Vrydag die 13de word in Westerse bygelowe as 'n ongelukkige dag beskou. Dit kom voor wanneer die 13de van die maand in die Gregoriaanse kalender op 'n Vrydag val: Dit gebeur minstens een keer per jaar, maar kan tot drie keer voorkom. Die jaar 2015 het byvoorbeeld 'n Vrydag die 13de in Februarie, Maart en November gehad, en dit sal weer in 2026 gebeur; 2017 deur 2020 en 2023 het twee Vrydae die 13de gehad; 2016, 2021 en 2022 het net een gehad, en dit sal weer in 2025 voorkom; 2024 het twee, in September en Desember.[1]
'n Maand het 'n Vrydag die 13de wanneer dit op 'n Sondag begin.
Een bron wat noem dat 13 'n ongelukkige syfer is, is 'n Noorse mite oor 12 gode wat aandete eet in Walhalla. Die bedrieërgod, Loki, wat nie genooi is nie, daag op as die 13de gas en reël dat Hödr sy broer Balder skiet met 'n pyl wat in mistel gedoop is. Volgens Dossey sterf Balder, "en die hele aarde het donker geword. Die hele aarde het gerou. Dit was 'n slegte, ongelukkige dag." Dié groot gebeurtenis in die Noorse mitologie het daartoe gelei dat die syfer 13 as ongelukkig beskou is.[2][3]
Dit lyk of die bygeloof met verskeie dinge verbind word, soos die verhaal van Jesus se Laaste Avondmaal, waar daar 13 gaste was: Jesus en sy 12 dissipels. Die Laaste Avondmaal was op 'n Donderdag, en die volgende dag was Vrydag, die dag van Jesus se kruisiging. Die verhaal bevat dus 'n "13" én 'n "Vrydag".[4][5]
Hoewel daar bewyse is dat beide Vrydag en 13 as ongelukkig beskou is, is daar geen rekord van die twee saam wat as besonder ongelukkig beskou is nie, tot met die 19de eeu.[6][7] Die enigste uitsondering is die inhegtenisneming van die Tempelridders op Vrydag 13 Oktober 1307 deur offisiere van koning Filip IV van Frankryk.[8]
In Frankryk is Vrydag die 13de dalk sedert die eerste helfte van die 19de eeu al verbind met ongeluk. 'n Karakter in die toneelstuk van 1834 Les Finesses des Gribouilles sê: "Ek is op 'n Vrydag, 13 Desember 1813, gebore en al my ongeluk spruit daaruit."[9]
'n Vroeë aangetekende verwysing in Engels kom voor in H.S. Edwards se biografie van Gioachino Rossini, wat op Vrydag 13 November 1868 dood is: "Soos so baie Italiane, het hy Vrydae as 'n ongelukkige dag en 13 as 'n ongelukkige syfer beskou, en dit is merkwaardig dat hy op Vrydag 13 November gesterf het."[10]
Dit is moontlik dat die publikasie in 1907 van T.W. Lawson se gewilde roman Friday, the Thirteenth[11] bygedra het tot die verspreiding van die bygeloof. In die roman maak 'n gewetenlose aandelemakelaar misbruik van die bygeloof om op Vrydag die 13de paniek op Wall Street te veroorsaak.[6]
Volgens die Stress Management Center and Phobia Institute in Asheville, Noord-Carolina, word na raming 17-21 miljoen mense in Amerika deur 'n vrees vir dié dag geraak; dit is die mees gevreesde dag en datum in die geskiedenis. Sommige mense is so verlam van vrees dat hulle hulle gewone roetine vermy in handeldryf, vlieg en selfs uit die bed klim. Na raming verloor Amerika $800-900 miljoen se sake op dié dag.[12]
In Finland word 'n nasionale ongeluksdag (kansallinen tapaturmapäivä) op 'n Vrydag die 13de gehou om bewustheid te skep van veiligheid op die paaie.[13]
Elke Gregoriaanse sonsiklus van 400 jaar bevat 146 097 dae (met 97 skrikkeldae), of presies 20 871 weke. Elke siklus bevat dieselfde patroon van dae van die week en dus dieselfde patroon van Vrydae wat op die 13de val. Die 13de dag van die maand is effens meer geneig om op 'n Vrydag te val as op enige ander dag van die week.[14][15][16]
Dag van die week | Maandag | Dinsdag | Woendag | Donderdag | Vrydag | Saterdag | Sondag |
---|---|---|---|---|---|---|---|
Voorkoms | 685 | 685 | 687 | 684 | 688 | 684 | 687 |
Elke maand wat op 'n Sondag begin, bevat 'n Vrydag die 13de en daar is minstens een Vrydag die 13de in elke kalenderjaar.
{{cite book}}
: |magazine=
ignored (hulp)