Die Vuvuzela of sokkerhoring is 'n Suid-Afrikaanse blaasinstrument wat van hout of plastiek gemaak word en 'n monotone noot produseer as dit geblaas word. Deur die spanning op die lippe te verander kan hoër note ook voorgebring word. Vuvuzelas is ongeveer een meter lank en kan 'n klank van tot 130 desibel voortbring. Dit klink soos 'n diep sirene of 'n olifant se trompetter.[1] Die instrument word hoofsaaklik deur toeskouers tydens sokkerwedstryde geblaas.
Die gebruik van Vuvuzelas is omstrede en kan spelers en afrigters se aandag aftrek.[2] Tydens die 2009 Sokker-Konfederasiebeker kla kommentators en omroepers dat vuvuzelas te veel lawaai maak.[3] Ondanks die protes van kommentators en die Spaanse sokkerspeler Xabi Alonso het FIFA besluit om nie vuvuzelas tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 te verbied nie.[4]
Op 12 Junie 2010, op die tweede dag van die toernooi, spreek Ronaldo ook sy teenkanting teen die instrument uit omdat dit spelers se konsentrasie op die veld beïnvloed.[5]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Vuvuzelas. |