Waterhert | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Subfamilie: | Hydropotinae
|
Genus: | Hydropotes (Swinhoe, 1870)
|
Spesie: | H. inermis
|
Binomiale naam | |
Hydropotes inermis (Swinhoe, 1870)
|
Die waterhert (Hydropotes inermis) is ’n klein hert wat oppervlakkig beskou meer soos ’n muskushert lyk as soos ’n ware hert. Dit is inheems aan China en Korea en daar is twee subspesies: die Chinese waterhert (Hydropotes inermis inermis) en die Koreaanse waterhert (Hydropotes inermis argyropus). Ondanks sy gebrek aan gewei (horings) en sekere ander anatomiese verskille – onder meer sy prominente slagtande – word dit as ’n takbok geklassifiseer. Sy unieke karaktertrekke het meegebring dat dit al in sy eie genus (Hydropotes) en selfs in sy eie subfamilie (Hydropotinae) geklassifiseer is.[2] ’n Studie van sy DNS plaas dit egter naby Capreolus in die "ouwêreldse" subfamilie Capreolinae.[3] Sy lang slagtande het hom onder andere die naam "vampierhert" besorg.
Waterherte is inheems aan die laer gebiede van die Yangtzerivier, die kus van die Jiangsuprovinsie en die eilande van Zhejiang van Oossentrale China, en in Korea. Hulle kom langs riviere voor waar hoë riete hulle beskerm. Hulle kom ook in berge, moerasse, graslande en selfs oop landerye voor. Hulle kan goed swem en kan na verafgeleë riviereilande swem. Die Chinese waterhert kom nou ook in Brittanje, Frankryk en Argentinië voor, en selfs in die VSA.[4][5]
Die waterhert het lang bene en ’n lang, grasieuse nek. Die kragtige agterbene is langer as die voorstes sodat die heupe hoër is as die skouers. Hulle gee haasagtige spronge. Die stert is kort en amper onsigbaar, behalwe wanneer ramme dit in die paarseisoen orent hou. Die ore is kort en rond, en nie een van die geslagte het gewei nie.
Die pels is ’n goudbruin kleur en kan ook swart hare bevat, terwyl die onderkant van die lyf wit is. In die herfs word die pels geleidelik vervang deur ’n dikker, growwer winterlaag wat wissel van ligbruin tot grysbruin.
Die waterhert het lang slagtande wat vanaf die boonste kaak uitsteek. Veral ramme se slagtande is lank en kan wissel van 5,5 tot 8 cm. As die hert eet, kan hy die tande uit die pad hou omdat hy dit nie vir eetdoeleindes gebruik nie, maar as hy aggressief raak, stoot hy die tande uit en trek sy onderlip in om die tande verder te ontbloot. Dit is ’n gedugte wapen teen ander ramme en het hom die naam "vampierhert" besorg.[6]
Buite die paarseisoen is die ramme alleenlopend en hoogs territoriaal. Elke ram merk sy gebied met urine en ontlasting. Hy sal ook sy reukkliere aan voorwerpe vryf. Ooie hou buite die paarseisoen in onverwante klein groepe en sal uiteenspat as gevaar dreig.