Yvonne Chaka Chaka | |
---|---|
Yvonne Chaka Chaka tydens die Wêreld-Ekonomiese Forum in 2012. | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Yvonne Machaka |
Ook bekend as | Prinses van Afrika |
Gebore | 1965 Dobsonville, Soweto |
Genres | Mbaqanga en Afropop |
Beroep(e) | Sanger |
Instrumente | Stem |
Webwerf | yvonnechakachaka.co.za |
Yvonne Chaka Chaka (1965-) is ’n Suid-Afrikaanse mbaqanga- en Afropop-sangeres en filantroop. Haar geboortenaam is Yvonne Machaka en sy het as die "Prinses van Afrika" bekend geword. Naas Suid-Afrika is sy ook in lande soos Zimbabwe, Kenia, Gaboen, Sierra Leone en die Ivoorkus gewild.[1]
Chaka Chaka is in 1965 in Dobsonville in Soweto gebore. Haar pa is dood toe sy 11 was en haar ma, 'n huishulp, moes drie dogters op 'n salaris van R40 grootmaak.[1]
In 1981 word sy die eerste swart kind om op Suid-Afrikaanse televisie op te tree (in "Sugar Shack").[2]
Sy begin in 1984 (op 19) te sing, nadat sy deur Phil Hollis van Dephon-rekords ontdek is. Haar debuutalbum, I'm in Love With a DJ, is in 1985 bekendgestel. Deur die jare het sy verskeie treffers, soos "I’m Burning Up", "I Cry for Freedom" en die immergewilde "Umqombothi" ('n Afrika-bier) gelewer. Sy het talle bekroonde albums vrygestel en ’n string goue en platinumtreffers behaal.
Sy is ’n ambassadeur vir Unicef en die Roll Back Malaria Partnership en was in 2012 die eerste vrou wat die Wêreld-Ekonomiese Forum se Kristalprys vir kunstenaars (wat die wêreld deur hulle werk verbeter) ontvang het.[3]
Chaka Chaka is met Tiny Mhinga getroud en het 4 seuns.