Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Angela Hewitt, (gebore op 26 Julie 1958) is 'n Kanadese klassieke pianis. Sy is veral bekend om haar interpretasies van die musiek van Bach.
Hewitt is gebore in Ottawa, Ontario as die dogter van die Yorkshire-boorling Godfrey Hewitt, (derhalwe beskik sy ook oor Britse burgerskap) wat as koorleier aan die Christ Church-katedraal in Ottawa gedien het.[1][2] Sy het op driejarige ouderdom klavierlesse van haar moeder ontvang, en op vyfjarige leeftyd 'n beurs verdien. Sy het in Ottawa die viool onder Walter Prystawski studeer, asook blokfluit en ballet onder onderskeidelik Wolfgang Grunsky en Nesta Toumine. Haar eerste vollengte uitvoering het op negejarige ouderdom in die Koninklike Konservatoria van Musiek in Toronto plaasgevind, waar sy vanaf 1964 tot 1973 onder Earle Moss en Myrtle Guerrero studeer het. Sy was hierna 'n student van die Franse pianis Jean-Paul Sevilla aan die Universiteit van Ottawa.
Hewitt het wêreldwyd as solis en saam met die orkes opgetree. Sy is veral bekend om haar siklus van Bach-opnames wat sy in 1994 begin en in 2005 voltooi het — en wat die belangrikste klawerbordwerke van J.S. Bach bevat. Haar opname van Bach se Die Kunst Der Fuge is op 17 Oktober 2014 vrygestel.[3] Haar diskografie sluit ook werke deur Louis Couperin, Jean-Philippe Rameau, Olivier Messiaen, Emmanuel Chabrier, Maurice Ravel, Robert Schumann, Ludwig van Beethoven, Frédéric Chopin, Claude Debussy en Gabriel Fauré in. Sy het twee albums opgeneem bestaande uit Mozart se klavierconcertos saam met die Orchestra da Camera di Mantova, en 'n derde album saam met Ottawa se National Arts Centre Orchestra onder leiding van Hannu Lintu. Sy het ook Schumann se Klavierconcerto opgeneem saam met die DSO Berlin onder leiding van Lintu.
Haar 2007–08 seisoen is gewy aan die volledige uitvoering van Bach se Das wohltemperierte Klavier in die grootste stede van die wêreld. Haar Hyperion DVD wat handel oor die uitvoering van Bach se werke op klavier, is gelyklopend met die toer vrygestel.
Hewitt het in Julie 2005 die Trasimeno Musiekfees in Umbrië naby Perugia van stapel gestuur, waarvan sy die artistieke direkteur is. Hewitt het in 2002 oorgeskakel na Fazioli-klaviere.[4]
Op 31 Januarie 2020 het Hewitt se F278 Fazioli vleuelklavier (die klavier was die enigste van dié model ter wêreld wat van 'n vierpedaal-meganisme voorsien is) flenters geval tydens die verskuiwing daarvan nadat 'n maatskappy wat spesialiseer in die verskuiwing van musiekinstrumente dit laat val het. Die ongeluk het plaasgevind na afloop van 'n opnamesessie van Beethoven se klaviervariasies in Berlyn toe die klavier teruggeskuif moes word na haar woning in Italië.[5]
In 1975 het Hewitt die Chopin Jong Pianiste-kompetisie in Buffalo, New York gewen asook 'n Bach-kompetisie in Washington, DC. In 1979 het sy derde prys tydens die Robert Casadesus Internasionale Klavierkompetisie (sedertdien hernoem na die Cleveland Internasionale klavierkompetisie) gewen. In 1978 het sy die klavierafdeling in die CBC Radio-kompetisie gewen en in 1980 die Dino Ciani-kompetisie in Milaan, Italië. In 1985 het sy eerste prys tydens die Toronto Internasionale Bach Klavierkompetisie gewen, wat gelei het tot 'n opname vir DG. In 1986 is sy deur die Kanadese Musiekraad aangewys as kunstenaar van die jaar.
In 2000 is sy geslaan tot 'n Offisier van die Orde van Kanada.[6] In 2002 is die Nasionale Kunstesentrum-prys aan Hewitt toegeken, welke saam met die Goewerneur-Generaal se uitvoerende kunste-prys toegeken word wat aan 'n kunstenaar of groep toegeken word wat 'n uitsonderlike uitvoeringsjaar beleef het.[7]
Hewitt is in 2006 benoem as Gramophone se kunstenaar van die jaar. Sy het in 2010 die MIDEM Classical-toekenning ontvang as instrumentalis van die jaar, en die heel eerste BBC Radio 3 Listener's-prys van die Koninklike Filharmoniese genootskap in 2003. Sy is ook 'n genoot van die Koninklike genootskap van Kanada, en beskik oor eregrade van die Universiteit van Ottawa, die Universiteit van Toronto, Queen's-universiteit (Kingston), die Open University (Londen), Mount Saint Vincent-universiteit (Halifax), die Universiteit van Saskatchewan en Carleton-universiteit (Ottawa).[8]
Hewitt is op 30 Desember 2015 bevorder tot Companion of the Order of Canada, synde die hoogste vorm van die eerbewys.[9]
Nadat Hewitt vanaf 1978 tot 1985 in Parys gewoon het, het sy na Londen verhuis, welke sedertdien haar hoofblyplek is. Sy is tans woonagtig in Italië.[10]