II Adolf die kerk as ekonomiese dryfkrag begin vervang.
Ná twee verwoestende brande in die 18de eeu het die bou van 'n spoorweglyn tussen Uppsala en Stockholm en die vestiging van 'n artillerieregiment 'n nuwe groeifase ingelui. In 1888 het Uppsala se bevolking tot 21 249 gestyg.