Ontdekking | |
---|---|
Ontdek deur | Lincoln Labs Socorro |
Datum | 10 Mei 1999 |
Alternatiewe name | 1999 JU3 |
Kleinplaneet-kategorie | Apollo-asteroïde[1] |
Etimologie | Japannese mitologie |
Wentelbaaneienskappe[1] | |
Epog 2455907.5 (12-Des-'11) | |
Afelium | 1,415893534(4) AE |
Perihelium | 0,96330811(5) AE |
Halwe lengteas | 1,189600822(3) AE |
Wentelperiode | 1,30 jr. |
Gem. omwentelingspoed | km/s |
Gem. anomalie | 3,98324(3) ° |
Baanhelling | 5,88374239(4) ° |
Lengteligging van stygende nodus | 251,61971(4) ° |
Periheliumhoek | 211,42585(5) ° |
Fisiese eienskappe |
|
Afmetings | km |
Rotasieperiode | 7,627 uur[1] |
Absolute magnitude | 19,3[1] |
162173 Ryugu is 'n asteroïde wat op 10 Mei 1999 ontdek is. Dit is 'n naby-aarde-voorwerp (NAV). Dit behoort tot die Apollo-asteroïdes en is tussen Venus en Mars geleë. Dit is vernoem na die Ryūgū ("Drakepaleis"), 'n magiese onderwaterpaleis in 'n Japannese volksverhaal.
Die deursnee van die hemelliggaam is omtrent 900 m en sy swaartekrag is net 1/66 500 van die aarde s'n. Dit is 'n C-tipe asteroïde. Hierdie tipe asteroïdes is koolstofhoudend en het waarskynlik min verander sedert die vorming van die Sonnestelsel. Hulle is dalk gevorm aan die verre ysagtige kant van die asteroïdegordel, hoewel Ryugu nou naby die aarde wentel. Koolstofhoudende asteroïdes kan waarskynlik belangrike inligting lewer oor die oorsprong van koolstof op ons planeet en die ontstaan van lewe.[2] C-tipe asteroïdes is waarskynlik die bronne van die koolstofhoudende C-tipe chondriete wat soms die aarde bereik en wat organiese verbindings bevat.[3]
Op 21 September 2018 is twee verkenningstuie vanaf die Hayabusa2-ruimtetuig na die asteroïde gestuur.[4] Dit was die eerste keer dat suksesvol op 'n vinnig bewegende asteroïde geland is. Hayabusa2 het op 22 Februarie 2019 sy eerste stofmonster op Ryugu geneem tydens 'n kort landing.
Die voorlopige naam van die asteroïde was [(162173) 1999 JU3]. Die Japannese ruimte-organisasie JAXA het 'n wedstryd georganiseer om 'n beter naam te bedink en 30 bydraes het Ryugu voorgestel.[5] Ryugu beteken "Drakepaleis" en is 'n magiese onderwaterpaleis in 'n Japannese volksverhaal. Die visser Urashima Taro reis op die rug van 'n skilpad na die paleis en as hy terugkom, dra hy 'n raaiselagtige doos. Die plan is om Hayabusa2 ook met 'n lading monsters te laat terugkeer.[6]
Die ruimtetuig Hayabusa2 is op 3 Desember 2014 vanaf die Tanegashima-ruimtesentrum lanseer. Dit het op 27 Junie 2018 by Ryugu, wat 'n onreëlmatige, amper kubiese vorm het, aangekom en in 'n wentelbaan 6 km bo die asteroïde gegaan. Die tuig het 'n optiese navigasiekamera, 'n nabye-infrarooikamera, 'n termiese infrarooikamera en 'n LIDAR (Light detection and ranging)-instrument.
Die Hayabusa2-sending sluit vier verkenningstuie met verskillende wetenskapinstrumente in. Op 21 September 2018 is die eerste twee verkenners, wat op die oppervlak rondspring, na die asteroïde gestuur.[4] Dit was die eerste keer dat suksesvol op 'n vinnig bewegende asteroïde geland is.[7]
Op 22 Februarie 2019 het Hayabusa2 self vir 'n kort rukkie op die asteroïde geland en 'n projektiel daarin afgevuur om stof te versamel, waarna dit na sy ou posisie teruggekeer het, het amptenare van JAXA gesê.[8] Die stofmonsters sal in 2020 na die aarde teruggebring word.[6]
Hayabusa2 het $150 miljoen gekos en is die opvolger van die Haybusa-sending van 2005 wat 'n klein monster van die kleinplaneet Itokawa gaan haal het.[9]
Op 3 Oktober 2018 het die Frans-Duits-Japannese landingstuig MASCOT op hierdie miniplaneet geland. Die missie word vanuit die Deutsches Zentrum für Luft- und Raumfahrt, DLR in Keulen gelei. Die tuig het geen aandrywing nie en dit het na 6 minute vryeval op die oppervlak neergekom nadat dit van die Hayabusa2-ruimtetuig losgemaak het. MASCOT kan sprongetjies maak in Ryugu se swak swaartekragsveld. Die eerste gegewens wat dit terugestuur het het 'n wêreld van groot klippe gewys met verrassend min stof.[10]MASCOT het 'n massa van 10 kg en bevat vier wetenskaplike intrumente en is deur die Franse DLR en die Franse CNES gebou.[11] Dit het van 2-4 Oktober 2018 op die kleinplaneet meer as 17 uur lank aktief gewees, voordat die batterye leeg geraak het. Dit was langer as verwag en die instrument het alle gegewens na die aarde kan stuur.[9]
Daar is ook twee kleiner robots MINERVA-II1 en MINERVA-II2 vrygestel wat deur Japannese universiteite gebou is. Die robots het 'n massa van net 1 kg.[11]