Weens die optrede van die Duitse oorlogskip SMS Wolf het 7 skepe tydens die Eerste Wêreldoorlog aan die Suid-Afrikaanse kus vergaan. Die Wolf se reis van 100 000 km was die langste ononderbroke vaart deur 'n oorlogskip sonder ondersteuning tydens hierdie oorlog.
In 1913 is die vragskip Wachtfels van 5 809 ton in Flensburg te water gelaat. Op 16 Mei 1916 is dit tot hulpkruiser en mynlêer met die naam Wolf omskep. Dit is toegrus met 10 kanonne en 4 torpedobuise en kon 450 seemyne vervoer. Aan boord was ook 'n tweesitplek-seevliegtuig om vyandelike skepe op te spoor. Die maksimum vrag van 8 000 ton steenkool het die skip 'n rykwydte van 59 000 km gegee, maar met 'n hoogste spoed van 11 knope was dit 'n relatief stadige skip. 'n Vals skoorsteen en maste het verbloem dat dit 'n oorlogskip is.
Op 30 November 1916 het die Wolf sy tuishawe Kiel met 'n bemanning van 348 onder bevel van kapt. Karl August Nerger verlaat. Die roete het gelei deur die Skagerrak, wes van Noorweë, noord van Ysland en Skotland na die noordelike Atlantiese Oseaan. Van daar om die Kaap die Goeie Hoop, deur die Indiese Oseaan na Suid-Asië, Australië en Nieu-Seeland. Voor die hawens van Kaapstad, Colombo en Mumbai is seemyne geplant.
In totaal het die Wolf 35 vragskepe en 2 oorlogskepe met 'n gesamentlike tonnemaat van 110 000 vernietig. Rubber, koper, geelkoper, sink, sy koper en kakao sowel as olie is van die oorwonne skepe na die Wolf oorgeplaas. Op 24 Februarie 1918 was die skip na 'n reis van 451 dae weer in Kiel terug. Aan boord was daar nou ook 467 krygsgevangenes.
Op 24 Februarie 1918 was die Wolf na 'n reis van 451 dae terug in Kiel. Aan boord was nou ook 467 krygsgevangenes. Kapt. Nerger is deur die keiser met 'n hoë onderskeiding en bevordering vereer en alle matrose het die Ysterkruis ontvang.
Die res van die oorlog het die Wolf in die Baltiese See diens gedoen. Op 5 April 1919 is die skip aan die Franse oorhandig, verkoop, tot Antinous herdoop en as plesierboot in die Indiese Oseaan gebruik. In 1931 is dit in Italië afgetakel.
Vyf boeke is deur opvarendes na aanleiding van die reis geskryf. Reeds tydens die oorlog het kapt. Nergers se memoires verskyn. Selfs 'n Engelse krygsgevangene het sy ervarings gepubliseer.
Wikimedia Commons bevat media in verband met SMS Wolf (ship, 1913). |