Zakoeski | ||
Soort gereg | Hors d'oeuvre of peuselhappies | |
Land | Eurasiese lande | |
Streek | Oos-Europa, Noord-Europa, Asië | |
Hoofbestanddeel | Kouevleis en pekelvis | |
Ander bestanddele | Gemengde slaaie, piekelgroente, pirozjki, harde kase, kaviaar en broodhappies |
Zakoeski (meervoud van die Russiese закуска, zakoeska; Pools: zakąski, zakąska) is 'n verskeidenheid koue hors d'oeuvres, voorgeregte en peuselhappies wat in Rusland en ander Slawiese lande genuttig word.[1][2] Dit word as 'n gang op sy eie aangebied, of as iets te ete "ná elke glas wodka of ander drankie".[3] Die woord beteken letterlik "iets om aan te byt".[4]
Die gebruik het waarskynlik ontstaan en is beïnvloed deur die vermenging van Slawiese, Wiking- en Oosterse kulture in streke van Kiëf-Roes soos die Republiek Nowgorod.[5][6][7]
Die tradisie van zakoeski word verbind met die Sweedse en Finse brännvinsbord, wat ook die vooloper van die moderne smorgasbord is.[2] Zakoeski word nie, soos in Skandinawië, as 'n buffet voorgesit nie, maar op die etenstafel. Dit is soms 'n maaltyd op sy eie en nie altyd 'n voorgereg nie. In die huise van die Russiese adellikes is zakoeski dikwels in 'n apate kamer of op 'n aparte tafel in die eetkamer voorgesit aan onverwagte gaste. Die tradisie het later na ander klasse versprei en op die eettafel voorgesit weens 'n gebrek aan spasie. Dit het dus die eerste gang van 'n feestafel geword.[2]
Deesdae word die peuselhappies algemeen voorgesit op feeste, aandetes, partytjies en onthale in Rusland, voormalige state van die Sowjetunie en Pole.[1][8] Die tipiese zakoeski bestaan uit kouevleise, pekelvis, gemengde slaaie, pasteitjies, piekelgroente, sampioene, harde kase, kaviaar en oop broodjies.[2][9]
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)