Alfred Brendel

Alfred Brendel
Brendel, Ruhr Klavier-fees, Essen, 2019
Gebore05 Januarie 1931 (1931-01-05) (93 jaar oud)
Loučná nad Desnou (Duits: Wiesenberg), Tsjeggo-Slowakye
Alma materGraz-konservatorium
Beroep
  • pianis
  • komponis
  • skrywer

Alfred Brendel (* 5 Januarie 1931) is 'n Oostenrykse pianis, digter en outeur wat bekend is vir sy opvoerings van Mozart, Schubert, Schoenberg en Beethoven se musiek.[1]

Biografie

[wysig | wysig bron]
Brendel in 2010

Brendel is in Wiesenberg, Tsjeggo-Slowakye (nou Loučná nad Desnou, Tsjeggië) gebore in 'n nie-musikale gesin. Die gesin het na Zagreb, Joego-Slawië (nou Kroasië) verhuis toe Brendel ses jaar oud was, en hy het daar klavierlesse begin neem onder Sofija Deželić. Hy het later na Graz, Oostenryk, verhuis, waar hy die klavier onder Ludovica von Kaan aan die Graz Konservatoria en komposisie onder Artur Michel studeer het. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die veertienjarige Brendel na Joego-Slawië teruggestuur om loopgrawe te grawe.

Na die oorlog het Brendel musiek gekomponeer, die klavier gespeel, geskryf, en geskilder. Hy het egter nie verdere formele klavierlesse ontvang nie, en alhoewel hy meesterklasse bygewoon het onder Edwin Fischer en Eduard Steuermann, was hy grootliks na sestien jaar selfgeleerd.[2]

Brendel het sy eerste openbare opvoering op sewentien jaar in Graz gegee.[1] Hy het dit "Die Fuga in Klavierliteratuur" genoem, en bykomend tot fugas deur Bach, Brahms en Liszt, het dit Brendel se eie sonate ingesluit.[3] In 1949 het hy vierde plek behaal tydens die Ferruccio Busoni Internasionale Klavierkompetisie in Bolzano, Italië. Hy het daarna deur Europa en Latyns-Amerika getoer, en mettertyd sy loopbaan opgebou en deelgeneem aan meesterklasse deur Paul Baumgartner, Eduard Steuermann en Edwin Fischer.[2]

Brendel het in 1952 op 21 sy eerste solo-opname gemaak: Liszt se Weihnachtsbaum. Dit was die wêreldpremiére van die werk.[4] Sy eerste concerto-opname, Prokofiëf se Klavierconcerto No. 5, is reeds 'n paar jaar vantevore gemaak. Hy het voortgegaan om 'n aantal ander opnames te maak, insluitende drie volledige stelle van Beethoven se klaviersonates (een vir Vox Records en twee vir Philips Records). Hy was die eerste pianis om die volledige soloklavierwerke van Beethoven op te neem.[5] Hy het ook werke deur Liszt, Brahms (insluitende Brahms se concertos), Schumann en veral Schubert opgeneem.[6] Een van Brendel se belangrikste opname-siklusse is Mozart se volledige klavierconcertos saam met Sir Neville Marriner en die Academy of St Martin in the Fields. Dit is ingesluit as deel van Philips se 180-CD Complete Mozart Edition.[7] Brendel het nie baie Chopin gespeel of opgeneem nie. Dit is egter nie as gevolg van 'n gebrek aan bewondering vir dié komponis nie. Brendel beskou Chopin se Preludes as "die mees manjifieke prestasie in klaviermusiek na Beethoven en Schubert".[3]

Brendel het baie opnames vir Vox gemaak. Hy het die eerste van drie stelle van Beethoven se volledige klaviersonates vir die plaatetiket opgeneem. Hy het sy deurbraak gemaak met 'n opvoering van Beethoven by die Queen Elizabeth Hall in Londen. Die dag daarna het nie minder nie as drie groot plaatetikette sy agent gekontak. Hierna het hy na Hampstead, Londen verhuis, waar hy steeds woon.[1] Brendel maak sedert die 1970's vir Philips opnames.[8] Hy het verskeie toere in Europa, die VSA, Suid-Amerika, Japan en Australië meegemaak.[9] Hy het 'n besonders hegte vennootskap met die Weense- en Berlynse Filharmoniese orkes, maar het verskeie keer saam met al die grootste orkeste in die VSA en elders gespeel.[10] Brendel het reeds verskeie siklusse van Beethoven se Sonates en Concertos gespeel, en was een van die min pianiste wat in latere jare steeds konsertsale tot oorlopens toe vol kon vul sodat daar nie plek vir 'n muis is nie.[10][11] Hy is slegs die derde pianis (na Emil von Sauer en Wilhelm Backhaus) aan wie erelidmaatskap van die Weense Filharmoniese Orkes toegestaan is. Die Hans von Bülow-medalje is ook deur die Berlynse Filharmoniese Orkes aan hom toegeken.[3]

Damian Thompson van The Daily Telegraph het Brendel se 1993-opname: Beethoven: The Late Piano Sonatas (Philips Duo 438374) beskryf as " 'n meer magistrale benadering...gesprinkel met stukkies van Brendel se vreemde, spitsvondige humor,"[12] terwyl Robert Cummings by classical.net gesê het: "Daar was al baie uitstekende pianiste wat die Beethoven klaviersonates opgeneem het met lof, insluitende Richard Goode .. Vladimir Ashkenazy, en die, met goeie rede, veel geprese Artur Schnabel. Brendel neem vir seker sy plek in tussen die grootste Beethoven vertolkers van alle tye, en hierdie opname toon hom in sy inspirerendste vorm."[13]

In 2009 het Brendel in die bekroonde Duits-Oostenrykse dokumentêre rolprent Pianomania verskyn. Die dokumentêr handel oor 'n klaviertegnikus van Steinway & Sons, en is geregisseer deur Lilian Franck en Robert Cibis. Die rolprent het oor die algemeen gunstige resensies in die VSA ontvang,[14] sowel as in Asië en regdeur Europa, en vorm deel van die Goethe-Instituut-katalogus.

Brendel het veral Haydn, Beethoven, Schubert en Mozart gespeel. Hy het relatief min werke uit die twintigste eeu gespeel, maar het wel Schoenberg se Klavierconcerto gespeel. Aan die einde van sy konsertloopbaan kon hy nie meer veeleisende werke soos bv. Beethoven se "Hammerklavier"-sonate speel nie as gevolg van artritis.

Kritiese reaksie betreffende Brendel se speelwerk is gemeng. Hy is deur die musiekkritikus Michael Steinberg as "die nuwe Schnabel" geprys. In teenstelling hiermee het die NY Times se Harold C. Schonberg opgemerk dat sommige kritici en spesialiste die pianis daarvan beskuldig dat hy "pedanties" is.[15] Brendel se speelwerk is soms as "serebraal" beskryf.[16] Brendel self het gesê dat hy glo dat dit die pianis se werk is om die komponis se wense te respekteer, sonder om windmakerig te wees of sy eie weergawe van die musiek te gee: "Ek is aan die komponis verantwoordbaar, en spesifiek aan die stuk musiek".[10] Brendel haal bykomend tot sy mentor en onderwyser Edwin Fischer, die pianiste Alfred Cortot, Wilhelm Kempff, en die dirigente Bruno Walter en Wilhelm Furtwängler aan as besondere invloede op sy musikale ontwikkeling.

Brendel het saam met jonger pianiste soos Paul Lewis, Till Fellner en, mees onlangs, Kit Armstrong gewerk.[17] Hy het ook saam met sy seun Adriaan konserte gegee en opnames saam met hom gemaak[18]. Hy het ook in baie opvoerings van Lieder saam met Hermann Prey, Dietrich Fischer-Dieskau en Matthias Goerne verskyn.

In November 2007 het Brendel aangekondig dat hy sou aftree na sy konsert van 18 Desember 2008 in Wene, waarin hy as solis opgetree het in Mozart se Klavierconcerto No. 9 in E-mol; die orkes was die Weense Filharmoniese Orkes gelei deur Charles Mackerras.[5] Sy finale konsert het in New York by Carnegie Hall op 20 Februarie 2008 plaasgevind, met werke deur Haydn, Mozart, Beethoven en Schubert. Sedert sy buiging by Carnegie Hall op 21 Januarie 1973 het hy een-en-tagtig keer daar verskyn, en in 1983 slegs die tweede pianis geword om die volledige siklus van Beethoven se klaviersonates daar op te voer, 'n prestasie wat hy in 1993 herhaal het (Artur Schnabel was die eerste om so te doen in 1936; na Brendel het Maurizio Pollini die siklus in 1995/1996 uitgevoer, en Daniel Barenboim het in 2003 weer so gemaak).

Publikasies

[wysig | wysig bron]

Behalwe vir musiek, maak literatuur 'n groot deel van Brendel se "tweede lewe", en sy beroep uit. Sy skrywes het al in Engels, Duits, Frans, Italiaans, Spaans, Nederlands, Japannees, Koreaans, en ander tale verskyn. Hy is al vir verskeie jare 'n kranige bydraer tot die New York Review of Books. Sy boeke sluit in:

  • Musical Thoughts and Afterthoughts (essays) (1976)
  • Music Sounded Out (1990) – essays, insluitende "Must Classical Music be Entirely Serious?"
  • One Finger Too Many (poësie) (1998)
  • Alfred Brendel on Music (versamelde essays) (2001)
  • Me, of All People: Alfred Brendel in Conversation with Martin Meyer (2002) (VK uitgawe: The Veil of Order)
  • Cursing Bagels (poësie) (2004)
  • Playing the Human Game (versamelde digkuns) (2010) Phaidon Press
  • A Pianist's A–Z: A Piano Lover's Reader. Faber & Faber. 2013. ISBN 978-0-571-30184-3.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]
  • Musik, Sinn und Unsinn. Festschrift anläßlich der Hommage an Alfred Brendel (Berlyn: Konzerthaus Berlyn, 2017)[19]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1,0 1,1 1,2 Stephen Plaistow, "Brendel, Alfred", Grove Music Online, 2007. Opgespoor op 3 Junie 2007.
  2. 2,0 2,1 "Alfred Brendel: Life & Career". alfredbrendel.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Desember 2019. Besoek op 6 Januarie 2016.
  3. 3,0 3,1 3,2 Francis Merson, "Alfred Brendel: Notes on a Musical Life", Limelight tydskrif, April 2016, bl. 40
  4. Uncle Dave Lewis. "Liszt: Weihnachtsbaum; L'arbre de Noël; The Christmas Tree". AllMusic (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Januarie 2020. Besoek op 8 November 2015.
  5. 5,0 5,1 Higgins, Charlotte (21 November 2007). "Alfred Brendel, klaviermaestro, roep halt op konsertloopbaan". The Guardian. Londen. Besoek op 21 November 2007.
  6. "Alfred Brendel : Recordings" (in Engels). alfredbrendel.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2019. Besoek op 12 Februarie 2017.
  7. Kinderman, William (30 November 2006). "Mozart's Piano Music". Oxford University Press. Besoek op 12 Februarie 2017 – via Google Books.
  8. Anthony Holden (8 Januarie 2006). "Alfred Brendel, A Personal 75th Birthday Selection". The Observer. Londen. Besoek op 21 November 2007.
  9. Cummings, David M. (1 Januarie 2000). "International Who's who in Music and Musicians' Directory: (in the Classical and Light Classical Fields)". Psychology Press. Besoek op 12 Februarie 2017 – via Google Books.
  10. 10,0 10,1 10,2 Nicholas Wroe (5 Oktober 2002). "Keeper of the flame". The Guardian. London. Besoek op 21 November 2007.
  11. "ALFRED BRENDEL HAS TAKEN THE WRONG ROADS TO SUCCESS". The New York Times (in Engels). 3 Mei 1981. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Desember 2019. Besoek op 12 Februarie 2017.
  12. Thompson, By Damian. "Who is the greatest interpreter of Beethoven's piano music?". The Daily Telegraph (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Desember 2019. Besoek op 12 Februarie 2017.
  13. "Classical Net Review – Beethoven – Piano Sonatas #30-32" (in Engels). classical.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 September 2019. Besoek op 12 Februarie 2017.
  14. Dargis, Manohla (3 November 2011). "A Master of the Piano Whose Performances Receive No Applause". The New York Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2013. Besoek op 24 Mei 2013.
  15. The Great Pianists from Mozart to the Present, Harold C. Schonberg, Simon & Schuster, Second Edition, 1987, ISBN 0-671-63837-8
  16. Service, Tom (16 Junie 2003). "Alfred Brendel (Snape Maltings Concert Hall, Suffolk)". The Guardian. Londen. Besoek op 21 November 2007.
  17. Stephen Plaistow (15 Desember 2008). "'I've had a lot of fun' Alfred Brendel talks to Stephen Plaistow about inspirations, aching limbs and mastering Mozart". The Guardian (in Engels). Londen. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2019. Besoek op 14 Junie 2010.
  18. Clements, Andrew (1 Julie 2003). "Adrian and Alfred Brendel (Wigmore Hall, Londen)". The Guardian. Besoek op 24 November 2007.
  19. Die feesbundel ter ere van Brendel bevat bydraes deur o.a., Imogen Cooper, Andreas Dorschel, Till Fellner, Peter Gülke, Florence Noiville en Simon Rattle.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]