Achernar
| ||||
Achernar se ligging (in die rooi sirkel). | ||||
Sterrebeeld | Eridanus | |||
Spektraaltipe | B6 Vep[1] | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 01h 37m 42.84548s[2] | |||
Deklinasie | -57° 14′ 12.3101″[2] | |||
Skynmagnitude (m) | 0,40-0,46[3] | |||
Absolute magnitude (M) | -1,46[4] | |||
B-V-kleurindeks | -0,16[5] | |||
U-B-kleurindeks | -0,66[5] | |||
Besonderhede | ||||
Massa (M☉) | 6,7[6] | |||
Radius (R☉) | 7,3 × 11,4[7] | |||
Ligsterkte (L☉) | 3 150[7] | |||
Ouderdom (jaar) | 37,3 miljoen[8] | |||
Temperatuur (K) | ~15 000[9] | |||
Rotasiespoed (km/s) | 250[9] | |||
Eienskappe | ||||
Veranderlikheid | Be-ster[3] | |||
Ander name | ||||
Alpha Eridani, 70 Eridani, CD -57°334, FK5 54, HD 10144, HIP 7588, HR 472, SAO 232481, 2 G. Eri | ||||
|
Achernar is die primêre (of A-)komponent[10] van die dubbelster[6] bekend as Alpha Eridani (of α Eri), en is die helderste ligpunt in die sterrebeeld Eridanus. Dit is die 10de helderste ster aan die naghemel. Die twee komponente is Alpha Eridani A (die primêre ster) en B (die sekondêre ster, soms informeel bekend as Achernar B). Hulle is sowat 139 ligjare van die Son af.[2]
Van die 10 helderste sterre in die lug is Alpha Eridani die warmste en blouste omdat dit ’n B-tipe ster is. Achernar het ’n ongewoon vinnige rotasiespoed, wat veroorsaak dat dit ’n ovaal vorm het. Die sekondêre ster is kleiner: Dit is ’n A-tipe ster. Dit wentel op ’n afstand van sowat 12 AE om Achernar.
Die dubbelster se Bayer-naam is "Alpha Eridani". Die twee komponente word A en B genoem. Die stelsel se tradisionele naam was "Achernar", van die Arabiese آخر النهر ākhir an-nahr, "Die Einde van die Rivier". Die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) het dié naam op 30 Junie 2016 vir Alpha Eridani A goedgekeur.[10][11][12]
Achernar is in die Suidelike Halfrond in November op sy sigbaarste; dit is ’n sirkumpolêre ster en kan byvoorbeeld in Kaapstad en Port Elizabeth skaars gesien word omdat dit net sowat 1 graad bo die horison is. Verder suid kan dit egter dwarsdeur die nag goed gesien word.
Achernar is ’n helder, blou ster met ’n massa van sowat sewe keer dié van die Son.[6] Dit is ’n hoofreeksster met ’n klassifikasie van B6 Vep, maar sy ligsterkte is sowat 3 150 keer die Son s'n. Die sekondêre ster is van spektraaltipe A0V-A3V, wat dui op ’n massa van sowat twee sonmassas. Die skeiding tussen die twee sterre is sowat 12,3 AE en hul wentelperiode is minstens 14-15 jaar.[6]
Achernar draai so vinnig dat sy deursnee by sy ewenaar sowat 56% groter is as by sy pole. Die poolas lê teen ’n hoek van sowat 65° met die gesigslyn van die Aarde af.[7]
Vanweë die ovaal vorm verskil die ster se temperature aansienlik – by die pole kan dit meer as 20 000 K wees, en by die ewenaar minder as 10 000 K. Die hoë temperatuur by die pole bring ’n sterk poolwind mee wat materie uit die ster waai, en dit veroorsaak ’n hulsel van warm gas en plasma by die pole. Die hele ster word omring deur ’n uitgebreide hulsel, wat waargeneem kan word vanweë sy uitermate hoë infrarooistraling,[9] of sy polarisasie.[13] Die teenwoordigheid van ’n sirkumstellêre skyf van geïoniseerde gas is ’n algemene kenmerk by Be-sterre soos dié.[13] Die skyf is nie stabiel nie en val af en toe terug in die ster. Die maksimum polarisasie vir Achernar se skyf is in September 2014 waargeneem, en neem nou af.[14]