Veii | ||
Silenus met nimbus; Veii 5de eeu v.C. | ||
Koördinate | 42°01′24″N 12°23′23″O / 42.02333°N 12.38972°O | |
Plaaslike naam | Vei(s), Uentia; Veio | |
Land | ![]() | |
Soort | Argeologiese terrein | |
Streek | Suid-Europa | |
Oppervlakte | 190 ha (470 akker) | |
Geskiedenis | ||
Kulture | Etruskers |
Veii (Etruskies: Vei(s), Uentia; Italiaans: Veio) was 'n belangrike stad van die Etruskers wat in 396 v.C. deur die Romeine ingelyf is. Dit was 17 km noord van Rome geleë[1] en sy verowering vorm die eerste groot uitbreiding van die gebied van die Romeinse staat.[2]
Die stad is op 'n plato geleë wat met steil oewers deur twee riviere begrens word, die Cremera (vandag: Valchetta) en die Mola. Die sitadel is in die suide en dit word deur duisende grafte in kringe omring. Opgrawings het 'n indrukwekkende tempel gewys wat omtrent 510 v.C. gebou is en dalk aan Apollo en Hercules gewy is.[1] Veii is saam met die ander stede van Suid-Etrurië Cerveteri, Tarquinia, Vulci en Orvieto een van die mees gevorderde nedersettings van die Etruskers. Die vroegste beskilderde graf (laat 8ste/ vroeg 7de eeu v.C.) is hier aangetref. Dit wys dieselfde soort leeus wat ook op aardewerk gevind word.[3]
Daar is reeds vroeg met die koninkryk Rome gebaklei oor die mag oor die regteroewer van die ripa veis oftwel die Tiber. In 477 v.C. het die Fabii op die Cremera 'n groot nederlaag gely en sowat dertig jaar later het A. Cornelius Cossus die koning van Veii Lars Tolumnius gedood.[1]
Tradisioneel word aangeneem dat daar drie oorloë was:
Livius sê dat die ander Etruskiese stede by die Fanum Voltumnae (naby Volsinii) saamgekom het en geweier het om Veii te help, maar dit is nie seker dat daar iewers politieke samewerking tussen die Etruskiese stede was.[4]
Die stad word in 396 v.C. verwoes en ritueel begrawe. Die Romeine beweer dat die beeld van die godin Juno geknik het toe sy 'genooi' is om na Rome te kom om daar, pleks van in Veii, vereer te word. Dit wys hoe die Romeine die stad as mededinger wou uitskakel, ook in religieuse opsigte.[3] Daar word geraam dat ná die inlywing Veii se gebied 60% van Rome se totale oppervlak behels het. Die Romeine het dit altyd as 'n belangrike stap in hulle geskiedenis gesien en die oorlog teen Veii is dikwels soos die tienjarige oorlog tussen die Grieke en Troje beskryf, maar oor die ware toedrag van sake is min bekend. Rome het ná Veii se inlywing amper opgehou om sy Cappellaccio tufa as boumateriaal te gebruik omrede Veii se Grotta Oscura tufa baie beter was. Daar het ook baie meer grond bygekom waar met slawe geboer is. Ná die inname van die stad deur Camillus is die burgers van Veii as slawe verkoop.[2]