'n Wadi (Arabies: وَادِي) is gewoonlik 'n droë rivierbedding in ’n dorre streek.[1] Soms kan water voorkom nadat swaar reën geval het.[2]
Wadi's word aangetref in stadig dalende, amper plat dele van woestyne. Dit is onderworpe aan plotselinge oorstromings, wat dikwels sediment agterlaat. Dié sediment kan 'n verskeidenheid materiaal bevat, van gruis tot modder, en daarom is wadisediment van die uiteenlopendste soorte woestynomgewings.
Woestynreisigers gebruik wadi's dikwels as trekroete, aangesien ondergrondse water dikwels in hulle voorkom en hulle staatmaak op plante wat hier voorkom, selfs in streke so droog soos die Sahara. Dit kan gebeur dat hulle deur 'n onverwagte vloed verras word.
Die verband tussen wadi's en water – en menslike lewe – in woestynomgewings het in die 1990's gelei tot die ontstaan van die veld wadihidrologie.[3]