Aboe Simbel-tempels | ||
Die Groot Tempel van Ramses II is links en die Klein Tempel van Nefertari regs. | ||
Koördinate | 22°20′13″N 31°37′32″O / 22.33694°N 31.62556°O | |
Land | Egipte | |
Soort | Tempels | |
Geskiedenis | ||
Bouer | Ramses II | |
Gestig | Omstreeks 1264 v.C. | |
Tydperk | Nuwe Ryk | |
Unesco-wêrelderfenisgebied | ||
Tipe | Kultureel | |
Kriteria | i, iii, vi | |
Verwysing | 88 | |
Streek† | Arabiese State | |
Beskrywing* | Nubian Monuments from Abu Simbel to Philae | |
† Streek soos deur Unesco geklassifiseer. * Naam soos op die Wêrelderfenislys |
Die Aboe Simbel-tempels is twee enorme rotstempels in Aboe Simbel (Arabies: أبو سمبل) in Nubië, Suid-Egipte. Hulle is geleë op die westeroewer van die Nassermeer, sowat 230 km suidwes van Aswan. Die kompleks is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied bekend as die Nubiese monumente[1] wat strek van Aboe Simbel tot by Philae.
Die twee tempels is aanvanklik in die 13de eeu v.C. uit die rots gekap tydens die bewind van farao Ramses II as ’n monument vir hom en sy koningin, Nefertari, om sy beweerde oorwinning by die Slag van Kadesj te gedenk. Die kompleks is egter in 1968 in sy geheel verskuif na ’n kunsmatige heuwel. Dit was nodig om te voorkom dat dit oorvloei word tydens die skepping van die Nassermeer, die groot kunsmatige reservoir van die Aswandam in die Nylrivier.
Die Groot Tempel by Aboe Simbel, wat sowat 20 jaar gevat het om te bou, is voltooi omstreeks jaar 24 van Ramses die Grote se bewind (1265 v.C.). Dit is gewy aan die gode Amoen, Ra-Horachty en Ptah, asook aan die vergoddelikte Ramses II self.[2] Dit word algemeen beskou as die deftigste en mooiste tempel wat in sy tyd gebou is, en een van die mooistes in Egipte.
Vier reusagtige standbeelde van 20 meter hoog van die farao met die dubbele Pschent-kroon van Bo- en Benede-Egipte versier die fasade van die tempel. Die beelde is direk uit die rots gekap waarin die tempel oorspronklik geleë was. Langsaan is kleiner standbeelde, van Nefertari, die koninginmoeder Moet-Toei en agt van Ramses se kinders.
Die ingang self is met reliëf versier wat die koning uitbeeld waar hy die god Ra Harakhti aanbid – dié se standbeeld staan in ’n groot nis.[2] Aan die bokant van die fasade is ’n ry van 22 bobbejane wat skynbaar die opkomende son aanbid.
Die binneste deel van die tempel het dieselfde driehoekige ontwerp van die meeste ander Egiptiese tempels, met kamers wat al hoe kleiner word van die ingang tot by die heiligdom. Die tempel se struktuur is ingewikkeld vanweë die baie syvertrekke. Die suilesaal is 18 meter lank en 16,7 meter breed en word ondersteun deur agt groot pilare wat die verbinding van Ramses met Osiris, die god van die Doeat (onderwêreld), uitbeeld. Dit simboliseer die ewige natuur van die farao. Die reliëfs teen die mure beeld vegtonele van sy militêre veldtogte uit.
Daar word geglo die as van die tempel is so geplaas dat die son op 21 Oktober en 21 Februarie van elke jaar die heiligdom sou binnedring en op die standbeelde teen die agterste muur sou skyn, behalwe op die standbeeld van Ptah, die god wat met die onderwêreld verbind word en altyd in die donkerte bly. Toeriste besoek Aboe Simbel elke jaar op dié twee dae om die verskynsel te sien.[2][3]
Die tempel van Hathor en Nefertari, ook bekend as die Klein Tempel, is sowat 100 meter noordoos van die Groot Tempel geleë en is gewy aan die godin Hathor en Ramses II se vrou, Nefertari. Dit is een van die min kere dat ’n tempel aan ’n koningin gewy is. Die plan van die Klein Tempel is ’n eenvoudiger ontwerp van die Groot Tempel.
Ses standbeelde versier die fasade. Twee van hulle is net meer as 10 meter hoog en is van die farao en sy vrou. Dit is die enigste keer in die geskiedenis dat die standbeelde van ’n farao en sy koningin ewe groot is.[2] Nes in die Groot Tempel word die suilesaal ondersteun deur ses pilare; hulle beeld die koningin uit wat die sinistrum (’n musiekinstrument wat met Hathor verbind word) bespeel.
Teen die agterste muur is ’n nis waarin dit lyk of Hathor, as ’n heilige koei, uit die berg te voorskyn kom.