Nymphalidae | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Superfamilie: | |
Familie: | Nymphalidae Rafinesque, 1815
|
Subfamilies | |
Diversiteit | |
Meer as 600 genera Omtrent 5 700 spesies |
Vierpotige of borselpotige skoenlappers (Nymphalidae) is die grootste familie van skoenlappers met ongeveer 6 000 spesies wat oor alle kontinente, met die uitsondering van Antarktika, voorkom.[1] Hulle is tipies kleurryk, gewoonlik medium-groot tot groot en die twee voorpote is onderontwikkeld.
Dié skoenlappers gebruik slegs hulle middelste en agterste paar pote om mee te loop. Die twee voorpote, wat opgekrul word, is toegerus met borseltjies en het nie kloue nie. Om dié rede word hulle borselpoot- of vierpootskoenlappers genoem.[2]
Vierpootskoenlappers het 'n kenmerkende vlug, na elke vlerkslag is daar 'n glyvlug. Die bokant van die vlerke is dikwels opvallend gekleurd, terwyl die onderkant altyd gekamoefleerd is. Hulle hou hul kleurryke vlerke plat wanneer hulle rus, en regop om in die omgewing weg te smelt. Die vlerk se spanwydte wissel van 3 tot 15 cm. Die geslagte het meestal verskillende kleure.
Die ruspes is gewoonlik harig of het stekels. Die papies het dikwels blink kolle. Die voorpote van die skoenlappers is nie ten volle ontwikkel nie, en dit lyk of hulle net vier pootjies het. Die voorpote word nie (soos die ander pote) gebruik om aan blare vas te klou nie, maar om die kop en antennes (voelhorings) skoon te maak.
Die volwasse skoenlapper se voeding bestaan uit verskeie vloeistowwe. Hulle kan met vrugte, mis, karkasse, urine en selfs sekere brandstowwe gelok word.
Ronde eiers word in groepe op die blare van bome, struike en kruidagtige plante gelê. Die papie vertoon dikwels opvallende, vratagtige bulte en hang aan die punt van sy agterlyf van die gasheerplant af.