Vark

Vark
Tydperk: 6.5–0 m. jaar gelede
Gedomestikeerd
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Sus

Spesies
Verskeie. Sien teks.
Jong varke.

Varke vorm die genus Sus wat aan die familie Suidae van die soogdier-orde Cetartiodactyla (ewehoewiges) behoort. Dit het almal gesplete hoewe en is nouverwant aan die pekari. Varke kom oorspronklik uit Eurasië en word saamgegroepeer onder die genus Sus binne die Suidae familie. Varke is veral bekend om hul vraatsug en onsindelikheid. Minder bekend is egter dat hulle besonder intelligente diere is.[1]

Die varkspesie (Sus scrofa) is ongeveer 5 000 tot 7 000 jaar gelede deur die mens makgemaak. Mak varke is veediere en 'n belangrike bron van voedsel in die wêreld. Varkvleis is tewens die mees verbruikte vleis ter wêreld, en verteenwoordig sowat 45% van die wêreldwye vleismark. Ander byprodukte wat uit varkweefsel verkry word sluit in leerprodukte, gom, porselein en 'n verskeidenheid dierevetprodukte.[2] Varke se belang in biomediese navorsing en behandelings het ook onlangs toegeneem. Varke se lang en noue betrokkenheid by die mens het ook 'n diep spoor gelaat by menslike kultuur, veral in kunswerke en gesegdes.

Varke is omnivore met 44 tande, insluitende hul krom slagtande, wat by die beer opvallend is en voortdurend groei, maar nié by die sog nie. Die volwasse beer (manlik) is groter as die sog (vroulik). Hulle kort ledemate het vier tone elk en elke toon eindig in 'n hoef. Die kop het 'n driehoekige profiel wat eindig in die skyfagtige snoet, wat intern ondersteun word deur die rostrale been wat met die neuskraakbeen verbind is. Hierdie anatomiese konfigurasie stel die vark in staat om sy neus soos 'n skopgraaf aan te wend om wortels uit te vroetel. Varke kry oor die algemeen groot werpsels (gemiddeld 10 – 12),[3] terwyl sommige spesies se werpsel uit slegs een kleintjie bestaan.

Wildevarke

[wysig | wysig bron]

Soos seekoeie, is varke nie-herkouende, ewehoewige soogdiere met kort stekelrige hare. Hulle het kort pole waarvan die tone in kloutjies eindig. Die dier steun egter net op die verlengde middelste tone. Die vark het 'n verlengde neus wat in ʼn snoet eindig en 'n volledige stel tande met snytande in die bo- en onderkaak. Die mannetjies het groot slagtande wat by die bek uitsteek.

Wildevarke hou gewoonlik in ʼn trop waarvan die sôe en kleintjies die kern vorm; die volwasse mannetjies hou meestal op hulle eie en soek die wyfies slegs gedurende paartyd op. Varke eet enigiets en dolwe die grond met hulle snoete om op soek na knolle, sappige wortels. paddastoele, larwes, wurms en slakke. Verder eet hulle gras. muise, akkers. vrugte en verrottende materiaal.

Tropiese soorte word dikwels op die strand aangetref op soek na uitgespoelde visse, skulpdiere en skilpadeiers. Varke het ʼn besonder goed ontwikkelde reukorgaan; mak varke word dikwels gebruik om eetbare paddastoele op te spoor.

Egte varke

[wysig | wysig bron]

Die subfamilie Suinae kom in Europa, Asië en Afrika voor, terwyl die gewone wildevark (Sus scrota) in die hooglande van Tibet en Noord-Afrika aangetref word. Daar is gemeen dat die dwergvark uitgesterf het, maar die soort word wel nog in Assam, Indië gevind. Die Asiatiese vlakvark (Sus verrucosus) met sy kenmerkende groot vratte op die kop, kom in verskillende vorms voor in onder meer Sumatra, Java en die Filippyne.

Die babiroesa (Babyrousa babyrussa), van die Indonesiese eiland Celebes. Het baie lang slagtande wat deur die bolip groei en bo omkrul. Behalwe die gewone wildevark. is Afrika ook die tuiste van die reusevark (Hylochoerus meinertzhageni) wat tot 850 kg weeg, en eers in 1904 in die woude van die Kongobekken ontdek is. Die Afrikaanse vlakvark (Phacochoerus aethiopicus) is ʼn komieklike dier met sy breë kop vol uitsteeksels, groot slagtande en stert wat dikwels regop staan.

Die Afrikaanse bosvark (Potamochoerus porcus) het digte hare met kwaste aan die ore. In Amerika word varke verteenwoordig deur die nawelvark (subfamilie Dicotylinae) wat 'n groot ovaalvormige klier op die rug het. Die funksie van hierdie klier is onbekend. Die halsbandnawelvark (Tayassu tajacu) word in die suidelike deel van die VSA tot in Patagonië aangetref, terwyl die pekari tot Suid-Amerika beperk is.

Mak varke

[wysig | wysig bron]

Sowat 5 000 jaar gelede is varke al aangehou. Mak varke is almal uit die gewone wildevark geteel. Sowel die Grieke en Romeine as die Kelte en Germane het varke aangehou, terwyl die vark veral in China 'n vername bron van vleis was. Varke. honde en hoenders is ook op die eilande in die Stille Oseaan aangehou.

Varke en varkvleis was natuurlik nie oral ewe gewild nie – in Ou Egipte is varkvleis na die Derde Dinastie slegs deur sekere bevolkingsgroepe geëet, terwyl Midde-Oosterse volke die vark as onrein beskou het. Gedurende die Middeleeue was varke gewild in Europa en hulle is deur Columbus tydens sy tweede reis in 1493 na die Nuwe Wêreld gebring.

Sedert die koms van Jan van Riebeeck in 1652 is varke in Suid-Afrika aangehou en hulle is nou nog algemeen op baie Suid-Afrikaanse plase. Die moderne varkboerdery is egter 'n verskynsel van hierdie eeu. Daar bestaan 'n groot aanvraag na spek en ham in die land, hoewel skaap- en beesvleis gewilder as varkvleis is.

Enkele rasse

[wysig | wysig bron]

Rasse wat 'n belangrike rol gespeel het in die verbetering van die vleisrasvarke. Was onder meer die Berkshire, Yorkshire, en Skandinawiese rasse soos die Landras en die Grootwit (Large White). Die Berkshire is van die oudste suiwer rasse uit Engeland, terwyl die Yorkshire, wat vroeg uit die 19e eeu dateer, wêreldwyd aangehou word. Ook die Hampshire is afkomstig uit Engeland. Landrasvarke kom oorspronklik van Denemarke, Swede, Duitsland en Nederland.

Suid-Afrika het in 1953 Sweedse en Nederlandse Landrasvarke hierheen ingevoer en spoedig was hulle die gewildste varkrasse in Suid-Afrika vanweë hulle voortreflike eienskappe. Sedert 1959 is hierdie ras bekend as die Suid-Afrikaanse Landras. Die Duroc, die Poland China en die Spotted Poland China word in die VSA aangetref, terwyl die Lacombe weer 'n Kanadese ras is, ontwikkel uit kruisings tussen onder meer die Deense Landras en die Berkshire.

Die Pietrain is afkomstig uit België en word veral in kruistelings gebruik. Die Minnesota Nr. 1 is in 1952 uit die VSA na Suid-Afrika ingevoer en is 'n uitstekende vleis-en spekvleisras. Naas die Landras is die Grootwit seker een van die gewildste rasse in Suid-Afrika. Ander rasse wat in Suid-Afrika voorkom, is die Grootswart, die Tamworth, die Wessex Saddleback (saalrug) en die Essex Saddleback.

Varkboerdery

[wysig | wysig bron]

Varkboerdery het in die laaste 150 jaar baie verander en gespesialiseerd geword. Vroeër het varke buite rondgeloop en self kos gesoek. Langsamerhand is varke in skure aangehou en vetgemaak. Deense en Engelse hokke het ʼn misgang om die uitwerpsel op te vang en higiëniese toestande te verseker. Die moderne vorm van huisvesting is die sogenaamde roosterstal, waarvan die vloer uit betonbalke bestaan en die mis deur die splete in die vloer getrap word.

ʼn Groot nadeel van hierdie tipe stal is dat die diere beenbreuke opdoen en 'n vorm van kannibalisme onder hulle ontstaan sodra die stal te vol raak. Genoeg voer, die regte temperatuur, genoeg beweegruimte en vars lug is baie belangrik. Varke floreer op mielies, koring, sorghum en sojaboonmeel. In sommige lande word varke ook gevoer met afval soos sitruspulp en ander voedselbronne wat vir menslike gebruik ongeskik is. Verbeterings op die gebied van teling, siektebeheer en voeding (onder meer deur die insluiting van antibiotika en hoëproteïenbyvoedings) het bygedra tot verbeterde produksie. Wat varksiektes betref is bakterie en virussiektes die belangrikste.

Gastroënteritis is veral gevaarlik vir klein varkies, terwyl wurms en parasiete wel beheer kan word. Varke word dikwels op 'n nalatige wyse vervoer wat hartverlamming by hulle kan veroorsaak. Varke teel vinnig aan en groei ook vinnig. Gewoonlik word varke voor volwassenheid geslag; in die geval van vleisvarke gewoonlik op die ouderdom van 4 maande (± 50 kg), terwyl spekvleisvarke op 6 maande (± 90 kg) geslag word. Dragtigheid duur ongeveer 114 dae en 8 tot 12 varkies word gewoonlik gebore.

Wat varkboerdery betref, loop China los voor met ongeveer 230 miljoen varke, gevolg deur Brasilië, Rusland, die VSA en Duitsland. Die varkvleisbedryf is verder belangrik in lande soos Pole, die Skandinawiese lande, Argentinië en Suid-Afrika.

In Suid-Afrika is die Suid-Afrikaanse Varktelersvereniging en die Suid-Afrikaanse Stamboekvereniging onder meer verantwoordelik vir die organisasie en die bevordering van stoetvarkteling. Behalwe in die landboufakulteite aan sekere universiteite, word navorsing ook gedoen by Cedara, Elsenburg en Irene.

As gevolg van navorsing en kundigheid ten opsigte van teling, voeding, die beheer van siektes en huisvesting, het varkvleisproduksie in 'n gespesialiseerde bedryf ontwikkel en lewer 'n belangrike bydrae tot die toenemende vraag na rooivleis.

Spesies

[wysig | wysig bron]
'n Vleisrasvark lê en rus
  • Sus barbatus
  • Sus bucculentus (moontlik uitgestorwe)
  • Sus cebifrons
  • Sus celebensis
  • Sus domestica
  • Sus falconeri (uitgestorwe)
  • Sus heureni
  • Sus hysudricus (uitgestorwe)
  • Sus oliveri
  • Sus philippensis[4]
  • Sus salvanius
  • Sus scrofa
  • Sus strozzi (uitgestorwe)
  • Sus timoriensis
  • Sus verrucosus

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. National Geographic Video uittreksel wat die verstommende intelligensie van hierdie diere bespreek.
  2. http://www.mnpork.com/education/swine.php Geargiveer 4 Maart 2008 op Wayback Machine – Opvoedkundige artikels oor varke.
  3. http://www.vegsoc.org/info/pigs.html Geargiveer 23 Februarie 2008 op Wayback Machine – Artikel oor varke by die Vegetariese vereniging in die Verenigde Koninkryk
  4. Zoological Journal of the Linnean Society (1997), 120: 163–191.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]