'n Vasektomie word gewoonlik in 'n dokter se spreekkamer of mediese kliniek uitgevoer, of in die geval van diere in 'n veearts se kliniek. Hospitalisasie is gewoonlik onnodig, want dit is 'n roetineprosedure en nie ingewikkeld nie, en die snitte is baie klein.
Daar is verskeie maniere vir 'n vasektomie, wat almal ten doel het om minstens een kant van elke vas deferens te verseël. Daar is metodes om angs te verminder en die pasiënt gemaklik te laat voel, soos die gebruik van geen naalde vir narkose nie.[1]
Omdat 'n vasektomieprosedure so eenvoudig is, kan dit gewoonlik binne 30 minute gedoen word. Die pasiënt kan binne sowat 'n uur huis toe gaan om te rus. Baie mans kan binne 'n week hulle seksbedrywighede hervat.
Die prosedure word as 'n permanente manier van geboortebeperking beskou en kan nie maklik omgekeer word nie. Pasiënte kry dikwels berading sodat hulle die emosionele én fisieke uitwerking op lang termyn kan verstaan.[2][3] Die prosedure word gewoonlik nie aanbeveel vir jong, kinderlose mans nie, want hulle is meer geneig om ná die tyd spyt te wees omdat hulle kans op ouerskap verklein of uitgeskakel word.
Moontlike komplikasies op kort termyn sluit in infeksie, kneusing en bloeding in die skrotum as deel van 'n versameling van bloed buite die are, bekend as hematoom.[4] 'n Studie in 2012 het die infeksiekoers op 2,5% van gevalle vasgestel.[5] Die steke wat ná die tyd ingesit word, is geneig tot irritasie, maar die kans kan verklein word deur dit met gaas of klein pleisters te bedek.
Die belangrikste komplikasies op lang termyn is chroniese pyntoestande of sindrome wat enige van die laerbekkenstreke kan aantas. Die risiko van testikulêre kanker word nie deur 'n vasektomie beïnvloed nie.[6]
In 2014 het die Amerikaanse Urologievereniging (AUA) herbevestig dat 'n vasektomie ook nie 'n risikofaktor vir prostaatkanker is nie. Daar is bevind 'n chirurg hoef nie prostaatkanker te bespreek in hulle konsultasie voor 'n vasektomie nie.[7] Die risiko vir prostaatkanker bly egter omstrede. 'n Studie in 2017 het bevind daar is geen aansienlike toename in die risiko nie,[8] maar 'n studie in 2019 onder 2,1 miljoen Deense mans het bevind vasektomie het die voorkoms van prostaatkanker met 15% verhoog.[9] In 'n ontleding in 2020 is bevind 'n vassektomie verhoog die voorkoms met 9%.[10]
Ander, onlangser studies het die syfer van 15% bevestig, maar bevind mans wat 'n vasektomie gehad het, se kans om aan prostaatkanker te sterf is nie groter as dié sonder 'n vasektomie nie.[11][12]
Postvasektomie-pynsindroom is 'n chroniese en soms aftakelende toestand wat onmiddellik of 'n paar jaar ná 'n vasektomie kan ontwikkel.[13] Die grootste studie oor dié soort pyn is in 2012 deur die AUA gedoen.[14] Mense is net voor en sewe maande ná 'n vasektomie ondervra. Van dié wat gesê het hulle het nie voor die tyd enige skrotumpyn ervaar nie, het 7% verskeie maande later pyn ervaar wat hulle as "lig, 'n effense steurnis" beskryf het, 1,6% pyn wat "gematig was, het pynstillers nodig gehad" en 0,9% pyn wat "taamlik erg was en hulle lewensgehalte beïnvloed het".[15] Postvasektomiepyn kan óf konstant wees óf met tye ervaar word soos met seks, ejakulasie of fisieke inspanning.[16]
Sowat 90% van mans is na berig word tevrede met die feit dat hulle 'n vasektomie gehad het,[17] terwyl 7-10% spyt is oor hulle besluit.[18] Vir die mans in 'n verhouding het spyt minder voorgekom as albei maats saam besluit het om die prosedure te laat uitvoer.[19]
Jonger mense wat 'n vasektomie kry, is aansienlik meer geneig om spyt te wees en 'n omkeringsoperasie te vra. Mense in hulle 20's is volgens een studie 12,5 keer meer geneig om 'n ommekeer van hulle vasketomie later in hulle lewe te verlang. Berading voor die operasie word gewoonlik vir jonger pasiënte aanbeveel.[20][21]
Om 'n moontlike swangerskap later in hulle lewe moontlik te maak deur middel van kunsmatige bevrugting, laat sommige mans voor 'n vasektomie van hulle sperma vries. Dr. Allan Pacey, 'n senior lektor in andrologie aan die Universiteit van Sheffield en sekretaris van die Britse Vrugbaarheidsvereniging, sê baie mense wat hom vir 'n omkeringsoperasie kom spreek, sê as hulle daaraan gedink het, sou hulle dit laat doen het. Pacey skryf: "Die probleem is dat jy 'n man vra om 'n moontlike toekoms sonder sy huidige maat te voorsien – en dit kan moeilik wees as sy langs jou sit."[22]
Hoewel mense wat 'n vasektomie oorweeg nie daaraan moet dink as omkeerbaar nie, kan lewensomstandighede verander. Daar is 'n chirurgiese prosedure met vasovasostomie ('n vorm van mikrochirurgie) waarmee 'n vasektomie omgekeer kan word. Dit is in 1971 die eerste keer uitgevoer.[23][24] Vasovasostomie is doeltreffend om swangerskappe met 'n wisselende mate van sukses moontlik te maak, maar kos duisende rande (in Amerika $10 000 en meer).[25] Die sukseskoers is sowat 55% as dit binne 10 jaar gedoen word en neem daarna af tot sowat 25%.[26]
Ná 'n omkeringsoperasie is die spermtelling en -beweeglikheid aansienlik laer as voor die tyd. Daar is ook bewyse dat meer abnormale sperma vervaardig kan word.[27][28] Dit kan lei tot 'n groter gevaar van misvorming by pasgebore babas.[27]
Sowat 2% van mans wat 'n vasektomie gehad het, sal binne 10 jaar 'n omkeringsoperasie laat doen.[21] Van die redes is die opbreking van 'n verhouding, die dood van 'n lewensmaat of kind, of 'n verandering in lewensomstandighede soos beter finansies.[22] Sommige operasies word ook gedoen in 'n poging om postvasektomie-pynsindroom te verlig.[29]
Die eerste vasektomieë op mense is in die laat 19de eeu uitgevoer. Dit is aanvanklik gebruik as behandeling vir prostaatvergroting en om "uitgeworpenes" te steriliseer.[30] Vasektomie as 'n metode van vrywillige geboortebeperking het in die Tweede Wêreldoorlog begin.[31] Die eerste vasektomie op rekord is in 1823 op 'n hond uitgevoer.[31]
Kastrasie is soms in die 1880's gebruik as behandeling teen 'n vergrote prostaat, maar weens die ernstige newe-effekte het dokters alternatiewe metodes gesoek. Die eerste persoon wat vasektomie in die plek van kastrasie aanbeveel het, was óf die Amerikaner James Ewing Mears (in 1890) óf die Fransman Jean Casimir Félix Guyon.[30] Die eerste vasektomie op 'n mens is vermoedelik deur die Britse chirurg Reginald Harrison uitgevoer.[31] Teen 1900 het Harrison berig hy het al meer as 100 vasektomieë uitgevoer, met geen nadelige uitwerking nie.[30]
In die laat 1890's is vasektomieë ook voorgestel vir die sterilisasie van mans wat beskou is as onbevoeg om voort te plant. Die eerste so 'n voorstel in die VSA was in 1897 deur A.J. Ochsner, 'n chirurg van Chicago, in 'n geskrif met die naam "Surgical treatment of habitual criminals". Hy het geglo vasektomieë is 'n eenvoudige, doeltreffende manier om die golf van rasse-agteruitgang te keer wat in dié tyd algemeen as werklik ervaar is.[32][33] In 1902 het Harry C. Sharp, die chirurg van die Indiana-verbeteringskool, berig hy het 42 aangehoudenes gesteriliseer in 'n poging om beide misdaadgedrag in sulke individue en die geboorte van toekomstige misdadigers te verminder.[34]
Die Oostenrykse dokter Eugen Steinach (1861-1944) het geglo 'n eensydige vasektomie (die afbinding van net een vas deferens) in ouer individue kan algemene en seksuele lewenskrag herstel, vergrote prostate verklein en verskeie kwale genees deur op 'n manier die hormoonvervaardiging van die gevasektomiseerde tetikel te vergroot.[35] Dié prosedure het in die 1920's baie gewild geword en is ondergaan deur baie ryk mans, insluitende Sigmund Freud en W.B. Yeats.[36] Dié uitwerking was waarskynlik nie werklik nie en ná die latere ontwikkeling van sintetiese, inspuitbare hormone het dié operasie sy gewildheid verloor.[35][37]
Vasektomie is in die Tweede Wêreldoorlog begin gebruik as 'n manier van vrywillige geboortebeperking.[31] Die eerste vasektomieprogram op 'n nasionale vlak is in 1954 in Indië van stapel gestuur.[38]
↑Labrecque, Michel; Paunescu, Cristina; Plesu, Ioana; Stacey, Dawn; Légaré, France (2010). "Evaluation of the effect of a patient decision aid about vasectomy on the decision-making process: a randomized trial". Contraception. 82 (6): 556–562. doi:10.1016/j.contraception.2010.05.003. PMID21074020.
↑Nangia, Ajay K.; Myles, Jonathan L.; Thomas Aj, Anthony J. (2000). "Vasectomy Reversal for the Post-Vasectomy Pain Syndrome: : A Clinical and Histological Evaluation". The Journal of Urology. 164 (6): 1939–1942. doi:10.1016/S0022-5347(05)66923-6. PMID11061886.
↑Labrecque, Michel; Paunescu, Cristina; Plesu, Ioana; Stacey, Dawn; Légaré, France (2010). "Evaluation of the effect of a patient decision aid about vasectomy on the decision-making process: a randomized trial". Contraception. 82 (6): 556–562. doi:10.1016/j.contraception.2010.05.003. PMID21074020.
↑Köhler TS, Fazili AA, Brannigan RE (Augustus 2009). "Putative health risks associated with vasectomy". Urol. Clin. North Am. 36 (3): 337–45. doi:10.1016/j.ucl.2009.05.004. PMID19643236.
↑Horovitz, D. (Februarie 2012). "Vasectomy reversal provides long-term pain relief for men with the post-vasectomy pain syndrome". Journal of Urology. 187 (2): 613–7. doi:10.1016/j.juro.2011.10.023. PMID22177173.
↑Carlson, Elof Axel (2011). "The Hoosier Connection: Compulsory Sterilization as Moral Hygiene". In Lombardo, Paul A. (red.). A Century of Eugenics in America: From the Indiana Experiment to the Human Genome Era. Indiana University Press. p. 19. ISBN978-0253222695.
↑Reilly, Phillip (1991). The Surgical Solution: A History of Involuntary Sterilization in the United States. Johns Hopkins University Press. pp. 30–33.
↑ 35,035,1Schultheiss, Dirk; Engel, Rainer M. (1 November 2003). "G. Frank Lydston (1858–1923) revisited: androgen therapy by testicular implantation in the early twentieth century". World Journal of Urology (in Engels). 21 (5): 356–363. doi:10.1007/s00345-003-0370-z. ISSN0724-4983. PMID14586546. S2CID12706657.
↑Ellmann, Richard (9 Mei 1985). "Yeats's Second Puberty". The New York Review of Books. Besoek op 23 Augustus 2017.