Waterplante is 'n groep taksonomies uiteenlopende plante wat by 'n lewe in water aangepas is. Verteenwoordigers van die alge (vandag meestal nie meer as plante beskou nie), mosse, varings en saadplante word in water aangetref, maar die totale aantal waterlewende plantspesies is betreklik klein. Waterplante kan ingedeel word in die wat in die bodem veranker is en die wat op die wateroppervlak dryf.
Waterplante wat in die bodem veranker is, kan heeltemal onder water leef, byvoorbeeld die waterpes (Elodea); hulle kan drywende blare hê, byvoorbeeld die waterlelies (genus Nymphaea); of die blare kan bo die water uitstaan, byvoorbeeld papkuil (Typha capensis) en riete (genus Phragmites). Voorbeelde van drywende waterplante is die watervarings (orde Hydropteridales) en saadplante van die familie Lemnaceae, die kleinste saadplante ter wêreld.
Drywende plante het wortels wat in die water afhang en water en voedingstowwe uit die water absorbeer of gewysigde blare wat dieselfde funksie verrig. Plante soos die waterhiasint (Eichornia crassipes) se blare het groot ruimtes met lug daarin wat die plante drywend hou. Waterplante wat permanent onder die water is, absorbeer meestal water oor hul hele oppervlakte, terwyl plante soos waterlelies slegs aan die onderkant van hul blare hulle vinnig weer 'n groot hoeveelheid water.
Baie mosse en varings hou van vogtige omstandighede en word daarom dikwels langs of selfs in water aangetref, maar hulle is nietemin landplante. Bekende Suid-Afrikaanse waterplante is waterblommetjies (genera Potamogeton en Aponogeton), waarvan 'n gereg, bekend as waterblommetjiebredie, dikwels gemaak word, en waterlelies (Nymphaea capensis). Die waterhiasint (Eichornia crassipes) is in Suid-Afrika 'n verklaarde onkruid omdat dit maklik groot oppervlaktes water inneem.
Veral op damme soos die Hartbeespoortdam en die Bon Accorddam naby Pretoria is die hiasinte 'n groot probleem. Die Kariba-onkruid (Salvinia molesta) net kort na die bou van die Karibadam.