Vibrasies word beskryf as trillende of slingerende bewegings, soos wanneer jy ’n kartonhouer of opgeblaasde ballon in jou hande vashou en duidelik die bewegings voel wanneer jy praat of sing.
’n Gepaste voorbeeld is ’n vibrato, ’n stem waarby die toonhoogte of toonsterkte (of albei) ses of sewe keer per sekondes tussen nou grense kan verander.
Verskeie voorwerpe kan vibreer of ossilleer, insluitend ’n stemvurk, die pendulum van ’n staanhorlosie, ’n plastiekliniaal wat ferm oor die kant van ’n tafel gehou en dan lig getik word en ook die snare van ’n klavier of kitaar.
Ander interessante voorbeelde van vibrasies is:
Vibrasies en golwe is nou verbind: die golwe in die see, die golwe in ’n gespande snaar en selfs die golwe van aardbewings het vibrasies as hul oorsprong.
Dit is bekend dat baie vastestowwe ’n kristalvorm het, waarin die molekules reëlmatig gerangskik is en deurlopend vibreer. As die vastestof verhit word, vibreer hulle erger en dit kan ’n paar veranderings aan die stof meebring.
By sommige vastestowwe kan die hitte die vibrasie van die molekules só erg maak dat die elektriese kragte tussen hulle hulle nie meer bymekaar kan hou nie en dan smelt die vastestof, met ander woorde, sit om in ’n vloeistof.
Dieselfde kan van die omskakeling van ’n vloeistof na ’n gas gesê word, waar die vibrasie van die molekules selfs vinniger raak wanneer dit aan hitte-energie blootgestel word.
Vibrasies is die bron van enige klank. So te sê enige voorwerp kan vibreer en dus klank tot gevolg hê.
Klank is ’n ossillasiebeweging wat as ’n golf deur ’n materiële medium voortbeweeg, soortgelyk aan die beweging van ’n golf op die oppervlakte van die see.
In musiekinstrumente is die bron van die vibrasies om die kitaarsnaar te pluk, klaviersnare met verskillende hamertjies te slaan, of in ’n trompet, klarinet of fluit te blaas. ’n Trom het ’n styfgespande membraan en klokke en simbale gebruik vibrerende metaal.
Al speel ’n klavier en ’n klarinet note van dieselfde toonhoogte, verskil hul klanke natuurlik van mekaar. Hulle het wel dieselfde frekwensie, maar die vorm van grafieke wat deur middel van ’n ossilloskoop getrek word, verskil aansienlik vanweë die teenwoordigheid van elkeen se eie botone.
Golwe ontstaan en die bron daarvan vibreer teen sy natuurlik weerklinkende frekwensie. Die frekwensie (die frekwensie-eenheid hertz word gebruik) is dieselfde as die bron, maar die snelheid en golflengtes kan verskil. Die frekwensie in hertz is byvoorbeeld 262 Hz vir die noot C, 349 Hz vir noot F en 392 Hz vir die noot G. Die frekwensie van die klank bepaal dus die toonhoogte daarvan.
Die laagste frekwensie wat ’n normale menseoor kan hoor, is sowat 20 Hz (20 siklusse per sekonde) en die hoogste is 20 000 Hz.
’n Mens se ore is baie goed om klankenergie na te speur. Die hardheid van die klank hang af van die druk wat deur die klankgolf meegebring word. Deurlopende blootstelling aan harde klanke kan egter doofheid veroorsaak.
Wat die spoed van klank betref, hang dit af van die materiaal waardeur dit beweeg. Klankgolwe word oorgedra deur vibrerende molekules wat teen mekaar stamp: in lug beweeg klank teen 330 meter per sekonde, in water (waar die molekules natuurlik nader aan mekaar is) is dit 1 500 meter per sekonde en in staal (styfgepakte molekules) 5 000 meter per sekonde.