Bynaam | (es) La Tricolor (af) Die Driekleur |
---|---|
Gebruik | Staatsvlag en vaandel en Oorlogsvlag |
Verhouding | 2:3 |
Goedgekeur | 26 September 1860[1] |
Ontwerp | ’n Horisontale driekleur in geel, blou en rooi met die land se wapenskild in die middel van die vlag. |
Gebruik | Burgerlike vlag en vaandel |
Ontwerp | ’n Horisontale driekleur in geel, blou en rooi. |
Die nasionale vlag van Ecuador is op 26 September 1860 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon drie horisontale bane in geel bo, blou in die middel en rooi onder met die land se wapenskild in die middel van die vlag. Die ontwerp van die huidige vlag is in 1900 gefinaliseer met die toevoeging van die wapenskild in die middel van die vlag. Voordat die geel, blou en rooi driekleur gebruik is, het Ecuador wit-en-blou vlae gebruik wat die sterre vir elk van die provinsies bevat het. Die ontwerp van die vlag is baie soortgelyk aan dié van Colombia en Venezuela wat ook voormalige samestellende gebiede van Groot-Colombia is. Al drie vlae is gebaseer op ’n voorstel van die Venezolaanse generaal Francisco de Midanda wat in 1811 deur Venezuela aanvaar is en later deur Groot-Colombia met ’n paar verstellings. Daar is ’n variant van die vlag wat geen wapenskild bevat nie en deur die koopvaardyvloot gebruik word. Hierdie vlag is presies dieselfde as dié van Colombia, maar Colombia gebruik ’n ander ontwerp vir sy koopvaardyvloot.
Die Ecuadoriaanse Nasionale Kommunikasiesekretariaat (Secretaría Nacional de Comunicación) het in November 2009 regulasies uitgegee waarin die toepassing en verhoudinge van die nasionale vlag, wapenskild en ander nasionale simbole beskryf word.
Die nasionale vlag het ’n hoogte van 1,47 meter en ’n breedte van 2,2 meter in die verhouding 2:3. Die vlag is in drie horisontale gekleurde bane verdeel: ’n geel baan in die helfte van die vlag se hoogte, ’n blou baan in ’n kwart van die hoogte en ’n rooi baan in ’n kwart van die hoogte. Al drie bane strek oor die volle breedte van die vlag. In die middel van die vlag is die Ecuadoriaanse wapenskild waarvan die hoogte die helfte van dié van die vlag is.[2] Die wapenskild is saamgestel uit ’n reghoek met die verhouding 10:12. Die nasionale vaandel het dieselfde ontwerp as dié van die nasionale vlag maar is vierkantig met ’n breedte en hoogte van 0,9 meter.[3] Wanneer die vlag deur militêre eenhede gebruik word, mag letters met ’n deursnee van 55 sentimeter gebruik word. Die letters moet 4 cm in hoogte en 3 cm in breedte wees met goudkleurige Roman-lettertipe en geborduur met goue garing.[2] Die enigste ander gereguleerde grootte is die lessenaarvlaggie (banderola), waar die vlag 200 mm hoog en 300 mm breed is.[3] Wanneer die nasionale vlag vervaardig word moet die makers die maatskappynaam met die jaar van vervaardiging insluit deur ’n etiket van 20x10 mm aan die agterkant van die vlag, op die voering, aan te bring.[4]
Francisco de Miranda is die persoon wat verantwoordelik is vir die skep van die geel-blou-rooi vlag van Groot-Colombia wat vandag deur Colombia, Ecuador en Venezuela gedeel word. Miranda het ten minste twee inspirasies vir sy vlag gelys. In ’n brief aan graaf Simon Romanowitsj Woronzof in 1792 sê Miranda dat die kleure gebaseer is op die teorie van primêre kleure wat deur die Duitse skrywer en filosoof Johann Wolfgang von Goethe gegee is. Miranda het ’n laataand-gesprek wat hy met Goethe tydens ’n feestelikheid in die winter van 1785 in Weimar gehad het, beskryf. Goethe was in so ’n mate bekoor deur Miranda se wedervaringe in die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog en sy reise deur Europa en die Amerikas, dat hy aan Miranda gesê het “Jou lot is om in jou land ’n plek te skep waar die primêre kleure nie versteur is nie.” Miranda verduidelik in die brief wat Goethe bedoel het:
“ | Hy het eers aan my verduidelik hoe die iris lig in die drie primêre kleure opbreek […] waarna hy gewys het waarom geel die warmste, edelste en naaste aan [wit]lig is; waarom blou ’n mengsel van opwinding en helderheid, ’n afstand wat skadu’s oproep; en waarom rooi die verheerliking van geel en blou is, die sintese, die verdwyning van lig in die skadu.
Dit is nie so dat die wêreld uit geel, blou en rooi bestaan nie; dit is dat die mens op hierdie manier, asof met ’n oneindigende kombinasie van hierdie drie kleure, die wêreld sien. […] [Goethe se gevolgtrekking was dat] ’n Land begin met ’n naam en ’n vlag en soos wat die mens se lot vervul, so word die land daardie simbole. |
” |
Nadat Miranda later sy vlag ontwerp het met hierdie gesprek as basis, het hy hom herinner dat hy ’n muurskildery deur Lazzaro Tavarone in die Palazzo Belimbau in Genua gesien het wat Christophorus Columbus afgebeeld het waar hy ’n soortgelyk gekleurde vlag ontrol in Veragua gedurende sy vierde reis.[5]
In sy militêre dagboek gee Miranda ’n ander moontlike inspirasie vir sy vlag: die geel, blou en rooi van die vaandel val Hamburg se Bürgerwache, wat hy ook gesien het tydens sy reise in Duitsland.[6][7]
In 1801 se plan vir ’n weermag om Spaans-Amerika te bevry wat sonder sukses deur Miranda ingedien is by die Britse kabinet, het hy materiaal versoek vir “tien vlae waarvan die kleure rooi, blou en geel in drie sones sal wees.”[8] Die eerste vlae is egter eers op 12 Maart 1806 in Jacmel, Haïti, gehys tydens Miranda se rampspoedige ekspedisie na Venezuela.
Die kleurskema word hieronder gelys:
Geel | Blou | Rooi | |
---|---|---|---|
RGB | 255-221-0 | 3-78-162 | 237-28-36 |
HEX | #ffdd00ff | #034ea2ff | #ed1c24ff |
CMYK | 0-13-100-0 | 98-52-0-36 | 0-88-85-7 |
Die kleure van die moderner Ecuadoriaanse vlag het ontstaan uit dié van die vlag van Groot-Colombia waarvan die hedendaagse Ecuador, Colombia en Venezuela deel was. Die kleure het die volgende betekenisse:
Geel: Die son en die goud van die voorvaders.
Blou: Die oseaan en die helder blou lug.
Nadat die gebied van Ecuador deur Sebastían de Benalcázar verower is, is die embleme van die Spaanse Ryk oor die nuutgestigte stad Quito vertoon.[11]
Die eerste oproepe om onafhanklikheid van die Spaanse kroon het op 10 Augustus 1809 gekom waar ’n eenvoudige rooi vlag deur die rebelle vertoon is.[12] Die onafhanklikheidsbeweging is in November 1812 aan die hand van die Spaanse offisier Juan Sámano verslaan. Op 9 Oktober 1820 is ’n nuwe vlag in blou-en-wit met vyf horisontale afwisselende bane en drie wit sterre in die middelste baan, is vir die eerste keer gehys.[11] Die drie sterre stel Guayaquil, Portoviejo en Machala voor.[12] Hierdie vlag is later deur die Guayas-provinsie aanvaar.
Met sy bewindsoorname twee dae na die Slag van Guyayaquil in September 1860 het Gabriel Garcia Moreno die geel, blou en rooi driekleur heringestel. Hierdie herinstelling op 26 September word jaarliks in Ecuador as Vlagdag gevier.[11][13] Voor die herinstelling is ’n vertikale wit-blou-wit vlag gebruik. In die middel van die blou baan was drie sterre wat die aantal provinsies in Ecuador voorgestel het. Voordat hierdie vlag laat vaar is, was die hoogste aantal sterre was sewe.[12] In 1900 is die vlag die definitiewe nasionale vaandel gemaak en is die wapenskild daarop geplaas vir gebruik deur die nasionale regering terwyl die vlag sonder die wapensmid vir gebruik deur die koopvaardyvloot gereserveer is.
Volgens Registro Oficial No. 1272, ’n dekreet wat op 5 Desember 1900 as wet ingevoer is, is daar twee amptelike ontwerpe van die nasionale vlag. Artikel 2 het die nasionale vlag as die driekleur met die geel baan so hoog soos die rooi en blou baan saam gevestig. Artikel 3 het die nasionale vlag met die wapenskild daarop gevestig en dit word aanbeveel dat hierdie ontwerp deur die weermag, regeringskantore en diplomatieke agente buite Ecuador gebruik word. Hierdie wet het die vlag met die wapenskild as die staatsvlag gevestig maar nie die burgerlike samelewing verbied om dit te mag gebruik nie. Die enigste beperking word in artikel 6 vermeld waar die koopvaardyvloot beperk word tot gebruik van die vlag sonder die wapenskild. As gevolg hiervan is aanvaar dat hierdie vlag ook die burgerlike vlag is soos wat die gebruik in ander Suid-Amerikaanse lande soos Peru, Bolivië en Argentinië was. Anders as in Ecuador het verskeie van hierdie Suid-Amerikaanse lande hul burgers verbied om die nasionale vlag met die wapenskild te gebruik, of in die geval van Argentinië tot 1985, die vlag met die Meison in die middel.[14] Peru en Bolivië perk steeds die gebruik van die staatsvlag in tot slegs regeringsinstellings en hou die eenvoudige vlag gereserveer vir nasionale feeste soos deur die wet voorgeskryf.[15] Dit gebeur egter dikwels dat die vlag met die wapenskild dikwels in plek van die eenvoudige vlag gebruik word, veral wanneer dit belangrik is om onderskeid te tref met die vlag van Colombia. In die geval waar die Colombiaanse koopvaardyvloot op see is word ’n blou en rooi ovaal met ’n wit ster in die middel gebruik.[16] Artikel 4 van die dekreet van 1900 verbied stadsrade om die nasionale vlag met die wapenskild te gebruik. ’n Spesiale vlag is geskep vir die gebruik van stadsrade: dit is ’n eenvoudige nasionale vlag met wit sterre in ’n sirkelpatroon in die middel van die blou baan. Daar is soveel sterre soos wat daar provinsies in Ecuador is. Die vlag is egter identies aan dié van Venezuela van 1950 tot 1930 en is soortgelyk aan die huidige vlag van Venezuela waar die sterre in ’n halfmaanpatroon is.[17]
Die vlae van Colombia, Ecuador en Venezuela kan elkeen teruggetrek word na die vlag van die nasie Groot-Colombia (1819–1830), die kortstondige republiek wat die gebied van al drie lande beslaan het. Die vlag van Groot-Colombia is geïnspireer deur die vlag van die Eerste Republiek Venezuela, die eerste onafhanklike regering van daardie nasie. Die vlag van die Venezolaanse Republiek is geïnspireer die vlag wat vroeër deur generaal Francisco de Miranda geskep is in sy pogings om onafhanklikheid vir Venezuela te verkry. Hierdie vlag is in 1806 oor die hawe van La Vela in Santa Ana de Coro, Venezuela, vertoon.[18]
Die vlae van Colombia, Ecuador en Venezuela gebruik al drie die geel, blou en rooi driekleur maar dit is waar die ooreenkomste eindig. In ’n dekreet wat in 1934 in Colombia uitgevaardig is, is die bane vasgestel in ’n verhouding van 2:1:1 en die vlag in ’n verhouding van 2:3, soortgelyk aan die huidige vlag van Ecuador. Die wapenskild word egter slegs gebruik op vlae wat deur regeringsamptenare of militêre magte gebruik word.[19] Vir Venezuela was die basiese ontwerp om die drie bane gelyk in die vertikaal te hê, anders as dié van Ecuador en Colombia. Sedert 1863 het Venezuela egter besluit om hul vlag met wit sterre te versier in plaas van ’n wapenskild. Daar is egter die opsie om die Venezolaanse vlag met die wapenskild op te vertoon. In 2006 is hierdie vlag verander deur een ster by te voeg en die wapenskild effens te verander. Die posisie van die wapenskild op die Venezolaanse vlag verskil ook van dié van Ecuador en Colombia deur in die skildhoek te wees, in plaas van in die middel van die vlag.[17]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Vlae van Ecuador. |
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |