Babin Jar (Oekraïens: Бабин Яр) of Babi Jar (Russies: Бабий Яр) is 'n kloof of ravyn in die Oekraïense hoofstad, Kijif, en 'n terrein waar Nazi-Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog in sy veldtog teen die Sowjetunie massaslagtings uitgevoer het. Die eerste en bes gedokumenteerde slagting het op 29-30 September 1941 plaasgevind toe omtrent 33 771 Jode vermoor is as deel van 'n veldtog om al die Jode van Kijif uit te wis.
Dit was die grootste massamoord onder die Nazi's en hulle Oekraïense meelopers in die veldtog teen die Sowjetunie,[1] en dit word "die grootste enkele slagting in die geskiedenis van die Holocaust" tot in daardie stadium genoem.[2] Dit is net oortref deur die latere Odessa-slagting van meer as 50 000 Jode in Oktober 1941 (deur Duitse en Roemeense soldate) en deur Aktion Erntefest van November 1943 in die besette Pole met 42 000 tot 43 000 slagoffers.[3]
Slagoffers van ander slagtings op die terrein sluit in Sowjetse oorlogsgevangenes, kommuniste, Oekraïense nasionaliste en Roma.[4][5][6] Tussen 100 000 en 150 000 mense is raming tydens die Duitse besetting by Babin Jar vermoor.[7]
Die Babin Jar-kloof word in 1401 die eerste keer in historiese rekords genoem, in verband met die verkoop daarvan deur 'n baba ("ou vrou"), wat ook die cantinière ("marketenter" of "smous") van die Dominikaanse klooster was.[8] Die woord "jar" is van Turkse oorsprong en beteken "kloof" of "ravyn". Die terrein is deur verskeie eeue vir verskillende doeleindes gebruik, insluitende militêre kampe en minstens twee begraafplase, 'n Oosters-Ortodokse en Joodse begraafplaas.
Die Spilmoondhede, hoofsaaklik Duitsland, het Kijif op 19 September 1941 beset. Tussen 20 en 28 September het plofstof wat deur die Sowjetse geheime diens geplant is, aansienlike skade in die stad aangerig en op 24 September het 'n ontploffing die Agterhoedehoofkwartier Leërgroep Suid geruk.[9] Twee dae later, op 26 September, het generaal-majoor Kurt Eberhard, die militêre goewerneur, en SS-Obergruppenführer Friedrich Jeckeln, die SS- en polisiehoof, vergader en besluit om die Jode van Kijif uit te wis, glo as weerwraak vir die ontploffing.[10] Ook teenwoordig was SS-Standartenführer Paul Blobel, aanvoerder van Sonderkommando 4a van Einsatzgruppe C, en sy hoof, SS-Brigadeführer dr. Otto Rasch, bevelvoerder van Einsatzgruppe C. Die massamoord sou uitgevoer word deur eenhede onder bevel van Rasch en Blobel, wat in die somer en herfs van 1941 vir baie gruweldade in Sowjet-Oekraïne verantwoordelik was.
Die uitvoering van die opdrag is toevertrou aan Sonderkommando 4a onder Blobel, onder aanvoering van Jeckeln.[11]
Op 26 September 1941 is die volgende bevel oral in Kiëf opgeplak:
Alle Jode van die stad Kiëf en omgewing moet op Maandag 29 September teen agtuur die oggend op die hoek van Melnikowa- en Dokterifskaja-straat (naby die Wijiskowe-begraafplaas) bymekaarkom. Bring dokumente, geld en waardevolle artikels, asook warm klere, beddegoed, ens. Enige Jode wat nie die bevel gehoorsaam nie en elders aangetref word, sal geskiet word. Enige burgerlikes wat die huise wat Jode agterlaat, binnegaan en goed daarin vat, sal geskiet word.
Op 29 en 30 September 1941 het die Nazi's en hulle meelopers sowat 33 771 Joodse burgers by Babin Jar vermoor.[13][14][15] Volgens die getuienis van 'n vragmotorbestuurder met die naam Hofer is slagoffers aangesê om hulle klere uit te trek en dié wat geweier het, is geslaan.[16] Die Jode het verder opdrag gekry om al hulle besittings op hopies neer te sit. Die skare was so groot dat die slagoffers nie sou besef het wat aangaan voordat dit te laat was nie. Teen die tyd dat hulle die masjiengeweervuur gehoor het, was daar geen kans om te ontsnap nie. Almal is tien-tien deur 'n kolom soldate gestuur en dan geskiet.
Volgens die vragmotorbestuurder is die naakte slagoffers na die kloof gelei wat sowat 150 m lank, 30 m breed en 15 m diep was. Wanneer hulle onder in die kloof gekom het, is hulle deur lede van die Schutzpolizei gegryp en bo-op ander Jode, wat reeds geskiet was, laat lê. Die lyke was letterlik in lae. 'n Polisieskutter sou elke Jood met 'n masjiengeweer in die nek skiet. "Ek het gesien hoe hierdie skutters op lae lyke staan en die een ná die ander skiet ... Die skutter sou oor die lyke van die tereggestelde Jode loop na die volgende Jood, wat intussen gemaak lê is, en hom skiet."[12]
Dié aand is die sloot toegegrawe en die mense is onder dik lae grond begrawe.[17] Die Jode se geld, klere en waardevolle artikels is daarna aan plaaslike etniese Duitsers en die stad se Nazi-administrasie gegee.[18] Gewonde slagoffers is lewend begrawe saam met die dooies.[19][20]
In die daaropvolgende maande is nog duisende mense in hegtenis geneem, na Babin Jar gevat en daar geskiet. Na raming is meer as 100 000 Kijifse inwoners van alle etniese groepe,[21][22] meestal burgerlikes, in die oorlog daar deur die Nazi's vermoor.[13][23] 'n Konsentrasiekamp is ook in die gebied gebou.
Massateregstellings by Babin Jar het voortgeduur totdat die Nazi's aan die stad Kijif onttrek het. Op 10 Januarie 1942 is sowat 100 gevange Sowjetse matrose daar tereggestel nadat hulle gedwing is om die liggame van vorige tereggesteldes te veras. Ook die inwoners van vyf sigeunerkampe is daar vermoor. Pasiënte van 'n psigiatriese hospitaal is vergas en hulle lyke is in die kloof gegooi. Ook duisende ander Oekraïners is daar tereggestel.[24] Onder hulle was 621 lede van die Organisasie van Oekraïense Nasionaliste.[5]
Ná die Sowjetse bevryding van Kijif in 1943 het amptenare Westerse joernaliste na die terrein geneem en hulle toegelaat om onderhoude met oorlewendes te voer. Onder hulle was Bill Lawrence van The New York Times en Bill Downs van CBS. Downs beskryf in 'n berig vir Newsweek wat 'n oorlewende, Efim Wilkis, aan hom vertel het. Volgens Wilkis is Russiese oorlogsgevangenes gedwing om brandstapels so hoog soos 'n dubbelverdiepinghuis te bou waarop sowat 1 500 lyke op 'n slag verbrand is. Dié verassing het 40 dae lank geduur. Die gevangenes, teen dié tyd 341, het toe opdrag gekry om nog 'n brandstapel te bou. Omdat daar geen lyke meer oor was nie, het hulle besef die laaste brandstapel is vir hulle. Hulle het probeer vlug, maar is geskiet en net sowat 'n dosyn het weggekom.[25]
Ramings van die totale aantal mense wat tydens die Nazi-besetting by Babin Jar vermoor is, wissel. Die Sowjetse aanklaer L.N. Smirnof het in 1946 by die Neurenberg-verhore beweer daar lê sowat 100 000 lyke in Babin Jar, na aanleiding van materiaal van 'n spesiale staatskommissie wat die Nazi's se misdade ondersoek het ná die bevryding van Kijif in 1943.[23][26] Die raming van werkers wat die lyke moes verbrand, wissel van 70 000 tot 120 000.
In 'n brief aan die Israeliese joernalis en skrywer Shlomo Even-Shoshan van 17 Mei 1965, wat onlangs gepubliseer is, sê die Russiese skrywer Anatoly Kuznetsov oor Babin Jar:
In die twee jaar daarna is Oekraïners, Russe, sigeuners en mense van alle nasionaliteite in Babin Jar vermoor. Die mening dat Babin Jar 'n uitsluitlik Joodse graf is, is verkeerd... Dit is 'n internasionale graf. Niemand sal ooit weet hoeveel mense daar begrawe is en van watter nasionaliteite hulle was nie, want 90% van die lyke is verbrand en hulle as is in klowe en oor velde verstrooi.[27]
Voordat die Nazi's aan Kijif onttrek het voor die Sowjet-aanval van 1944, het hulle opdrag van die bevelvoerder Wilhelm Koppe gekry om hulle misdade in die ooste te verdoesel. Paul Blobel, wat twee jaar tevore in beheer van die massamoorde by Babin Jar was, het die Sonderaktion 1005 gebruik om die spore van die slagtings dood te vee. Die Aktion is vroeër in alle doodskampe uitgevoer. Die lyke is opgegrawe en verbrand, en die as is oor landerye in die omgewing verstrooi.[28][29]
Ná die oorlog is verskeie SS-bevelvoerders wat by die slagting betrokke was, in hegtenis geneem en verhoor. Paul Blobel is by Neurenberg ter dood veroordeel en is op 7 Junie 1951 by die Landsberg-gevangenis gehang.[30] Otto Rasch is in dieselfde verhoor aangekla, maar sy verhoor is gestaak weens gesondheidsredes, en hy is in 1948 in die tronk dood. Friedrich Jeckeln is in Riga verhoor, ter dood veroordeel en op 3 Februarie 1946 gehang. Kurt Eberhard is deur Amerika in hegtenis geneem, maar het in 1947 selfmoord gepleeg terwyl hy in aanhouding was.
In Januarie 1946 is 15 voormalige lede van die Duitse polisiemag in Kijif verhoor vir hulle aandeel in die slagting.[13] In 1967 is 11 mans in Darmstadt aangekla van deelname aan die slagting. Sewe is skuldig bevind en het tronkstraf gekry.[31] In 1971 is nog drie in Regensburg verhoor.[32] Verreweg die meeste oortreders is nooit vir hulle rol in die slagting verhoor nie.[33]
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link) Geargiveer 12 Januarie 2010 op Wayback Machine Літакцент, 2007-2009.