Aard- en hemelbolle is sferiese modelle van onderskeidelik die Aarde of die selestiale sfeer, en soortgelyke modelle kan van etlike ander selestiale liggame gemaak word. Hierdie bolle vervul dieselde doel as kaarte, maar hulle verskil van kaarte deurdat hulle die voorgestelde fisiese of abstrakte oppervlak slegs afskaal, en nie tot 'n tweedimensionale oppervlak verwring nie. 'n Aarbol kan ook 'n terrestriële globe genoem word, en 'n hemelbol 'n selestiale globe.
'n Bol vertoon die oppervlak-kenmerke van die onderwerp wat dit uitbeeld. 'n Terrestriële globe toon die opvallendste landmassas en waterliggame daarvan. Dit kan lande en die groter stede aandui, wat oorspan word deur die netwerk van lengte- en breedtegrade. Sommige het opgehewe reliëf om berge en ander landvorme aan te dui. 'n Selestiale globe toon die opvallendste sterre, en kan ook die posisies van ander beduidende astronomiese objekte aandui. Tipies sal dit ook die selestiale sfeer in sterrebeelde onderverdeel.
Die woord globe kom van die Latynse woord globus, wat "sfeer" beteken. Globes het 'n lang geskiedenis. Die vroegste vermelding van 'n globe is dié van Strabo waar hy die globe van Krates beskryf wat na om en by die jaar 150 v.C. dateer word. Die oudste behoue terrestriële globe is die Erdapfel wat in 1492 deur Martin Behaim gesmee is. Die oudste behoue selestiale globe rus op die Farnese Atlas, en dateer uit die tweede eeuse Romeinse Ryk.
Plat kaarte berus op kaartprojeksies wat noodwendig 'n toenemende hoeveelheid distorsie insluit namate groter dele van die planeetoppervlak uitgebeeld word. 'n Globe is die enigste voorstelling van die Aarde wat nóg die vorm, nóg die grootte van uitgebreide kenmerke soos landmassas en waterliggame verwring.
Die Aardomtrek is ongeveer 40 miljoen meter.[1][2] Baie globes word vervaardig met 'n omtrek van een meter, en is gevolglik modelle van die Aarde teen 'n skaal van 1:40 miljoen. Dikwels word globes met afmetings in imperiale eenhede vervaardig en het dan 'n deursnee van een voet (c. 30 cm), wat 'n omtrek van 3.14 voet (omtrent 96 cm) lewer en gevolglik 'n skaal van 1:42 miljoen. Globes word egter ook met etlike ander afmetings vervaardig.
Sekere globes word berei met 'n oppervlaktekstuur wat topografie of batimetrie aandui. In hierdie modelle word hoogtes en dale doelbewus oordryf, aangesien hulle andersins kwalik sigbaar sou wees. Een vervaardiger produseer byvoorbeeld 'n bol met deursnee van 64 cm (of 25 duim, ekwivalent aan 'n omtrek van 200 cm of 'n skaal van sowat 1:20 miljoen) en driedimensionale gehewe reliëf wat die hoogste berge as meer as 2.5 cm (1 duim) hoog aandui, wat omtrent 57 keer hoër is as die werklike skaal van Berg Everest.[3][4]
Meeste moderne aardbolle word berei met die keerkringe, breedtekringe en meridiane aangedui sodat mens die koördinate van 'n spesifieke ligging daaruit kan beraam. Globes kan ook die grense van lande en hul name aandui.
Baie terrestriële globes het een selestiale item aangedui, naamlik 'n diagram wat die analemma genoem word, wat die skynbare beweging van die son deur die hemelruim met verloop van 'n jaar aandui.
Globes word gewoonlik met die noordpool na bo gemonteer, maar die wentelas kan by sekeres so gekantel word dat die suidelike halfrond met dieselde gemak besigtig kan word. In hierdie opsig oorkom dit die eensydige "noorde-bo" oriëntasie van konvensionele kaarte, en fasiliteer dit die verkenning van die aardoppervlak uit alle invalshoeke.
Selestiale globes dui die skynbare posisies van sterre in die hemelruim aan. Die Son, Maan en planete word uitgesluit aangesien die posisies van hierdie liggame relatief tot die sterre verander. Die ekliptika waarlangs die Son en meeste planete beweeg, word egter wel aangedui.
Die rondheid van die Aarde is in die 3de eeu v.C. deur Griekse sterrekundiges bevestig, en die vroegste terrestriële globe dateer uit daardie era. Die vroegste bekende voorbeeld is die een wat deur Krates van Mallos in Cilicia (huidige Çukurova, Turkeie), in die mid-2de eeu v.C. gemaak is.
Geen terrestriële globes van die antieke tyd of middeleeue het tot die hede oorleef nie. Daarteenoor oorleef 'n selestiale globe as deel van 'n 2de eeuse Romeinse kopie van 'n Hellenistiese beeldhouwerk, die sogenaamde Farnese Atlas in die Napelse Argeologiese Museum, Italië.[5]
Vroeë aardbolle wat die Ou Wêreld in geheel uitbeeld is in die Islamitiese wêreld tydens hul goue tydperk Islamic world vervaardig.[6][7] Volgens David Woodward is een sodanige aardbol in 1267 na Beijing uitgevoer deur die Persiese sterrekundige Jamal ad-Din.[8]
Die vroegste ekstante aardbol is in 1492 deur Martin Behaim (1459–1537) gemaak, bygestaan deur die skilder Georg Glockendon.[5] Behaim was 'n Duitse kartograaf, seevaarder en koopman. Hy het sy aardbol die "Nürnbergse Terrestriële Globe" genoem, na sy werkplaas in Nürenberg, maar dit is later die Erdapfel genoem – die ertappel-plant was terloops nog onbekend in Europa. Voordat hy die aardbol saamgestel het, het Behaim ekstensiewe reise onderneem. Vanaf 1480 het hy in Lissabon versuim, waar hy handelsbelange opgebou het en met ontdekkers en wetenskaplikes in verbinding was. Na sy terugkeer na Nürnberg in 1490 het hy met die konstruksie van sy globe begin.
'n Verdere aarbol, die sogenaamde Hunt–Lenox-globe van om en by 1510, het vermoedelik tot die frase Hic Sunt Dracones, oftewel “Hier is drake” aanleiding gegee. 'n Soortgelyke aardbol, moontlik die oudste om die Nuwe Wêreld in te sluit, is in 2012 ontdek. Dit is saamgestel uit twee halwe volstruis-eiers, en kan moontlik na die jaar 1504 dateer word. Stefaan Missine het dit vir die vaktydskrif Portolan van die Washington Map Society ondersoek, en meen dat dit vir 'n lang tyd deel van 'n belangrike Europese versameling uitgemaak het.[9] Na 'n jaarlange ondersoek waartydens etlike kenners geraadpleeg is, het Missine tot die slotsom gekom dat die Hunt–Lenox-globe 'n koper-gietstuk van die volstruiseier-globe is.[9]
'n Faksimilee-globe wat Amerika aandui is in 1507 deur Martin Waldseemüller gemaak. 'n Verdere terrestriële globe met 'n besonder moderne voorkoms is deur Taqi al-Din by die Konstantinopelse Sterrewag van Taqi ad-Din tydens die 1570s gemaak.[10]
Mogolwetenskaplikes met Jahangir as hul beskermheer was verantwoordelik vir die wêreld se eerste soomlose selestiale globe.[11]
In die Woschod-ruimteprogram is die "Globus" IMP-navigasie-instrument van 1961 tot 2002 in Sowjet- en Russiese ruimtesendings aangewend. Dit was elektromeganiese toestelle wat 'n 5 duim globe as navigasie-hulpmiddel ingesluit het. In 2001 het die TMA-weergawe van die Sojoestuig hierdie instrument vervang met 'n digitale kaart.[12]
In die 1800s was klein sakglobes van minder as 3 duim in deursnee die statussimbole van here en die opvoedkundige speelgoed van ryk kinders.[13]