Albert Ballin | |
---|---|
Gebore | 15 Augustus 1857 |
Sterf | 9 November 1918 Hamburg, Duitsland |
Nasionaliteit | Duitsland |
Beroep | Reder |
Eggenoot | Marianne Rauert |
Kinders | Irmgard (aangeneem) |
Ouer(s) | Samuel Joseph Ballin |
Albert Ballin (* 15 Augustus 1857; † 9 November 1918 in Hamburg) was 'n Hamburgse reder en een van die vernaamste sakepersoonlikhede van Joodse afkoms in die tyd van die Duitse Keiserryk. As besturende direkteur het hy van sy redery, die Hamburg-Amerikanische Packetfahrt-Actien-Gesellschaft, kort HAPAG, die grootste skeepvaartlyn ter wêreld gemaak. Hy word as die vader van moderne plesierboot-toerisme beskou.
Ballin was 'n vurige patriot en het aktief aan die politieke lewe deelgeneem. As vriend en raadgewer van keiser Wilhelm II het hy die monarg probeer oorreed om liewer met die Verenigde Koninkryk te koöpereer as om konfrontasie te soek. Die keiser het egter voortgegaan om die Britse regering met sy beleid van vlootuitbreiding uit te daag.[1]
As gevolg van die Eerste Wêreldoorlog het Ballin die vernietiging van sy lewenswerk en die verlies van sy skepe in die gesig gestaar. Twee dae voor die einde van die oorlog het hy selfmoord gepleeg deur 'n oordosis slaappille te drink.