Antinoös

Antinoös
Borsbeeld van Antinoös-Dionysus (Hermitage Museum)
Geboreongeveer 111
Sterfongeveer 130 (op ouderdom 18–19)

Antinoös of Antinoüs (Grieks: Ἀντίνοος; omstreeks 111 – omstreeks 130)[1] was 'n Griekse adolessent uit Bithynia en 'n gunsteling en minnaar van die Romeinse keiser Hadrianus.[2][3][4] Na sy voortydige dood is Antinoös op Hadrianus se aandrang vergoddelik en aanbid in beide die Griekse Ooste en Latynse Weste; somtyds selfs as 'n god (Grieks: θεός, transliterasie: theós) en soms as 'n Griekse held (Grieks: ἥρως, transliterasie: hḗrōs).[5]

Daar is min bekend oor Antinoös se lewe, alhoewel dit bekend is dat hy gebore is in Claudiopolis (hedendaagse Bolu, Turkye),[6] in die Romeinse provinsie Bithynia. Hy is waarskynlik in 123 bekend gestel aan Hadrianus, voordat hy geneem is na Italia vir sy hoër opvoeding. Teen 128 was hy Hadrianus se gunsteling, en hy is geneem op 'n toer deur die Romeinse Ryk as deel van Hadrianus se persoonlike gevolg. [7] Antinoös het Hadrianus vergesel tydens sy bywoning van die jaarlikse Eleusiniese misterieë in Athene. Hy was ook saam met Hadrianus toe hy die Maroesiese leeu in Libië gedood het. Antinoös het in Oktober 130 te midde van geheimsinnige omstandighede gesterf, toe hy en Hadrianus deel was van 'n flottielje wat langs die Nyl gevaar het.[8] Verskeie voorstelle is gemaak vir die oorsaak van sy dood, wat wissel van 'n toevallige verdrinking tot 'n opsetlike menslike opoffering of selfs selfmoord.

Na sy dood het Hadrianus Antinoös as 'n god verklaar en 'n georganiseerde kultus gevestig wat toegewy was aan sy aanbidding en regdeur die Ryk versprei het. Hadrianus het die stad Antinoöpolis naby Antinoös se sterfplek gestig, wat 'n kultussentrum geword het vir die aanbidding van Osiris-Antinoös. Hadrianus het ook 'n spele gestig ter herdenking van Antinoös wat in beide Antinoöpolis en Athene plaasgevind het. Antinoös het 'n simbool geword van Hadrianus se drome van pan-Hellenisme. Die aanbidding van Antinoös het een van die mees blywende en gewildste kultusse van vergoddelikte mense in die Romeinse Ryk geword, en verskeie gebeurtenisse is nog lank na Hadrianus se afsterwe in sy naam gevestig.[9]

Antinoös het gevolglik 'n simbool van manlike homoseksualiteit in die Westerse kultuur geword en het verskyn in die werk van Oscar Wilde, Fernando Pessoa en Marguerite Yourcenar.

Biografie

[wysig | wysig bron]

Geboorte en kinderjare

[wysig | wysig bron]
Kop van Antinoös uit 130–138 n.C. gevind by die Villa Adriana, tans by die Museo Nazionale Romano, Rome, Italië

Antinoös is gebore uit 'n Griekse gesin naby die stad Claudiopolis (tans Bolu in Turkye)[10][7] wat geleë was in die Romeinse provinsie Bithynia,[11] in wat vandag Noord-wes Turkye is.[12][13] Hy is gebore in die gebied na die ooste van die stad genaamd Mantineion, 'n landelike gebied:

Dit was belangrik vir die latere kultuskarakter wat uitgebeeld word in sy standbeelde: hy was 'n figuur van die land, 'n seun van die woudlandskap.[14]R. R. R. Smith

Antinoös se geboortejaar is nie opgeteken nie, alhoewel dit by beraming waarskynlik tussen 110 en 112 n.C. was.[15][16] Vroeë bronne vermeld dat sy verjaardag in November was, en hoewel die presiese datum nie bekend is nie, het [17] Royston Lambert, een van Antinoös se biograwe, beweer dat dit waarskynlik 27 November is.[15] Gegewe die ligging van sy geboorte en sy fisiese voorkoms, is dit waarskynlik dat 'n deel van sy voorgeslag nie Grieks was nie.[18]

Status

[wysig | wysig bron]

Daar is verskeie potensiële oorspronge vir die naam "Antinoös"; dit is moontlik dat hy vernoem is na die karakter Antinoös, een van Penelope se vryers in Homeros se epiese gedig, die Odusseia.[15] Nog 'n moontlikheid is dat hy die manlike ekwivalent van die naam "Antinoë" gegee is,[19] dit was die naam van 'n vrou wat een van die stigtersfigure was van Mantineia, 'n stad wat waarskynlik noue betrekkinge met Bithinië gehad het.[15] Alhoewel baie historici van die tyd Renaissance af beweer het dat Antinoös 'n slaaf was, beweer slegs een van ongeveer vyftig vroeë bronne dit. Hierdie moontlikheid bly onwaarskynlik[20][21] aangesien dit baie kontroversieel sou wees om 'n voormalige slaaf in die Romeinse samelewing te vergoddelik.[21] Daar is geen bestaande geloofwaardige bewyse wat getuig van Antinoös se familieagtergrond nie, alhoewel Lambert glo dat dit heel waarskynlik was dat sy familie kleinboere of kleinsake-eienaars was, en sodoende sosiaal gesproke nie vername mense was nie, maar tog nie afkomstig van die armste sektore van die samelewing nie.[22] Lambert vind dit ook waarskynlik dat Antinoös as kind 'n basiese opvoeding sou gehad het, nadat hy geleer is hoe om te lees en skryf.[23]

Lewe saam met Hadrianus

[wysig | wysig bron]
Borsbeeld in die Britse Museum van Hadrianus (links) en Antinoös (regs). Beide vorm deel van die Townley Marbles.

Keiser Hadrianus het baie getoer deur sy ryk[24][25] en in Junie 123 in Claudiopolis aangekom, toe hy waarskynlik die eerste keer kennis gemaak het met Antinoös.[26][27] Gegewe Hadrianus se persoonlikheid, meen Lambert dat dit onwaarskynlik is dat hulle reeds op hierdie stadium minnaars was, en dit is meer waarskynlik dat Antinoös gekies is om na Italië gestuur te word, waar hy waarskynlik aan die keiserlike paedagogium by die Coelius-heuwel opgelei is.[28] Hadrianus het intussen voortgegaan om deur sy ryk te toer, en eers in September 125 na Italië teruggekeer, toe hy hom in sy villa (Villa Adriana) in Tibur gevestig het.[29] Oor die volgende drie jaar het Antinoös sy persoonlike gunsteling geword, want toe hy drie jaar later na Griekeland vertrek het, het hy Antinoös saamgeneem met hom in sy persoonlike gevolg:[29][30]

Die manier waarop Hadrianus die seun op sy reise saamgeneem het, en naby hom was tydens oomblikke van geestelike, morele of fisiese verheffing, en, na sy dood, homself omring het met sy beelde, wys op 'n obsessiewe begeerte na sy teenwoordigheid, 'n mistiek-godsdienstige behoefte aan sy geselskap.
Uittreksel uit Royston Lambert se Beloved and God: The Story of Hadrian and Antinous[31]

Lambert beskryf Antinoös as "die een persoon wat blykbaar die diepste verbintenis met Hadrianus gehad het" regdeur sy lewe.[32] Hadrianus se huwelik met Sabina was ongelukkig, [33] en daar is geen betroubare bewyse dat hy ooit 'n seksuele hunkering na vroue gehad het nie,[34] in teenstelling met baie betroubare vroeë bewyse dat hy seksueel aangetrokke was tot seuns en jong mans.[35] Seksuele verhoudings tussen mans en jong mans was 'n gevestigde gewoonte onder Griekeland se burgerklasse, met 'n ouer erastes ('n "minnaar", tussen die ouderdomme van 20 en 40) wat 'n seksuele verhouding gehad het met 'n eromenos. (die "geliefde," tussen 12 en 18 jaar oud) en 'n sleutelrol gespeel het in laasgenoemde se opvoeding.[36][37] Daar is egter geen historiese bewyse beskikbaar wat kan staaf op watter ouderdom Antinoös 'n gunsteling van Hadrianus geword het nie.[38][39] So 'n samelewingsinstelling van pederastie was nie eie aan die Romeinse kultuur nie, hoewel die praktyk ietwat algemener was onder die patrisiërs.

Dit is bekend dat Hadrianus geglo het dat Antinoös intelligent en wys was,[29] en dat hulle 'n gedeelde liefde vir jag gehad het,[40][30] wat as 'n besonder manlike strewe in die Romeinse kultuur beskou is.[41] Alhoewel nie een bestaande is nie, is dit bekend dat Hadrianus beide 'n outobiografie en erotiese poësie oor sy seunsgunstelinge geskryf het; dit is dus waarskynlik dat hy oor Antinoös geskryf het.[42] Tydens hul verhouding is daar geen bewyse dat Antinoös ooit sy invloed oor Hadrianus vir persoonlike of politieke gewin gebruik het nie.[43]

In Maart 127 het Hadrianus – waarskynlik vergesel deur Antinoös – deur die Sabyne-gebied van Italië, Picenum, en Kampanië gereis.[44] Van 127 tot 129 is die keiser geteister deur 'n siekte wat dokters nie kon verklaar nie.[44] In April 128 het hy die grondsteen gelê vir 'n tempel van Venus en Rome in Rome tydens 'n ritueel waar hy moontlik deur Antinoös vergesel is.[44] Vandaar het Hadrianus op 'n toer deur Noord-Afrika gegaan, waartydens hy deur Antinoös vergesel is.[45] Aan die einde van 128 het Hadrianus en Antinoös in Korinte geland en voortgegaan na Athene, waar hulle tot Mei 129 oorgebly het, vergesel deur keiserin Sabina; die Caesernii-broers (gereelde metgeselle van die Keiser); en Pedanius Fuscus die Jongere ('n agterneef van Hadrianus).[46] Dit was in September 128 in Athene dat hulle die jaarlikse vieringe van die Eleusiniese misterieë bygewoon het, waar Hadrianus geïnisieer is in die posisie van epoptes in die Telesterion.[47] Daar word algemeen saamgestem,[48] hoewel daar nie bewyse is nie, dat Antinoös ook op die tydstip geïnisieer is.[49]

Die tondo (links) wat Hadrianus (vergesel deur Antinoös) se leeujag uitbeeld. Boog van Konstantyn in Rome

Vandaar het hulle na Anatolië gereis en hulle in Junie 129 in Antiochië gevestig, waar hulle vir 'n jaar woonagtig was, en Syria, Arabia Petraea en Iudaea besoek het.[50] Van daar af het Hadrianus toenemend krities geraak oor die Joodse kultuur, wat hy as 'n bedreiging vir die proses van romanisering beskou het, en 'n beleid ingestel wat besnydenis verbied het, en 'n Tempel van Zeus-Jupiter op die voormalige terrein van die Joodse Tempel sou laat aanbring.[51][52] Vandaar is hulle na Egipte.[53] Hulle het in Augustus 130 in Alexandrië aangekom. Daar het hulle die sarkofaag van Alexander die Grote besoek.[54] Alhoewel dit met openbare lof en seremonie verwelkom is, het sommige van Hadrianus se aanstellings en optredes die stad se Helleense sosiale elite woedend gemaak en hulle vervreem. Hulle het begin skinder oor sy seksuele aktiwiteite, insluitend dié met Antinoös.[55]

Kort daarna, en waarskynlik in September 130, het Hadrianus en Antinoös weswaarts gereis na Libië, waar hulle gehoor het van 'n Maroesiese leeu wat probleme vir die plaaslike mense veroorsaak het. Hulle het die leeu gejag, en alhoewel die presiese gebeure onduidelik is, is dit duidelik dat Hadrianus Antinoös se lewe gered het tydens hul konfrontasie daarmee, [56] voordat die dier gedood is.[57] Hadrianus het die gebeurtenis wyd verkondig, bronsmedaljes laat giet, historici gekry om daaroor te skryf, Pancrates opdrag gegee om 'n gedig daaroor te skryf,[58] en 'n tondo wat die gebeurtenis uitbeeld is ook later op die Boog van Konstantyn aangebring. Op hierdie tondo is dit duidelik dat Antinoös nie meer 'n jongeling was nie, dat hy gespierd en harig was en in staat daartoe was om sy meester fisies teen te staan; en dus is dit waarskynlik dat sy verhouding met Hadrianus as gevolg daarvan verander het.[57]

Deur die geskiedenis heen was daar baie kontroversie oor die verhouding tussen Hadrianus en Antinoös. In Royston Lambert se boek Beloved and God skryf hy: "Maar wat die sentrale kwessies betref – die geskiedenis van Antinoös, sy verhouding met Hadrianus en sy dood – het ons weinig meer inligting as die vroegste skrywers."[59] Baie van hierdie vroeë skrywers was bevooroordeeld teenoor Hadrianus, veral met betrekking tot sy verhouding met Antinoös.[60][61]

Die kontroversie rondom die verhouding tussen Hadrianus en Antinoös is te wyte aan 'n gebrek aan bestaande bewyse vir waar Antinoös hom bevind het gedurende die jare 123–130 n.C.[62][63] Die eerste vermelding van Antinoös kom uit Pancrates en sy "Leeujag-gedig" uit 130 n.C.[64]

Werklike bewyse aangaande Antinoös se lewe is beskikbaar in die vorm van die Pincio-obelisk by die Pincio-heuwel. Aan die westekant van die reliëf is 'n frase wat sê "hy het grootgeword en was 'n pragtige jongman". Dit sou daarop dui dat Antinoös reeds 'n Efebos[65] was en dat hy in sy huis in Bitinië gevestig was toe hy Hadrianus ontmoet het.[66] Baie skolastici is dit eens dat die verhouding tussen Hadrianus en Antinoös ongeveer drie jaar geduur het: van 127 n.C. tot Oktober 130 n.C., toe Antinoös in die Nyl verdrink het.[23][63] Die gevolgtrekking is dat daar min dokumentasie bestaan oor die werklike verhouding tussen Hadrianus en Antinoös.[67]

Standbeeld van Antinoös by Delphi. Dit is gemaak van polichroom Pariese marmer gedurende die bewind van Hadrianus (regeer van 117 tot 138 n.C.)

Aan die einde van September of vroeg in Oktober 130 het Hadrianus en sy gevolg, onder wie Antinoös, by Heliopolis in Antieke Egipte bymekaargekom om stroomop te seil as deel van 'n flottielje langs die Nylrivier. Die gevolg het amptenare, die prefek, weermag- en vlootbevelvoerders, sowel as letterkundige en wetenskaplike figure ingesluit. Moontlik was Lucius Ceionius Commodus, 'n jong aristokraat wat Antinoös moontlik as mededinger vir Hadrianus se liefde beskou het, ook aanwesig.[68] Op hul reis na die Nyl het hulle gestop by Hermopolis Magna,[69] die primêre heiligdom vir die god Thoth.[70] Dit was kort hierna, in Oktober 130[71][72] – rondom die tyd van die fees van Osiris[73] – dat Antinoös in die rivier geval en gesterf het,[74][75] waarskynlik weens verdrinking.[76] Hadrianus het sy dood in die openbaar aangekondig, met skindernuus wat gou deur die Ryk versprei het dat Antinoös opsetlik vermoor is.[77][67] Die aard van Antinoös se dood bly tot vandag toe 'n raaisel;[78][79]verskeie bespiegelings is egter gemaak:

  1. Een moontlikheid is dat hy deur 'n sameswering vermoor is.[80] Lambert beweer egter dat dit onwaarskynlik is omdat die moontlikheid nie enige ondersteunende historiese bewyse het nie, en omdat Antinoös oënskynlik min invloed uitgeoefen het op Hadrianus, wat beteken dat 'n sluipmoord geen doel sou gedien het nie.[81] 'n Faksie wat Hadrianus se toegeneentheid wou verander kan egter nie uitgesluit word nie.
  2. Sommige skolastici stel voor dat Antinoös moontlik deur Hadrianus self vermoor is, hetsy in 'n poging deur laasgenoemde om sy gesondheid te herwin, of tydens 'n argument tussen die twee. Elizabeth Speller, een van Hadrianus se biograwe, merk op dat die tweede idee strook met die keiser se goed gedokumenteerde aanvalle van woede en geweld.[82] Die meeste navorsers verwerp egter die idee dat Hadrianus sy eie minnaar vermoor het, te oordeel aan sy oorweldigende verdriet oor Antinoös se dood.
  3. Nog 'n voorstel is dat Antinoös tydens 'n vrywillige kastrasie gesterf het as deel van 'n poging om sy jeug en dus sy seksuele aantrekkingskrag te behou. Dit is egter onwaarskynlik omdat Hadrianus beide kastrasie en besnydenis as gruwels beskou het, en omdat Antinoös tussen 18 en 20 jaar oud was ten tyde van sy dood, wat sodanige operasie ondoeltreffend sou maak.[83]
  4. 'n Vierde moontlikheid is dat sy dood toevallig was,[69] miskien omdat Antinoös beskonke was.[84] Volgens sy nou-verlore memoires, het Hadrianus self geglo dat dit die geval is.[85]
  5. Nog 'n moontlikheid is dat Antinoös 'n vrywillige menslike offergawe was.[12] Die vroegste bestaande voorstel hiervoor kom uit die geskrifte van Dio Cassius, 80 jaar na die gebeurtenis, hoewel dit daarna in baie latere bronne herhaal is.[86] In die 2de-eeuse Romeinse Ryk was die oortuiging dat die dood van een die gesondheid van 'n ander kon verbeter wydverspreid, en Hadrianus was vir baie jare siek; in hierdie geval kon Antinoös homself opgeoffer het in die geloof dat Hadrianus sou herstel.[87] Indien laasgenoemde geval waar was, sou Hadrianus dalk nie die oorsaak van Antinoös se dood bekend wou maak nie, omdat hy nie as fisies of polities swak wou voorkom nie. Argumente teen hierdie moontlikheid is die feit dat Hadrianus nie ten gunste was van menslike offerande nie en juis wette daarteen in die Ryk versterk het.[87]

Vergoddeliking en die kultus van Antinoös

[wysig | wysig bron]
(links) Marmerreliëf uit 130–138 n.C. wat Antinoös uitbeeld, óf as Dionysos óf as Silvanus, wat druiwe oes (regs) Borsbeeld van Antinoös as die god Mercurius uit die versameling van Katharina die Grote, tans by die Hermitagemuseum, Sint-Petersburg, Rusland

Hadrianus was verpletter deur die dood van Antinoös,[88] met tydgenote wat getuig het dat hy "soos 'n vrou gehuil het."[74][13][89] In Egipte het die plaaslike priesterdom Antinoös onmiddellik vergoddelik deur hom met Osiris te identifiseer weens die wyse van sy dood. [90][91] In ooreenstemming met Egiptiese gebruik is Antinoös se liggaam waarskynlik deur priesters gebalsem en gemummifiseer,[92] 'n lang proses wat kan verklaar waarom Hadrianus tot die lente van 131 in Egipte aangebly het.[90][88] Terwyl hy daar was [75] het Hadrianus in Oktober 130 vir Antinoös as 'n godheid verklaar en aangekondig dat 'n stad op die terrein van sy dood gebou moet word ter herdenking van hom wat bekend sou staan as Antinoöpolis.[93][84] Die vergoddeliking van mense was nie ongewoon in die Klassieke wêreld nie. Die openbare en formele vergoddeliking van mense was egter gereserveer vir die keiser en lede van die keiserlike familie.[78] Dus was Hadrianus se besluit om Antinoös tot 'n godheid te verklaar en 'n formele kultus te skep wat toegewy is aan hom hoogs ongewoon,[94] en hy het dit gedoen sonder die toestemming van die Romeinse senaat.[95] Die keiser is gekritiseer vir sy ontsaglike hartseer oor Antinoös se heengaan,[12][94] veral in ag genome dat hy die vergoddeliking van sy eie suster Paulina vertraag het toe sy gesterf het.[96][97] Alhoewel die kultus van Antinoös dus 'n verband gehad het met die Romeinse keiserlike kultus, het dit nie deel gevorm daarvan nie.[98] Hadrianus het ook 'n ster in die lug tussen die Arend en die Zodiak geïdentifiseer as Antinoös[12][99] en die rooskleurige lotus wat op die oewer van die Nyl gegroei het met Antinoös geassosieer.[100][101]

Dit is onbekend waar Antinoös begrawe is.[102] Daar is aangevoer dat óf sy liggaam óf sommige oorblyfsels wat met hom geassosieer word by 'n heiligdom in Antinoöpolis begrawe is, alhoewel dit nog argeologies geïdentifiseer moet word.[103] 'n Bestaande obelisk bevat 'n inskripsie wat daarop dui dat Antinoös se liggaam by Hadrianus se landgoed by Villa Adriana in Tibur, Italië begrawe is.[104]

Dit is onduidelik of Hadrianus werklik geglo het dat Antinoös 'n god geword het.[105] Hy sou ook politieke motiewe gehad het om die georganiseerde kultus te skep, want dit het politieke en persoonlike lojaliteit spesifiek aan hom vasgelê.[106] In Oktober 131 het Hadrianus na Athene gereis waar hy vanaf 131/32 die Panhellenion gestig het. Dit was 'n poging om mense se bewustheid van Griekse identiteit lewendig te hou en om die aanbidding van die antieke gode te bevorder; omdat hy self Grieks was, het Antinoös as goddelike Hadrianus se saak bevorder as simbool van pan-Helleniese eenheid.[107] In Athene het Hadrianus ook 'n fees ter ere van Antinous gestig wat gehou sou word in Oktober, die sogenaamde Antinoeia.[108]

Antinoös is op verskillende maniere deur sy aanbidders verstaan, deels as gevolg van streeks- en kulturele variasies.[109] In sommige inskripsies word hy geïdentifiseer as 'n goddelike held, in ander as 'n god, en in ander as beide 'n goddelike held en 'n god. In Egipte is hy dikwels gesien as 'n daimon.[110] Inskripsies dui daarop dat Antinoös hoofsaaklik as 'n welwillende godheid gesien is, wat sy aanbidders kon help en hulle van kwale kon genees.[111][112] Hy is ook gesien as 'n oorwinnaar van die dood, met sy naam en beeld wat dikwels in doodskiste ingesluit is.[113] In die weste is Antinoös geassosieer met die Keltiese songod Belenos. [114]

Antinoöpolis

[wysig | wysig bron]
2de eeuse grafportret wat twee mans van die kultus van Antinoös uitbeeld. Tempera-skildery op houtpaneel, tans in die Egiptiese Museum

Die stad Antinoöpolis is op die terrein van Hir-we opgerig. Alle vorige geboue is vernietig en vervang, met die uitsondering van die Tempel van Ramses II.[105] Hadrianus het ook politieke motiewe gehad vir die skepping van Antinoöpolis, wat die eerste Helleense stad in die Middel-Nyl-streek sou wees, wat dus as 'n bolwerk van die Griekse kultuur binne die Egiptiese gebied gedien het.[115] Om Egiptenare aan te moedig om hulle met hierdie ingevoerde Griekse kultuur te vereenselwig, het hy Grieke en Egiptenare in die stad toegelaat om te trou en toegelaat dat die hoofgod van Hir-we, Bes, voortgaan om in Antinoöpolis aanbid te word saam met die nuwe primêre godheid, Osiris-Antinoös.[116][117] Hy het Grieke van elders aangemoedig om hulle in die nuwe stad te vestig.[118] Die stad is ontwerp volgens 'n Hippodamiaanse rooster, wat tipies was van Helleense stede,[119] en is versier met kolomme en standbeelde van Antinoös, sowel as 'n tempel wat aan die godheid gewy is.[120]

Hadrianus het aangekondig dat spele in die lente van 131 by die stad gehou sou word ter herdenking van Antinoös. Dit het bekendgestaan as die Antinoeia, en is vir etlike eeue jaarliks gehou.[121] Die spele het atletiese kompetisies, strydwa- en ruiterwedrenne, en artistieke en musikale feeste ingesluit, met pryse soos burgerskap, geld en gratis lewenslange onderhoud.[122]

Antinoöpolis het voortgegaan om tot in die Bisantynse era te groei, en is met die bekering van die Ryk gekersten. Dit is egter vir eeue daarna geassosieer met towenary.[123] Deur die eeue is klip uit die Hadrianiese stad verwyder vir die bou van huise en moskees.[124] Teen die 18de eeu was die ruïnes van Antinoöpolis nog sigbaar, en dit is opgeteken deur Europese reisigers soos die Jesuïete-sendeling Claude Sicard in 1715 en die landmeter Edme-François Jomard in ongeveer 1800.[125] In die 19de eeu is Antinoöpolis egter byna heeltemal vernietig deur plaaslike industriële produksie, aangesien die kryt en kalksteen verbrand is vir poeier terwyl klip gebruik is in die bou van 'n nabygeleë dam en suikerfabriek.[126]

'n Uitgrawing van die stad in die vroeë twintigste eeu het 'n relatief realistiese begrafnistondo aan die lig gebring wat op hout geverf is. Alhoewel die mans in die portret tradisioneel as broers geïdentifiseer word, word daar bespiegel dat hulle minnaars is. Die rede hiervoor is dat daar agter die baardlose figuur 'n uitbeelding van Antinoös-Osiris is, die enigste blywende voorstelling van 'n standbeeld van die vergoddelikte jong man.[127]

Die verspreiding van die kultus

[wysig | wysig bron]
Die "Lansdowne Antinoös" is gevind by Hadrianus se Villa in 1769 (Fitzwilliam Museum, Cambridge)

Hadrianus was gretig om die kultus van Antinoös regdeur die Romeinse Ryk te versprei.[91] Hy het gefokus op die verspreiding daarvan binne die Griekse gebiede, en in die somer van 131 het hy deur hierdie gebiede gereis om dit te bevorder deur Antinoös aan te bied in 'n gesinkretiseerde vorm saam met die meer bekende godheid Hermes.[128] Op 'n besoek aan Trapezus in 131 het hy die fondament van 'n tempel ingewy wat gewy was aan Hermes. Die godheid is waarskynlik as Hermes-Antinoös vereer.[129] Alhoewel Hadrianus verkies het om Antinoös met Hermes te assosieer, is hy regdeur die Ryk baie wyer gesinkretiseer met die god Dionysus.[130][131] Die kultus het ook deur Egipte versprei, en binne 'n paar jaar na sy totstandkoming is altare en tempels vir die god opgerig in Hermopolis, Alexandrië, Oxyrhynchus, Tebytnis, Lykopolis, en Luxor .[128]

Die kultus van Antinoös was nooit so groot soos dié van goed gevestigde gode soos Zeus, Dionysus, Demeter, Asklepios, of selfs so groot soos dié van ander kultusse wat in daardie tyd in gewildheid toegeneem het nie, soos Isis of Serapis. Dit was ook kleiner as die amptelike keiserlike kultus van Hadrianus self.[132] Maar dit het vinnig deur die Ryk versprei, met spore van die kultus wat in ten minste 70 stede gevind is.[132] Die kultus was die gewildste in Egipte, Griekeland, Anatolië en die kus van Noord-Afrika, maar 'n groot gemeenskap van aanbidders het ook in Italië, Spanje en Noordwes-Europa bestaan.[112] Artefakte ter ere van Antinoös is gevind in 'n gebied wat strek van Brittanje tot die Donau.[112]

Alhoewel die aanneming van die kultus van Antinoös in sommige gevalle gedoen is om Hadrianus te behaag,[94] maak die bewyse dit duidelik dat die kultus ook werklik gewild was onder die verskillende samelewingsklasse in die Ryk. [133][134] Argeologiese vondste dui daarop dat Antinoös in beide openbare en private omgewings aanbid is.[112][135] In Egipte, Athene, Masedonië en Italië sou kinders na die godheid vernoem word.[136] 'n Groot deel van die aanloklikheid van die kultus was dat Antinoös self eens 'n gewone mens was,[94] en dus meer herkenbaar was as baie ander gode.[137] Dit is egter ook moontlik dat sy kultus se krag ontleen is aan die ooreenkomste tussen Antinoös en die pragtige jong manlike onsterflike figure uit die Grieks-Romeinse panteon, soos Apollo, Dionysus en Silvanus, sowel as sterflike jeugdiges wat geliefd was deur die gode in klassieke mitologie soos Ganumedes, Hulas, Huakinthos en Narsissus,[138][139] en dat beelde van die sensuele jongeling denkbeeldige erotiese bande tussen hom en sy aanbidders veroorsaak het.[9] Hierdie kenmerke het ook voorgekom by die kultusse van Attis, Endumion, en Adonis.[140] Soos laasgenoemde is Antinoös nie net in Egipte nie, maar in Rome en Griekeland as 'n sogenaamde "sterwende-en-opkomende god" behandel.[141]

Antinoös as Aristaeus, uit die versameling van Kardinaal de Richelieu, tans by die Louvre

Ten minste 28 tempels is regdeur die Ryk gebou vir die aanbidding van Antinoös , hoewel die meeste redelik beskeie in ontwerp was; dié by Tarsos, Philadelphia en Lanuvium het bestaan uit 'n portiek met vier kolomme.[142] Dit is egter byna seker dat dié waarby Hadrianus direk betrokke was, soos by Antinoöpolis , Bithynion en Mantineia, grootser was, terwyl heiligdomme of altare vir Antinoös in die meeste gevalle in of naby die voorafbestaande tempels van die keiserlike kultus, of dié van Dionysus of Hermes, opgerig sou gewees het.[143] Aanbidders sou geloofsoffers aan die godheid gegee het by hierdie altare; daar is bewyse dat Antinoös geskenke van kos en drank in Egipte ontvang het, met drankoffers en offerandes wat waarskynlik algemeen in Griekeland was.[144] Priesters wat aan Antinoös gewy was, sou toesig gehou het oor hierdie aanbidding, met die name van sommige van hierdie individue wat in inskripsies oorleef het.[144] Daar is bewyse dat orakels by 'n aantal Antinoïese tempels teenwoordig was.[74] [144]

Beeldhouwerke van Antinoös was wydverspreid,[11] met Hadrianus wat waarskynlik 'n basiese model van Antinoös goedgekeur het vir ander beeldhouers om na te volg.[108][145] Hierdie beeldhouwerke is in groot hoeveelhede tussen 130 en 138 vervaardig, met skattings in die omgewing van ongeveer 2 000, waarvan ten minste 115 steeds bestaan.[146] Vier-en-veertig is in Italië gevind, waarvan die helfte by Hadrianus se Villa Adriana gevind is, terwyl 12 in Griekeland en Anatolië gevind is, en 6 in Egipte.[147] Meer as 31 stede in die Ryk, die meerderheid in Griekeland en Anatolië, het munte uitgereik wat Antinoös uitbeeld, [148] hoofsaaklik tussen die jare 134–35. Baie is ontwerp om as medaljes eerder as geldeenheid gebruik te word, sommige van hulle is doelbewus met 'n gaatjie gemaak sodat hulle aan die nek gehang kon word en as talisman gebruik kon word.[145][149] Die produksie van Antinoös-gebaseerde artefakte het ná die 130's afgeneem, hoewel sulke items vir etlike eeue steeds deur volgelinge van die kultus gebruik is.[150] Latere oorblyfsels van die kultus is grootliks terug te vind in die Oos-Romeinse Ryk, waar sy aanvaarding as deel van die panteon van gode beter ontvang is.[151]

Spele wat ter ere van Antinoös gehou is het in ten minste 9 stede plaasgevind, en het beide atletiese en artistieke komponente ingesluit.[152] Die spele by Bythynion, Antinoöpolis en Mantineia is nog teen die vroeë 3de eeu gehou, terwyl dié by Athene en Eleusis nog in 266–67 gehou is.[153] Gerugte het deur die Ryk versprei dat daar by Antinoös se kultussentrum in Antinoöpolis "heilige nagte" was wat gekenmerk is deur dronkenskap, wat miskien seksuele orgieë ingesluit het.[154] Die kultus van Antinoös het lank na Hadrianus se bewind voortgeduur.[155] Plaaslike munte wat sy beeltenis uitbeeld is steeds gedurende Caracalla se bewind geslaan, en hy is in 'n gedig opgeroep om die toetrede van Diocletianus te vier. [156] wat byna 'n eeu ná Antinoös se dood regeer het.[157]

Veroordeling en agteruitgang

[wysig | wysig bron]
Bronsmedalje wat geslaan is deur die stad Smyrna in omstreeks 117 en 138 n.C., gedurende die bewind van Hadrianus. Die agterkant of stert beeld 'n borsbeeld van Antinoös uit met die inskripsie ΑΝΤΙΝΟΟϹ ΗΡΩϹ (“Antinoös held”)

Die kultus van Antinoös is gekritiseer deur verskeie individue, beide heidene en Christene.[158][140] Kritici het volgelinge van ander heidense kultusse ingesluit, soos Pausanias,[159] Lucianus, en die keiser Julianus,[160] wat almal skepties was oor die apoteose van Antinoös, sowel as die Sibillynse orakels, wat oor die algemeen meer krities was oor Hadrianus.[136] Die heidense filosoof Celsus het dit ook gekritiseer weens die losbandige aard van sy Egiptiese aanhangers, met die argument dat dit mense tot immorele gedrag gelei het en dit op hierdie manier vergelykbaar was met die Christendom.[158] Bestaande voorbeelde van Christelike veroordeling van die Antinoïese kultusse is afkomstig van figure soos Tertullianus, Origenes, Hieronimus, en Epiphanios. Hulle het die godsdiens as 'n godslasterlike mededinger vir die Christendom beskou, en het daarop aangedring dat Antinoös bloot 'n sterflike mens was. Hulle het ook sy seksuele aktiwiteite met Hadrianus as immoreel veroordeel en aangevoer dat Hadrianus sy aanbidding deur vrees afgedwing het.[161][162]

Tydens die stryd tussen Christene en heidense aanbidders in Rome in die 4de eeu is Antinoös deur die heidense aanbidders geloof.[163] As gevolg hiervan het die Christelike digter Prudentius in 384 sy aanbidding veroordeel, terwyl 'n stel van sewe kontorniate uitgereik is wat Antinoös uitbeeld, gebaseer op die ontwerpe van dié wat in die 130's uitgereik is.[164] Baie beeldhouwerke van Antinoös is deur Christene vernietig, sowel as deur invallende barbaarse stamme, alhoewel dit in sommige gevalle daarna weer opgerig is; die standbeeld van Antinoös by Delphi is omgegooi en sy voorarms is afgebreek, voordat dit weer in 'n kapel elders opgerig is.[165] Baie van die beelde van Antinoös het aangebly in openbare plekke totdat die amptelike verbod op heidense godsdienste onder die bewind van keiser Theodosius in 391 uitgeroep is.[164]

In Romeinse beeldhouwerke

[wysig | wysig bron]
Die bestaande beeldhouwerke stel 'n deeglik-proporsionele liggaam ten toon, met neergeslane oë en dik, krullerige hare wat in die nek lê. Dit is 'n baie klassieke en, nie verbasend nie, tipies Griekse beeld. En dit is een wat veral familiêr bly as die argetipe van perfekte skoonheid. Antinoös was nie net die laaste heidense god nie; hy was die inspirasie vir die laaste glorieryke opbloei van klassieke kuns.
Uittreksel uit Elizabeth Speller se Following Hadrian: A Second-Century Journey through the Roman Empire[148]

Hadrianus "het hom tot Griekse beeldhouers gewend om die melancholiese skoonheid, onsekere en verleë houding, en lenige en sensuele aard van Antinoös lewend te hou," [166] en in die proses iets laat skep wat beskryf is as "die laaste onafhanklik Grieks-Romeinse kunswerk".[167] Daar word tradisioneel aanvaar dat al die werke geskep is tussen Antinoös se dood in 130 en dié van Hadrianus in 138, op die twyfelagtige gronde dat niemand anders sou belangstel om dit in gebruik te neem nie. Die aanname is dat amptelike modelle na provinsiale werkswinkels regoor die ryk uitgestuur is om gekopieer te word, met plaaslike variasies wat toegelaat is.[168] Daar is beweer dat baie van hierdie beeldhouwerke "kenmerke deel; soos 'n breë bors, 'n kop met deurmekaar krulle en 'n neergeslane blik, met die gevolg dat hulle dadelik herken kan word."[169]

Ongeveer honderd standbeelde van Antinoös is bewaar,[11] wat 'n merkwaardige feit is, indien in ag geneem word dat sy kultus die teiken was van intense vyandigheid deur Christene, van wie baie artefakte en tempels wat gebou is ter ere van die adolessent gevandaliseer en vernietig het.[112] In 2005 het die klassikus Caroline Vout gekonstateer dat meer beelde van Antinoös geïdentifiseer is as van enige ander figuur in die klassieke oudheid, met die uitsonderings van Augustus en Hadrianus.[170] Sy het ook beweer dat die Klassieke studie van hierdie Antinoös-beelde veral belangrik is vanweë sy "skaars mengsel" van "biografiese geheimsinnigheid en oorweldigende fisiese teenwoordigheid" .[170]

Lambert glo dat die beeldhouwerke van Antinoös "sonder twyfel een van die mees verhewe en ideale monumente vir pederastiese liefde deur die hele antieke wêreld bly", [171] en beskryf hulle ook as "die finale groot skepping van klassieke kuns".[172]

Daar is ook standbeelde in baie argeologiese museums in Griekeland, insluitend die Nasionale Argeologiese Museum in Athene en die argeologiese museums van Patras, Chalkis en Delphi. Alhoewel dit moontlik geïdealiseerde beelde kan wees, is dit toonbeelde van wat kontemporêre skrywers beskryf as Antinoös se buitengewone skoonheid.[74] Alhoewel baie van die beeldhouwerke onmiddellik herkenbaar is, bied sommige aansienlike variasie in terme van die soepelheid en sensualiteit van die houding en kenmerke, teenoor die rigiditeit van die tipiese manlike vorm. In 1998 is oorblyfsels by Villa Adriana ontdek wat argeoloë beweer het afkomstig is van Antinoös se graf, of 'n tempel vir hom,[173]alhoewel dit betwis word as gevolg van die nie-konklusiewe aard van die argeologiese oorblyfsels en die gebrek aan stawing deur patristiese bronne (Epiphanius, Clemens van Alexandrië), wat aandui dat Antinoös begrawe is by sy tempel in Antinoöpolis, die Egiptiese stad wat in sy naam gestig is.[174]

Ouderdom

[wysig | wysig bron]

Die algemene beeld van Antinoös is van 'n efebos-tiener [59] met 'n veronderstelde ouderdom van 18 of 19 jaar.[175] R. R. R. Smith stel voor dat die standbeelde van Antinoös gemoeid is met die uitbeelding van die werklike ouderdom van Antinoös by sy dood, en dat die derhalwe ouderdom meer waarskynlik "sowat dertien tot veertien" is.[176] 'n Efebos van agtien of negentien sal met volle skaamhare uitgebeeld word, terwyl die standbeelde van Antinoös hom uitbeeld as pre-puberaal, "sonder skaamhare en met versigtig voorgestelde sagte liesweefsel". Wat die argument betref dat die standbeelde van Antinoös sy werklike ouderdom uitbeeld, moet 'n mens onthou dat die standbeelde artistieke voorstellings is. Indien die standbeelde jonk voorkom, is dit dalk net hoe die kunstenaar hom voorgestel het. Die meeste van die kunstenaars het Antinoös nooit gesien nie en het hul werke op sketse en voorbeelde gebaseer. As die standbeelde geen skaamhare het nie, is dit net so waarskynlik dat die kunstenaar gedink het dat haarklonte onaantreklik is en dit óf gelos het óf dit liggies ingeverf het nadat die beeldhouwerk klaar was, aangesien byna alle Romeinse standbeelde geverf is.[177]

Historiografie

[wysig | wysig bron]

Die klassikus Caroline Vout het opgemerk dat die meeste van die tekste wat oor Antinoös se biografie handel, net kortliks oor hom uitbrei en ná Hadrianus geskryf is. Sy het derhalwe gekonstateer dat "die rekonstruksie van 'n gedetailleerde biografie onmoontlik is."[178] Die historikus Thorsten Opper van die Britse Museum het opgemerk dat "Byna niks van Antinoös se lewe bekend is nie, en die feit dat ons bronne met die verloop van tyd al hoe meer gedetailleerd raak, nie vertroue wek nie."[179] Antinoös se biograaf Royston Lambert het hierdie siening ondersteun en verklaar dat inligting oor Antinoös "altyd deur afstand besmet sal wees, soms deur vooroordeel en deur die kommerwekkende en eienaardige maniere waarop die vernaamste bronne oorgedra is aan ons."[42]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Die dag en maand van sy geboorte kom van 'n inskrywing op 'n tablet uit Lanuvium gedateer 136 n.C.; die jaar is onduidelik, maar Antinoös moes omtrent 18 gewees het toe hy verdrink het, die presiese datum en plek is self ook nie duidelik nie: maar dit was moontlik 'n paar dae voor 5 Oktober 1 n.C. toe Hadrianus die stad Antinoöpolis gestig het, moontlik op die 13de (die Nyl-fees) of meer waarskynlik die 24ste (die herdenking van die dood van Osiris). Sien Lambert 1984, p. 19 en elders.
  2. Birley 2000, p. 144.
  3. Danziger & Purcell 2006, p. 215.
  4. Speller 2003, p. 282.
  5. Renberg, Gil H.: Hadrian and the Oracles of Antinous (SHA, Hadr. 14.7); with an appendix on the so-called Antinoeion at Hadrian's Villa and Rome's Monte Pincio Obelisk, Memoirs of the American Academy in Rome, Vol. 55 (2010) [2011], 159–198; Jones, Christopher P., New Heroes in Antiquity: From Achilles to Antinoos (Cambridge, Massachusetts & Londen, 2010), 75–83; Bendlin, Andreas: Associations, Funerals, Sociality, and Roman Law: The collegium of Diana and Antinous in Lanuvium (CIL 14.2112) Reconsidered, in M. Öhler (ed.), Aposteldekret und antikes Vereinswesen: Gemeinschaft und ihre Ordnung (WUNT 280; Tübingen, 2011), 207–296.
  6. Speller 2003, p. 279.
  7. 7,0 7,1 Chisholm 1911, p. 286.
  8. Gómez 2019, p. 90.
  9. 9,0 9,1 Mark Golden (2011). "Mark Golden on Caroline Vout, Power and Eroticism" (PDF). The Ancient History Bulletin Online Reviews. 1: 64–66.
  10. Cassius Dio pp. 444–445 Roman History.
  11. 11,0 11,1 11,2 Gómez 2019, p. 230.
  12. 12,0 12,1 12,2 12,3 Cassius Dio, p. 447.
  13. 13,0 13,1 Lambert 1984, p. 15.
  14. R.R.R. Smith :Antinous: boy made god, 2018 p15
  15. 15,0 15,1 15,2 15,3 Lambert 1984, p. 19.
  16. "Antinoüs". Britannica. Encyclopædia Britannica, Inc. 15 Junie 2023.
  17. Jones 2010, p. 75.
  18. Lambert 1984, p. 20.
  19. Everitt 2010, p. 238.
  20. Danziger & Purcell 2006, p. 218.
  21. 21,0 21,1 Lambert 1984, pp. 20-21.
  22. Lambert 1984, pp. 21–22.
  23. 23,0 23,1 Lambert 1984, p. 22.
  24. Gómez 2019, p. 227.
  25. Aldrich & Wotherspoon 2000, p. 195.
  26. Lambert 1984, p. 60.
  27. Everitt 2010, p. xxiii.
  28. Lambert 1984, pp. 61–62.
  29. 29,0 29,1 29,2 Lambert 1984, p. 63.
  30. 30,0 30,1 Danziger & Purcell 2006, p. 204.
  31. Lambert 1984, p. 97.
  32. Lambert 1984, p. 30.
  33. Lambert 1984, p. 39.
  34. Danziger & Purcell 2006, pp. 216–217.
  35. Lambert 1984, pp. 90–93.
  36. Lambert 1984, p. 78.
  37. Speller 2003, pp. 280- 281.
  38. Lambert 1984, p. 59.
  39. 118 Fox, T. E. (2014). The Cult of Antinous and the Response of the Greek East to Hadrian's Creation of a God [Voorgraadse proefskrif, Ohio Universiteit].
  40. Jones 2010, p. 82.
  41. Lambert 1984, p. 65.
  42. 42,0 42,1 Lambert 1984, p. 48.
  43. Lambert 1984, pp. 73–74.
  44. 44,0 44,1 44,2 Lambert 1984, p. 71.
  45. Lambert 1984, pp. 71&ndash ;72.
  46. Lambert 1984, pp. 100–106.
  47. Cassius Dio pp. 444-445 Romeinse Geskiedenis.
  48. Speller 2003, p. 168.
  49. Lambert 1984, pp. 101–106.
  50. Everitt 2010, pp. xxiii-xxiv.
  51. Cassius Dio bl. 447 Romeinse Geskiedenis.
  52. Everitt 2010, pp. 279–280.
  53. Lambert 1984, pp. 110–114.
  54. Speller 2003, pp. 115-116.
  55. Lambert 1984, pp. 115–117.
  56. Speller 2003, p. 122.
  57. 57,0 57,1 Lambert 1984, pp. 118–121.
  58. Opper 1996, p. 173.
  59. 59,0 59,1 Lambert 1984, p. 24.
  60. Danziger & Purcell 2006, p. 185.
  61. Lambert 1984, pp. 55–57.
  62. Lambert 1984, pp. 60-61.
  63. 63,0 63,1 Fox, T. E. (2014). The Cult of Antinous and the Response of the Greek East to Hadrian's Creation of a God [Voorgraadse proefskrif, Universiteit van Ohio].
  64. A.R. Birley, Hadrianus: The Restless Emperor, 241; T. Opper, Hadrian: Empire and Conflict (Cambridge: Drukpers van Harvard-universiteit, 2008), 173.
  65. Efebe of Efebos (Grieks: ἔφηβος, meervoud: epheboi; Grieks: ἔφηβοι), verlatyns as ephebus (meervoud: ephebi) is 'n term wat gebruik is vir 'n manlike adolessent in oudgrieks. Die term is veral gebruik om iemand aan te dui wat militêre opleiding ondergaan en voorbereidings tref om 'n volwassene te word. Efeboi uit Athene (tussen 18 tot 20 jaar) het vanaf ongeveer 335 v.C. twee jaar militêre opleiding onder toesig ondergaan, waartydens hulle van burgerlike pligte vrygestel is en van die meeste burgerregte ontneem is. Gedurende die 3de eeu v.C. was die tipe diensplig nie meer verpligtend nie en die tydsduur daarvan is tot een jaar verminder. Teen die 1ste eeu v.C. het die diensplig 'n instelling geword wat gereserveer is vir ryk individue en benewens militêre opleiding, het dit ook filosofiese en letterkundige studies ingesluit
  66. D.R. Cartlidge, D.L. Dungan, Documents for the Study of the Gospels, 195; R. Lambert, Beloved and God: The Story of Hadrian and Antinous, 60.
  67. 67,0 67,1 Aldrich & Wotherspoon 2000, p. 26.
  68. Lambert 1984, pp. 121, 126.
  69. 69,0 69,1 Boatwright 2000, p. 190.
  70. Lambert 1984, p. 126.
  71. Gregorovius 1898, p. 132.
  72. Speller 2003, p. 146.
  73. Everitt 2010, p. 292.
  74. 74,0 74,1 74,2 74,3 Aelius Spartianus, p. 44.
  75. 75,0 75,1 Syme 1988, p. 164.
  76. Lambert 1984, pp. 127– 128.
  77. Lambert 1984, p. 128.
  78. 78,0 78,1 Everitt 2010, p. 287.
  79. Gregorovius 1898, p. 131.
  80. Speller 2003, p. 289.
  81. Lambert 1984, p. 129.
  82. Speller 2003, pp. 291-292.
  83. Lambert 1984, p. 130.
  84. 84,0 84,1 Vassilika 1998, p. 114.
  85. Speller 2003, p. 183.
  86. "Hadrian". Britannica. Encyclopædia Britannica, Inc. 6 Julie 2023.
  87. 87,0 87,1 Lambert 1984, pp. 130–141.
  88. 88,0 88,1 Speller 2003, p. 159.
  89. Speller 2003, p. 148.
  90. 90,0 90,1 Lambert 1984, pp. 144–145.
  91. 91,0 91,1 Ritner 1998, p. 13.
  92. Danziger & Purcell 2006, p. 258.
  93. Lambert 1984, pp. 146, 149.
  94. 94,0 94,1 94,2 94,3 Speller 2003, p. 160.
  95. Lambert 1984, pp. 146–147.
  96. Vout, Caroline, Power and eroticism in Imperial Rome, geïllustreer, Drukpers van die Universiteit van Cambridge, 2007. ISBN 0-521-86739- 8, pp. 52–135.
  97. Hadrianus se "Hellenistese" ontroering word weerspieël in die Homeriese Achilles se rou oor sy vriend Patroclus
  98. Lambert 1984, p. 177.
  99. Lambert 1984, pp. 150–151.
  100. Lambert 1984, p. 153.
  101. Speller 2003, p. 162.
  102. Speller 2003, p. 299.
  103. Lambert 1984, p. 155.
  104. Lambert 1984, pp. 158–160.
  105. 105,0 105,1 Lambert 1984, p. 149.
  106. Lambert 1984, p. 148.
  107. Lambert 1984, pp. 148, 163–164.
  108. 108,0 108,1 Lambert 1984, p. 165.
  109. Gregorovius 1898, pp. 307-308.
  110. Lambert 1984, pp. 178–179.
  111. Lambert 1984, p. 181–182.
  112. 112,0 112,1 112,2 112,3 112,4 Skinner 2013, p. 334.
  113. Lambert 1984, p. 181.
  114. Craig A. Williams, Roman Homosexuality : Ideologies of Masculinity in Classical Antiquity. Drukpers van die Universiteit van Oxford: 1999, ISBN 978-0-19-511300-6, pp. 61
  115. Lambert 1984, pp. 148-150.
  116. Lambert 1984, p. 150.
  117. "Antinoöpolis". Britannica. Encyclopædia Britannica, Inc.
  118. Lambert 1984, p. 199.
  119. Speller 2003, p. 163.
  120. Lambert 1984, pp. 200–202.
  121. Boatwright 2000, p. 193.
  122. Lambert 1984, pp. 149, 205.
  123. Lambert 1984, pp. 199–200, 205–206.
  124. Lambert 1984, p. 206.
  125. Lambert 1984, p. 198.
  126. Lambert 1984, p. 207.
  127. Mambella 2008, pp. 146-147.
  128. 128,0 128,1 Lambert 1984, p. 152.
  129. Lambert 1984, p. 162.
  130. Lambert 1984, p. 180.
  131. Speller 2003, p. 277.
  132. 132,0 132,1 Lambert 1984, p. 184.
  133. Lambert 1984, pp. 190–191.
  134. Danziger & Purcell 2006, p. 261.
  135. Jones 2010, p. 81.
  136. 136,0 136,1 Lambert 1984, p. 192.
  137. Lambert 1984, pp. 177&ndash ;178.
  138. Vout 2005, p. 83.
  139. Vout 2007, p. 100–106.
  140. 140,0 140,1 Danziger & Purcell 2006, p. 260.
  141. Vout 2007, p. 111.
  142. Lambert 1984, pp. 185-186.
  143. Lambert 1984, pp. 184–185.
  144. 144,0 144,1 144,2 Lambert 1984, p. 186.
  145. 145,0 145,1 Vermeule 1979, p. 95.
  146. Lambert 1984, pp. 189–190.
  147. Lambert 1984, p. 188.
  148. 148,0 148,1 Speller 2003, p. 161.
  149. Lambert 1984, p. 189.
  150. Lambert 1984, p. 194.
  151. Wong, Desmond (2013). "Antinous: Van die Pederastiek tot die Goddelike".
  152. Lambert 1984, p. 187.
  153. Lambert 1984, p. 195.
  154. Lambert 1984, pp. 186–187.
  155. see Trevor W. Thompson "Antinoos, The New God: Origen on Miracle and Belief in Third Century Egypt" for the persistence of Antinous's cult and Christian reactions to it. Freely available. The relationship of P. Oxy. 63.4352 with Diocletian's accession is not entirely clear.
  156. Vout 2007, p. 89.
  157. "Diocletian". Britannica. Encyclopædia Britannica, Inc. 8 September 2023.
  158. 158,0 158,1 Lambert 1984, pp. 192–193.
  159. Pausanias, Beskrywing van Griekeland, 8.9.7 en 8.9.8
  160. Gregorovius 1898, p. 312.
  161. Lambert 1984, pp. 193–194.
  162. Jones 2010, p. 78.
  163. Lambert 1984, pp. 6-7, 196-197.
  164. 164,0 164,1 Lambert 1984, p. 196.
  165. Lambert 1984, pp. 195–196.
  166. Wilson 1998, p. 440.
  167. Vout 2007, p. 72.
  168. Vout 2007, pp. 77–78.
  169. Waters 1995, p. 198.
  170. 170,0 170,1 Vout 2005, p. 82.
  171. Lambert 1984, p. 80.
  172. Lambert 1984, p. 209.
  173. Mari, Zaccaria en Sgalambro, Sergio: "The Antinoeion of Hadrian's Villa: Interpretation and Architectural Reconstruction", American Journal of Archaeology, Vol. 111, No. 1, Januarie 2007,
  174. Renberg, pp. 181–191.
  175. "Ephebic". Merriam-Webster. Besoek op 25 Maart 2022.
  176. Antinous: boy made god Ashmolean-museum, Universiteit van Oxford, 2018. ISBN 978-1-910807-27-9 p. ####
  177. Brinkmann, Vinzenz, en Raimund Wünsche, reds. Color of the Gods: Painted Sculpture in Classical Antiquity. München: Stiftung Archäologie, 2007.
  178. Vout 2007, p. 54.
  179. Opper 1996, p. 170.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Antieke literêre bronne

[wysig | wysig bron]

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]