’n VLT-SPHERE-foto van Hygiea. | |
Ontdekking [1] | |
---|---|
Ontdek deur | A. de Gasparis |
Datum | 12 April 1849 |
Kleinplaneet-benaming | (10) Hygiea |
Alternatiewe name | A900 GA |
Kleinplaneet-kategorie | Hoofgordel |
Etimologie | Hygieia (mitologie)[2] |
Wentelbaaneienskappe [1] | |
Epog 27 Junie 2015 | |
Afelium | 3,5024 AE |
Perihelium | 2,7817 AE |
Halwe lengteas | 3,1421 AE |
Wentelperiode | 5,57 jaar |
Gem. omwentelingspoed | 16,76 km/s |
Gem. anomalie | 264,46° |
Baanhelling | 3,8377° |
Lengteligging van stygende nodus | 283,41° |
Periheliumhoek | 312,10° |
Fisiese eienskappe |
|
Afmetings | 450 × 430 × 424 km |
Massa | 1,94±0,19 g/cm3[3] |
Gem. digtheid | 2,08 ± 0,10 g/cm³ |
Ontsnapping- snelheid | 0,21 km/s |
Rotasieperiode | 1,15 d[1] |
Temperatuur | ≈164 K maks. 247 K (-26 °C) [4] |
Spektraaltipe: | C-tipe[1] |
Skynmagnitude | 9[5] tot 11,97 |
Absolute magnitude | 5,43[1] |
Hoekgrootte | 0,321″ tot 0,133″ |
Hygiea (kleinplaneetnaam: 10 Hygiea) is ’n groot asteroïde in die asteroïdegordel. Met ’n deursnee van 434 km en ’n massa wat geraam word op 2,9% van die totale massa van die gordel,[6] is dit die vierde grootste asteroïde in die Sonnestelsel wat volume én massa betref. In sommige spektrale klassifikasies is dit die grootste van die donker C-tipe asteroïdes met ’n koolstofryke oppervlak; in ander is dit die tweede grootste, naas 1 Ceres.
Hygiea is die hooflid van die Hygiea-familie en bevat meer as 90% van die massa van die familie. Volgens data van die Baie Groot Teleskoop se SPHERE-kamera in 2017 en 2018 wat laat in 2019 aangekondig is, het Hygiea ’n byna ronde vorm, wat daarop dui dat dit in hidrostatiese ewewig is en dus ’n kandidaat vir ’n dwergplaneet is.[7][8]
Ondanks sy grootte lyk Hygiea baie dof van die Aarde af. Dit is weens sy donker oppervlak en sy posisie in die buitenste hoofgordel. Om dié rede is kleiner asteroïdes eers ontdek voordat Hygiea op 12 April 1849 deur Annibale de Gasparis ontdek is. Met die meeste opposisies het Hygiea ’n skynbare magnitude van vier ordes dowwer as dié van Vesta en om dit te kan sien, is minstens ’n 100 mm-teleskoop nodig.
Op 12 April 1849 het die sterrekundige Annibale de Gasparis (toe 29) Hygiea in Napels, Italië, ontdek.[9] Dit was die eerste van sy nege ontdekkings van asteroïdes. Die direkteur van die Napels-sterrewag, Ernesto Capocci, het dit sy naam gegee. Hy het dit Igea Borbonica ("Bourbon-Hygieia") genoem ter ere van die regerende familie van die Koninkryk van die Twee Sisiliës, waar Napels geleë was.[10]
In 1852 het die Engelse sterrekundige John Russell Hind geskryf die asteroïde is algemeen bekend as "Hygiea", en die onnodige "Borbonica" is laat vaar[10] (sowel as die finale "ia" ten gunste van net "a"). Die naam kom van Hygieia, die Griekse godin van gesondheid en dogter van Asklepios.[11] Die naam is in die 19de eeu soms verkeerdelik "Hygeia" gespel.[12]
Spektrale bewyse dui daarop dat Hygiea se oppervlak waarskynlik uit primitiewe koolstofmateriale bestaan soortgelyk aan dié wat in koolstofryke chondrietmeteoriete aangetref word. Waterige produkte is op die oppervlak waargeneem wat ’n aanduiding kan wees van die teenwoordigheid van waterys in die verlede wat genoeg verhit is om te kon smelt.[11] Die primitiewe hedendaagse oppervlaksamestelling dui aan Hygiea het nie tydens die vroeë tydperk van die Sonnestelsel se vorming gesmelt nie,[11] in teenstelling met ander groot planetesimale soos 4 Vesta. Volgens waarnemings in 2019 het Hygiea moontlik teen iets anders gebots wat dit laat smelt en tot sy huidige ronde vorm gelei het.[7]
Op foto's wat in 2017 deur die Baie Groot Teleskoop geneem is, is ’n helder streek op die oppervlak sigbaar, sowel as minstens twee donker kraters, wat voorlopig Serpens en Calix genoem word; dit is die Latynse woorde vir onderskeidelik "slang" en "beker".[3] Serpens het ’n deursnee van omstrent 180 km en Calix een van 90 km.[3][7]
Hygiea is die grootste van die C-tipe asteroïdes wat die buitenste asteroïdegordel oorheers, anderkant die Kirkwoodgaping by 2,82 AE.[14] Dit het ’n gemiddelde deursnee van 434 ± 14 km.[7] Terwyl vroeë studies (Ragazzoni et al., 2000) gedui het op ’n merkbare afgeplatte vorm (veel meer as dié van die ander drie asteroïdes wat die "groot vier" uitmaak – 2 Pallas, 4 Vesta en die dwergplaneet Ceres),[15][11] het onlangse resultate gewys Hygiea is ronder.[7] Buiten dat dit die kleinste van die "groot vier" is, het Hygiea nes Ceres ’n relatief lae digtheid wat eerder vergelykbaar is met die ysagtige satelliete van Jupiter of Saturnus as met die rotsplanete of klipagtige asteroïdes.[16]
Al is Hygiea die grootste liggaam in sy streek, lyk hy dof van die Aarde af weens sy donker oppervlak en ver afstand van die Son af. Dit is die derde dofste van die eerste 23 asteroïdes wat ontdek is (net 13 Egeria en 17 Thetis is dowwer).[17] Met die meeste opposisies het Hygiea ’n magnitude van sowat 10,2,[17] wat sowat vier ordes dowwer as Vesta is. Met ’n perihelium-opposisie kan dit egter tot 9,1 magnitude wees.[18]
Altesaam 17 stellêre okkultasies deur Hygiea is al deur grondgebaseerde teleskope waargeneem,[19][20] insluitende twee (in 2002 en 2014) wat deur ’n groot aantal waarnemers gesien is. Die waarnemings is gebruik om Hygiea se grootte, vorm en rotasie-as te probeer bepaal.[21] Die Hubble-ruimteteleskoop het ook die asteroïde waargeneem en die teenwoordigheid uitgesluit van enige voorwerpe van groter as 16 km breed wat daarom wentel.[22]